Regstappe dreig ná BL-onnies glo nie inentings mag kry nie

Verskeie beheerliggaamonderwysers is glo by inentingstasies weggewys. (Argieffoto: Unsplash)

Solidariteit se Onderwysgilde het die departement van basiese onderwys met regstappe gedreig nadat ’n aantal beheerliggaamonderwysers glo by inentingstasies weggewys is omdat hulle nie deur die departement aangestel is nie.

Maroela Media het onlangs berig die departement mik om 582 000 mense in dié sektor te bereik. Alle onderwysers en steunpersoneel in die openbare sektor sal volgens die departement ingeënt word, onder wie onderwysers wat beheerliggaamposte beklee.

Die gilde sê egter dat daar onregmatig teen beheerliggaamonderwysers gediskrimineer word en eis dat die ongelyke behandeling van dié onderwysers summier gestaak word.

“Die Grondwet stel dit baie duidelik dat almal gelyk is voor die reg. Deur beheerliggaamonderwysers weg te wys, diskrimineer die staat dus teen dié onderwysers en ontsê hy hulle hul reg om ʼn inenting te ontvang. Ons dring daarop aan dat die departement die weerhouding van entstowwe van beheerliggaamonderwysers onmiddellik sal staak, asook skriftelik sal onderneem dat entstowwe aan beheerliggaamonderwysers wat kies om dit te ontvang, toegedien sal word,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor by Solidariteit.

Solidariteit sê hy sal nie skroom om met regstappe voort te gaan nie indien hy nie teen 7 Julie ’n skriftelike onderneming van die departement ontvang wat stel dat beheerliggaamonderwysers teen 9 Julie inentings mag kry nie.

“Die staat mag in geen omstandighede ’n onderskeid tussen beheerliggaam- en departementele onderwysers rakende inentings tref en dan beheerliggaamonderwysers op grond daarvan benadeel nie. Die departement kan ook nie die skuld op sy onvermoë of ondoeltreffende stelsels pak om diskriminasie te pleeg nie.

“Beheerliggaamonderwysers het dieselfde blootstelling as ander onderwysers, daarom het hulle die reg om dieselfde beskerming te geniet. Dié uitsluiting deur die departement sal nie langer geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Agge nee ·

Die heel hartseerste is dat hierdie mense wat weier om ons wat die SGB poste en privaatskole se poste beklee, vergeet ons hou vir hulle eie kinders skool. ‘Cut your nose……..

Jinksie ·

As hulle dom is is hulle dom. Ek bedoel die mense vir wie se kinders skool gee. Onthou party van dààrdie mense stem ANC

agnes ·

As jy slim is vat jy geen entstof nie. Die entstof is n nagemaakte virus met erge nagevolge, selfs na jare. Oppas, hierdie is n mediese opinie.

tweeling ·

Haha jy is regtig snaaks, miskien moet jy saam met Trevor Noah werk hy is baie goed met grappies vertel. Onthou jy kan tot 6 maande gratis in die tronk bly as jy fop nuus versprei

david ·

Alle sukses Solidariteit–maar onthou gerus hoedat die aansoeke om hulp van Blanke beheerde toerisme bestemmings tydens die eerste inperking geweier is. Regter Kollapen het beveel dat slegs toerisme bestemmings 51% in swart beheer moet wees om in aanmerking te kom vir hulp…..
Hierdie beleid is sedertdien weereens deur die dept bevestig.

As die owerhede en die hof destyds nie kon onderskei tussen reg en verkeerd nie, is die kanse maar skraal dat hulle dit nou gaan doen..
Daar is waarskynlik ‘n geheime plan daaragter…
Ons hou egter duimvas….

Riette ·

Wat is die naam van die mens wat hierdie besluit geneem het – ek sou baie graag die logika wou aanhoor. Ongelooflik dat iets so ooglopendd soos die nou weer hoftyd moet opneem.

Stof ·

Hierdie besluit is dalk ‘n bedekte seën en voorsiening om die bestuursliggaam onderwysers te red van ‘n doodsvonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.