Regering kan lugbesoedeling nie meer akkuraat meet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Ella Ivanescu/Unsplash)

Al meer kontrolestasies wat lugbesoedeling in die land moet meet, raak onklaar en tans werk net ʼn vyfde van dié stasies landwyd ten volle.

Dié inligting is tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie van die parlementêre portefeulje komitee vir omgewingsake bekend gemaak.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het op Hannah Shameema Winkler, DA-LP, se vraag gereageer oor die toestand van die land se netwerk wat luggehalte kontroleer.

Winkler het aan Maroela Media bevestig die departement moet nog aandui in watter provinsies die onderskeie kontrolestasies is.

Volgens die departement is daar tans 130 stasies wat deur die regering beheer word. Van dié is 21 glad nie in ʼn werkende toestand nie.

ʼn Verdere 84 stasies werk nog, maar volgens die departement is die data wat verskaf word, gebrekkig. Dit laat dus 25 stasies oor wat nog in ʼn volle werkende toestand is.

Daarbenewens is die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) tans nog besig om reserwe kragbronne te installeer by soortgelyke kontrolestasies in die hoë-prioriteitsgebied op die Hoëveld, wat onder sy beheer val.

Volgens Winkler is dié gebied veral vir erge lugbesoedeling bekend.

“Die Wet op Luggehalte vereis dat lugbesoedeling gemeet en voldoende verslag daaroor gelewer moet word om mense se gesondheid te beskerm.”

“Die regering se onvermoë om hierdie belangrike infrastruktuur in stand te hou, is ʼn direkte bedreiging vir openbare gesondheid en veiligheid.”

Die departement van omgewingsake het aan Maroela Media gesê die werking van hierdie stasies word gekniehalter deur sporadiese diefstal van infrastruktuur, sowel as onvoldoende kragvoorsiening, wat vererger word deur beurtkrag.

Peter Mbelengwa, woordvoerder van die departement, sê verskeie maatreëls is getref om te verseker dat hierdie stasies na behore werk en dat data wat van hierdie stasies verkry word, akkuraat is. Dit sluit in die skuif van stasies wat deur vandalisme bedreig word na veiliger plekke en die voorsiening van rugsteunkrag om te verseker stasies kan werk tydens beurtkrag.

Volgens Mbelengwa is ʼn nasionale ingrypingsplan ook tot stand gebring, wat behels dat die SAW die bestuur van enkele stasies by die regering oorneem. “Dié instansie het tans die tegniese kapasiteit om dit te doen. Die departement werk ook met privaatsektor saam deur data wat deur stasies in private besit ingevorder word, by die Suid-Afrikaanse luggehalte inligtingstelsel te voeg. Tans lewer 60 private stasies verslag aan die nasionale stelsel.”

‘Toksiese lug’ in Pietermaritzburg

Foto ter illustrasie. (Foto: David Ryder/Getty Images/AFP)

Die DA het intussen ook aan die Groen Skerpioene geskryf oor toksiese lugbesoedeling wat glo deur FFS Refiners in Mason Hill, Pietermaritzburg, vrygestel word. Dit volg na afloop van ʼn besoek deur die DA aan die omgewing rondom die raffinadery, waar inwoners kla oor ʼn “petro-chemiese” reuk wat vermoedelik deur die raffinadery afgegee word. Dié reuk, sê inwoners, benadeel gemeenskappe se gesondheid nou al jare lank.

Die DA sê hy is in besit van verskeie beëdigde verklarings van inwoners oor beweerde toksiese lugbesoedeling wat verskeie gesondheidskwale tot gevolg het. “Ons is ook in besit van ʼn verslag wat deur die Msunduzi-munisipaliteit aangevra is, wat met inwoners se klagtes ooreenstem,” sê Winkler. Dié verslag is deur die e-neus-projek saamgestel, wat ten doel het om reuke wat verband hou met vlakke van lugbesoedeling te monitor.

“Inwoners kla ook dat hulle die Msunduzi-munisipaliteit nou al herhaaldelik gevra het om in te gryp en inligting te verskaf omtrent ʼn hofsaak tussen dié munisipaliteit en die raffinadery.”

Die DA sal nou ook aan die uMgungundlovu-distriksmunisipaliteit skryf en druk op die provinsiale departement van omgewingsake plaas om ondernemings wat nie voldoen aan die omgewingswette wat besoedeling betref nie, se lisensies terug te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.