Regters sal besluit oor landswette in al 11 tale

Argieffoto

Argieffoto

Uitspraak is vanmiddag voorbehou in die appèlhofsaak van taalaktivis Cerneels Lourens, bygestaan deur die burgerregte organisasie, AfriForum, waarin Lourens betoog dat landswette in al elf amptelike tale vertaal moet word.

Wetgewing word tans deurgaans in Engels en verder slegs in een ander willekeurig gekose amptelike taal gepubliseer. Die appèlsaak is deur ʼn volbank van vyf appèlregters, naamlik regters Carole Lewis, Visvanathan Ponnan en Willie Seriti, plus waarnemende appèlregters Burton Fourie en Clive Plasket aangehoor.

In die betoog het die verteenwoordigers van die parlement volhard met die argument dat hulle nie meer as twee amptelike tale per wet hoef te gebruik nie en dat die huidige praktyk om wetgewing in Engels plus slegs een ander lukraak gekose amptelike taal te publiseer, nie onbillike diskriminasie daarstel nie.

Die hof het baie vrae gehad oor die praktiese uitvoerbaarheid daarvan om wetgewing in elf tale te publiseer. Regter Lewis het wel toegegee dat dit skrikwekkend is om te sien hoeveel wette tans slegs in Engels volledig beskikbaar is. In die aanvanklike saak wat in 2014 in die gelykheidshof aangehoor is, is reeds aangedui dat die koste-implikasies van die versoek nie so groot is as wat veronderstel word nie en Lourens het weer daarna verwys.

Die hof is verder uitgedaag om te verklaar wat amptelikheid van ʼn taal beteken, veral in die lig van die uitspraak van die Grondwet in die Grondwetsertifiseringsuitspraak dat die stand van Afrikaans nie ingeperk mag word omdat nog nege tale as amptelike tale aangeneem word nie en omdat die Grondwet juis uitspel dat die nege tale ook bevorder moet word.

Lourens het die huidige stand van sake in sy slotrepliek ʼn “taalskandaal” genoem. Hy het afgesluit deur te sê dat die hof moet kies tussen die oppergesag van die Grondwet binne die regstaat en die oppergesag van die praktyk. Die geleentheid om uitspraak te lewer in die saak, skep ʼn spesiale geleentheid om Suid-Afrika finaal te dekolonialiseer deur die regering se verheffing van Engels tot “super” amptelike taal in te perk.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalsake, het die diskriminerende aard van die huidige praktyk in die loop van die argumentasie weer duidelik geblyk. “Deur tien van die amptelike tale ondergeskik aan Engels te stel in die gesaghebbende beskikbaarstelling van wetgewing, word sowat 49 miljoen Suid-Afrikaners ontsê van toegang tot wetgewing in hulle eie tale,” het Bailey verduidelik. “Dit ontneem nie net regslui nie, maar alle Suid-Afrikaners van ʼn behoorlike kennis en begrip van hulle pligte en regte. Word die amptelike status van tale op die terrein van wetgewing ontken, skep dit ʼn presedent wat ook op ander terreine toegepas kan word. Die praktyk kan dus nie aanvaar word nie en ons hoop dat die regters in hulle uitspraak hierdie praktyk sal omkeer”.

Lees alle vorige berigte oor Cerneels Lourens op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Gwen ·

Ek hoop voorwaar op ’n gunstige uitspraak. Die huidige taalimperialisme dryf my teen die mure uit.

DPJ ·

Korrek Gwen almal moet in sy eie taal kan lees wat sê die Grondwet wat sy regte en pligte is!

Sarie ·

Ek hoop dit slaag. Nie net Afrikaanssprekendes word negatief behandel nie, maar al die ongeletterdes van die ander Afrikatale.

Winston ·

Hoop ook dit word so aanvaar sodat die klein persentasie geletterdes ook kan lees en dalk per mond oordra aan die wat nie kan lees nie. Dankie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.