Regulasies moet avontuurtoerisme in SA bevorder

(Foto: Jackalope West / Unsplash)

Nuwe riglyne en regulasies wat Maandag deur die Suider-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) aangekondig is, het ten doel op Suid-Afrika as ʼn top-avontuurbestemming te help posisioneer.

Die publiek sal nou tot 31 Mei 2023 geleentheid hê om kommentaar op Satsa se “padkaart vir die selfregulering van avontuurtoerisme” en bedryfskode te lewer.

“Die kode is ontwerp om standaarde en riglyne vir avontuurtoerisme-operateurs daar te stel, met die doel om veiligheid, volhoubaarheid en etiese praktyke in die bedryf te bevorder en Suider-Afrika as ʼn top-avontuurbestemming te posisioneer,” het Hannelie du Toit, bedryfshoof van Satsa, gesê.

“Die konsep-selfreguleringsdokumente is ontwikkel as ʼn aanvanklike gids om beraadslaging met bedryfsbelanghebbendes, insluitend avontuurtoerisme-operateurs, bedryfsverenigings, regeringsliggame en gemeenskapsverteenwoordigers te fasiliteer.”

Volgens Du Toit het die kode ten doel om ʼn raamwerk te verskaf vir avontuurtoerisme-operateurs om op ʼn verantwoordelike en volhoubare wyse te funksioneer, terwyl dit ook die groei en ontwikkeling van die avontuurtoerismebedryf in Suider-Afrika bevorder.

Sy sê Satsa hoop dat die kode groter samewerking tussen operateurs, bedryfsverenigings en ander belanghebbendes sal aanmoedig, en sal help om vertroue by verbruikers te bou.

“Die publisering van die selfreguleringsdokumente vir avontuurtoerisme is ʼn belangrike mylpaal vir die avontuurtoerismebedryf in Suider-Afrika.

“Ná jare se werk aan hierdie stap glo ons dat die projek ʼn duidelike raamwerk sal bied vir operateurs om te volg, wat sal lei tot die verhoging van standaarde en die vervaardiging van geloofwaardige produkte waarmee ons Suider-Afrika as ʼn top-avontuurbestemming kan posisioneer. Ons sien uit daarna om die ongelooflike waardevolle terugvoer van die bedryf te ontvang om te verseker dat die projek ooreenstem met uitkomste wat die hele bedryf bevoordeel.”

Satsa nooi alle belangstellendes nou om kommentaar op hierdie dokumente te lewer. Alle kommentaar kan by Du Toit by [email protected] ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike ·

Satsa beteken net so baie vir SA toerisme as wat die anc vir SA beteken – NIKS. Daar moet eerder van hulle ontslae geraak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.