Regter sê ‘geen bewyse’ dat sy staatskaping help

Regter Nana Makhubele ontken enige aandadigheid aan staatskaping by Prasa. (Argieffoto: Masego Mafata/GroundUp)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Geskorste regter Nana Makhubele het vandeesweek ontken dat sy aandadig aan staatskaping by die Passasierspooragentskap (Prasa) was terwyl sy voorsitter van die tussentydse raad was.

Prasa se hoof van regsdienste, Martha Ngoye, het die bewering gemaak en verwys na Makhubele se betrokkenheid by ʼn geheime skikkingsooreenkoms met die kontrakteur Siyaya, wat ook by staatskaping betrek word. Indien die hof nie later dié kontrak met Siyaya ter syde gestel het nie, sou dit gelei het tot ʼn uitbetaling van R50 miljoen.

Volgens #UniteBehind, wat die klagte teen Makhubele ingedien het waarop sy by die Regterlike Gedragstribunaal teregstaan, was Ngoye en ʼn kollega, Fani Dingiswayo, die “sleutel-fluitjieblasers” in die saak. Die klagte teen haar beteken Makhubele kan in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

Makhubele word van growwe wangedrag beskuldig deurdat sy terselfdertyd as regter en voorsitter van die Prasa-raad gedien het.

Nog ʼn klagte teen haar is dat sy, gedurende haar termyn by Prasa, die belange van Siyaya bevorder het deur ʼn vertroulike skikkingsooreenkoms met die maatskappy aan te gaan en haar interne regsadviseurs te omseil.

Makhubele voer aan Ngoye, in haar getuienis, het die “gewaagde stelling” gemaak dat sy korrupsie help moontlik maak het.

“Maar daar is geen grondslag vir die stelling nie … geen gewyse dat ek deur iets gemotiveer is nie,” het Makhubele aangevoer.

Sy het vroeër getuig dat sy deur adv. Francois Botes genader is, en dat sy onder die indruk was dat hy namens die likwidateurs van Siyaya – en nie Siyaya self nie – opgetree het.

Botes voer egter aan Makhubele het hóm genader.

In ʼn stadium, toe Ngoye met ʼn proses begin het om te verhoed dat die Siyaya-skikking ʼn bevel van die hof gemaak word, het Botes afskrifte van ʼn SMS-gesprek tussen hulle aan sy opdraggewende prokureur gegee. Dit is gebruik op die prokureursfirma se briefhoof en was ʼn aanduiding dat sy in kontak met die prokureur was.

Makhubele het aan die tribunaal gesê dat sy nog nooit die prokureur ontmoet het nie en dat die misbruik van die SMS’e beteken het dat sy ʼn klagte teen Botes by die Pretoriase Balieraad ingedien het.

“Sover dit my aangaan, is daar nie ʼn enkele bewys dat ek Siyaya se prokureurs geken het nie. Ngoye het geen bewyse daarvan gelewer nie en ook nie bewyse dat ek deur persoonlike belang gedryf is nie. Daar is geen bewering dat ek sou baat by hierdie goed nie. Dit is nou vyf jaar later. As daar bewyse was, sou dit op die tafel gewees het,” het die regter gesê.

Sy sê die verhouding tussen die raad en Prasa se interne regspan was goed toe sy die posisie aanvaar het, maar het verbrokkel ná die skorsing van die eksterne regspaneel in Desember 2017.

Ngoye het ʼn memorandum opgestel waarin die besluit teengestaan word en dit is later aan #UniteBehind en GroundUp uitgelek.

“Hulle [Ngoye en Dingiswayo] het besluit om hul eie ding te doen. En hulle het nie raad oor enigiets ingewin nie,” sê Makhubele. Volgens haar het hulle haar ook mislei oor die status van sekere ondersoeke.

“Hulle het nooit die tussentydse raad – individueel of gesamentlik – genader om hul kommer oor die skikking van die Siyaya-eise te kenne te gee nie. Die enigste keer dat hulle dit geopper het, was in ʼn brief aan min. [Blade] Nzimande, met ʼn afskrif aan die raad.”

Makhubele sê nadat Prasa (deur Ngoye) ʼn hofaansoek ingedien het om die Siyaya-skikking ter syde te laat stel, het Botes aangebied om vir haar ʼn prokureur te bekom, sou sy as party by die geding gevoeg word.

“Ek stel dit aan jou om Botes se kwaadwillige optrede te demonstreer. Ek het dokumente aan die prokureur gestuur wat Botes toe in sy getuienis voor die staatskapingskommissie gebruik het – asof dit dinge was waaroor ek met hom gepraat het.”

Sy sê sy het daarna besef dieselfde prokureur het haar in 2017 genader en vir ingryping namens Siyaya se likwidateurs gevra.

“Ek het Botes ingelig. Hy het aangebied om verdere skadebeheer te doen, maar het my terselfdertyd ook dieper in die gat ingekry,” sê Makhubele.

Botes het glo aan haar gesê die aansoek gaan nie meer voort nie. Die likwidateurs sou nie die Prasa-tersydestellingsaansoek teenstaan nie en was tevrede om met ʼn proses van arbitrasie voort te gaan. Daar was ook geen rede vir haar om by die kwessie betrokke te raak nie. Die saak sou van die rol verwyder word.

“Teen die einde van November 2018 was dit ʼn verrassing toe ek op die radio gehoor het dat die regter negatiewe bevindings teen my gemaak het,” sê Makhubele.

Sy het ʼn klag teen die regter ingedien, maar dit is summier geskrap en sy appelleer nou teen die besluit.

Die saak duur voort.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

…selfs die hoogstes op die Regbanke, eet maar lekker by die trog.
Geen skaamte meer in die samelewing nie.
Dis nou net bymekaarmaak, vòòr die kaartehuis inmekaar tuimel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.