Regering hou vol VAE-besoek was legitiem

Pres. Mohamed bin Zayed al-Nahyan (Foto: AJENG DINAR ULFIANA/POOL/AFP)

Die Suid-Afrikaanse regering hou vol dat daar niks verdags of onbehoorliks aan die omstrede besoek van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se president en sy gevolg óf hul landing by die lughawe op Bisho in die Oos-Kaap is nie.

Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, en ander ministers moes Vrydag tydens ʼn mediakonferensie bontstaan nadat ʼn herrie ontstaan het oor die wettigheid van dié landing by die Belumbu-lughawe, wat in onbruik staan.

Maroela Media het vroeër berig dat pres. Mohamed bin Zayed al-Nahyan en sy gevolg, volgens berigte sowat 500 mense, verlede week by dié lughawe in die Oos-Kaap geland het nadat die VAE glo R20 miljoen betaal het om die lughawe op te knap.

Khuselwa Rantjie, woordvoerder van die Oos-Kaapse regering, het toe gesê daar is aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, geskryf om te versoek dat die Bhisho-lughawe as ’n tydelike hawe van binnekoms geklassifiseer word. Volgens Rantjie is dié versoek behoorlik goedgekeur en het die lughawe aan die immigrasiewette van die land voldoen.

Saam met Ntshavheni op die paneel Vrydag was die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, die minister van landbou, Thoko Didiza, die minister van polisie, Bheki Cele, die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, en die minister van verdediging, Thandi Modise.

Ntshavheni het gesê hoewel daar ʼn “reeks bespiegelings” oor die voorbereiding vir hierdie “gesiene gas” aan Suid-Afrika is, is dié VAE-leier se besoek voorafgegaan deur formele diplomatieke korrespondensie van die VAE aan die departement van internasionale betrekkinge en samewerking.

In dié korrespondensie het pres. Mohamed bin Zayed al-Nahyan dit glo duidelik gestel dat hy van voorneme is om Suid-Afrika in sy private hoedanigheid te besoek, ʼn groot gevolg saam met hom gaan bring en dat hulle by ʼn wildreservaat in die Oos-Kaap sal bly wat deur hom besit word.

“Die formele korrespondensie het die bal aan die rol gesit vir Suid-Afrika se voorbereidings om hoflikheid en dienste aan die president en sy gevolg te bied in ooreenstemming met die internasionaal erkende gasheerbepalings wat lande aan staatshoofde en ander op ’n wedersydse grondslag bied,” sê Ntshavheni.

Oor vrae waarom binnelandse sake slegs 60 visums vir die 500 mense uitgereik het, het Ntshavheni gesê dat die meeste van die besoekers paspoorte het van lande waarmee Suid-Afrika visumvrye reisreëlings het.

“Suid-Afrikaners is reg om waaksaam te wees oor sulke sake, maar ons waaksaamheid moet ons nie na die ergste aannames en gevolgtrekkings oor ons land of hierdie administrasie laat spring nie,” het Ntshavheni benadruk. Sy het voorts gesê dit is algemeen dat staatshoofde en regeringsamptenare Suid-Afrika privaat besoek.

Sy het ook gesê dat daar geen rede is om ʼn openbare aankondiging te maak voordat staatshoofde van ander lande Suid-Afrika privaat besoek nie.

Ntshavheni het bygevoeg dat die departement van vervoer alle kanale gevolg het sodat die vliegtuig in Bisho kan land. Sy voer ook aan dat die besoekers se dokumente met hul aankoms by die lughawe volledig deur immigrasiedienste nagegaan is. Die polisie en doeanebeamptes was glo ook op die lughawe om hul pligte uit te voer, en dit sal volgens Ntshavheni ook die geval wees wanneer hulle weer vertrek.

“Suid-Afrika verwelkom die persoonlike besoek aan die Oos-Kaap deur die president van die VAE, wie se belang in en waardering van ons land ’n belangrike onderskrywing is van ons land se aantreklikheid as ’n bestemming en vennoot vir beleggings, handel en toerisme,” het Ntshavheni afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.