‘Regte slaagsyfer is 55,3%’; skoolverlaters wek kommer

(Foto: Maroela Media)

Die DA betwis die departement van basiese onderwys se slaagsyfer van 82,9% en meen die regte matriekslaagsyfer is slegs 55,3%.

“Die werklike matriekslaagsyfer word bereken deur die aantal leerders wat uitgeval en nooit matriek gehaal het nie, in ag te neem,” sê Baxolile Nodada, DA-LP en woordvoerder oor basiese onderwys.

Die DA het bereken dat altesaam 345 626 leerders tussen graad 10 in 2021 en graad 12 in 2023 uitgeval het.

“Die werklike matriekslaagsyfer is ’n uitstekende aanduiding van nie net die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, en haar departement se gebrek aan sukses nie, maar ook van die land s’n. Hierdie ANC-regering se enigste fokus blyk kwantiteit bo kwaliteit te wees, met die mening dat dit ’n verbetering van vorige jare is.”

Onder min. Motshekga het die ANC-regering stelselmatig die gehalte van onderwys gestroop, meen Nodada. “Dit is onder haar bewind dat 81% van graad 4- en 56% van graad 6-leerders nie vir begrip kan lees nie, graad 4- en 8-leerders sukkel met basiese wiskunde en wetenskap, en byna 40% van graad 10-leerders en meer as 25% van graad 8’s in die Vrystaat het verlede jaar hul eksamens gedruip.”

‘Kommerwekkend dat soveel leerders verdwyn’

Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder van onderwys, sê die burgerregteorganisasie is veral bekommerd oor die groep leerders wat nooit eens die matriekeksamen afgelê het nie.

Volgens statistieke van die departement se verslag, Education Statistics in South Africa 2012, het 1 208 973 leerders hulle in 2011 in graad 1 van sogenaamde gewone skole bevind. Daarvan was 1 162 824 leerders in openbare skole en 46 149 in onafhanklike skole. Daarteenoor het 715 000 voltydse en 182 000 deeltydse matrikulante in 2023 die matriekeksamen afgelê, van wie 15 186 in onafhanklike skole was.

“Dit is uiters kommerwekkend dat soveel leerders uit die stelsel verdwyn het. Dit is ’n tendens wat jaarliks gesien word. In die eerste plek bewys dit dat die verlaging van slaagvereistes leerders nie oortuig om aan te hou om tot matriek skool te gaan nie. Tweedens, selfs met matriek is ’n groot aantal jongmense nie werklik indiensneembaar nie, weens die swak gehalte onderwys wat hulle ontvang het en hierdie lae standaarde wat gestel word vir leerders om te slaag. Sonder ’n matrieksertifikaat sal dit wel nog moeiliker vir hulle wees om vir hulleself ’n volhoubare toekoms te skep en tot die nasionale ekonomie by te dra.

“Dit bly dringend noodsaaklik dat die departement aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ’n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, ’n tekort aan infrastruktuur, aanvegbare onderwyswetsontwerpe soos die Bela-wetsontwerp, wanfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied,” sê Müller.

“Tot dít geskied, is die jaarlikse viering van ’n sogenaamde verbeterde matriekslaagsyfer misleidend en word ’n groot groep jongmense in die steek gelaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wit Leeu ·

Wie gee nou regtig om wat die slaag syfer is ? Daar sal altyd leuns versprei word veral deur die toxic ANC om hulle goed te laat lyk !!!!!!!!!!!!!

KB ·

En daar hoor jy die waarheid by Nicolene Müller en die DA-LP…
In die breë dink die jeug hulle is só slim, maar hulle het egter nog baie om te leer. Miskien moet die jeug meer luister, minder praat, bietjie werk aan respek en dissipline – akademie is net een deeltjie vd lewe…daar is baie ander fasette wat julle met lof druip.

Steyn ·

Dis die cANCer se manier om stemme te behou want daai wat nie skool slaar maak nie lewe op sosiale vergoeding, en daai ongeskooldes is tog te gelukkig as hulle R5 extra kry waarvoor ons werk!

Die statistiek gaan nog erger raak want daar word elke jaar minder en minder afrikaans en engelse skole soos dorpe ontoegangbaar en onveilig is, asook die feit dat ons kinders lewe aan die anderkant van die osean hulle lewe gaan lei

George ·

DA, julle is net so sleg soos die ANC en julle wil he mens moet julle vertrou? LOLS

John ·

Ek stem saam met die wat wonder. Drie dae terug is gesê die Vrystaat se kinders in graad 8 en 10 doen die slegste in die land met n derde druip syfer en nou doen hulle die beste in die land?????

Karoo ·

Daar is inelkgeval bitter min of geen werk in SA nie, ongeag jou vel kleur. As jy nie self werk skep, of werk kry by familie of oorsee kan gaan nie is jong mense gefuik. Selfs jong mense mey grade en Dr’s grade sukkel. Dan neem die ander wat geen kaan het nie eerder deel aan die “aanwas program” en “verdien” so geld. Ons jong mense is moedeloos….

BlueHope ·

‘n Skokkende waarheid is dat onderwysers kinders wat lyk of hulle nie matriek gaan slaag nie, al van graad 9 af aanmoedig om die skool te verlaat want dit laat die skool se statistieke beter lyk.
Dis baie hartseer wanneer jy eerder aangemoedig word om op te gee, as om hulp aangebied te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.