Regstappe kom ná jong man sy been verloor weens ‘nalatigheid’

Rynard de Waal Silver, Elizma Visser, Ermelo, hospitaal, ongeluk, mediese nalagtigheid

Rynard de Waal Silver (19) is kort ná sy ongeluk in die Ermelo-provinsiale hospitaal in Mpumanlanga opgeneem. (Foto: Verskaf)

Die een oomblik was haar seun nog jonk en lewenslustig.

Maar ná hy sy been verloor het, glo oor ʼn wond wat septies geraak het in ʼn staatshospitaal, sukkel hy met depressie.

Elizma Visser sug diep wanneer sy vertel van daardie dag toe haar seun, Rynard de Waal Silver, op 19-jarige ouderdom sy been verloor het.

Visser voel De Waal se been kon gered gewees het, was dit nie vir die nalatigheid van die Ermelo- provinsiale hospitaal in Mpumalanga nie. Daarom dat hulle nog regstappe teen die provinsiale departement van gesondheid wil neem.

Silver was op 7 Desember verlede jaar in ʼn motorfietsongeluk betrokke.

“Al wat hy kan onthou van die ongeluk is dat hy die een oomblik nog op sy motorfiets was en die volgende onder ʼn bakkie,” sê Visser.

Sy is ʼn enkelma en woon in Pretoria. Dit was daarom vir haar ʼn reuseskok toe sy die oproep ontvang.

In daardie stadium het Silver se werkgewer na hom gesoek toe hy nie by die werk opgedaag het nie. Dié het Silver se pa en broer, wat ook in Ermelo woon, gekontak.

Ná ʼn lang soektog is Silver half bewusteloos in die hospitaal opgespoor. Elizma het haar daarna gehaas net om te hoor haar seun is met ʼn oop fraktuur aan sy linkermaermerrie gediagnoseer.

Die skoknuus het egter nie daar opgehou nie.

Volgens Elizma kon die hospitaal nie aan die fraktuur opereer nie weens ʼn fout met die operasiesaal se lugversorging.

Silver was ses dae in die hospitaal en het ʼn infeksie opgedoen, sê Elizma.

Rynard de Waal Silver, Elizma Visser, Ermelo, hospitaal, ongeluk, mediese nalagtigheid

Rynard de Waal Silver in die hospitaal, voor sy been geamputeer is. (Foto: Verskaf).

Sy wag ʼn oomblik en haal dan diep asem voor sy verder vertel.

“Hy het ure lank met die oop wond gelê . . . om daai wond te sien het mens amper laat braak.”

Die higiëniese toestand van die hospitaal het ook veel te wense gelaat, sê Elizma. Sy moes glo mooi trap om nie op gebruikte naalde te trap nie en vertel daar was in ʼn stadium nie bloed beskikbaar vir oortappings nie. Die bedklokkies het ook nie gewerk nie.

“Ek het by die hospitaal gesmeek om die wond toe te maak,” voeg sy dan ontsteld by.

Silver is, uiteindelik ná die ses dae, geopereer, maar dit was nie om die fraktuur aan sy been te herstel nie.

Dit was vir haar ʼn verskriklike dag toe sy meegedeel is Silver se been sal bo die knie geamputeer moet word.

Ná die operasie het Silver se broer hom ontslaan en huis toe gebring met ʼn loopraam en ʼn dosis Tramadol wat deur die hospitaal voorgeskryf is.

Maar toe Elizma sien in watter ondraaglike pyn haar seun verkeer, het sy hom saam met haar terug na Pretoria geneem om voltyds na hom om te sien.

“Ek het hom hier na ʼn behoorlike wondsuster gebring en ná ʼn maand se behandeling onder haar het die wond so herstel dat hy nou al met krukke oor die weg kan kom,” sê Elizma.

Silver kry ook fisiobehandeling by die Steve Biko- akademiese hospitaal.

Dan vertel sy hartseer van Silver se lewe voor die ongeluk.

Rynard de Waal Silver, Elizma Visser, Ermelo, hospitaal, ongeluk, mediese nalagtigheid

Rynard de Waal Silver sterk nou tans by sy ma, Elizma Visser, in Pretoria aan. (Foto: Verskaf)

“Hy kom uit ʼn tegeniese skool, hy weet nie van administrasie of kantoorwerk nie.”

Silver het ná skool begin om onder meer veiligheidskameras te installeer. “Dit is ʼn fisieke werk wat al twee sy bene vereis, ek weet nie wat hy nou gaan doen nie.”

Sy het intussen ʼn prokureur aangestel, want dit is haar plan om die hospitaal én Mpumalanga se departement van gesondheid te dagvaar vir mediese nalatigheid.

“Mense moet gewaarsku word, ons kan nie die ding net so los nie,” sê Elizma.

Die departement van gesondheid is genader vir kommentaar, maar het nie teen Vrydag reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sharmane ·

Hulle moet dit verder vat. Dis onaavaarbaar dat jy sulke diens ontvang. Hoekom is daar dan staats hospitale as hulle nie diens kan lewer nie!!!!

Wat op dees Aarde ·

En dan wil die klomp patete nog die NHI ook implementeer… Los my medies en privaat hospitale maar eerder dan uit. Ek koop eerder minder kos en betaal deur my nek vir medies as om in ‘n gebroke, patetiese staats hospitaal te gaan lê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.