Rekordgetal klagtes teen banke

Die bankombudsman sê daar is ʼn “eindelose lys” van maniere om geld te verloor en daarom moet verbruikers verstandig optree. (Foto: Maroela Media)

Die ombudsman vir bankdienste (OBS) het verlede jaar ʼn rekordgetal klagtes oor banke ontvang en 2021 is gekenmerk deur ʼn noemenswaardige toename in klagtes oor die meeste banke.

Reana Steyn, die bankombudsman, sê die Covid-19-pandemie het nie net die tradisionele bankmodel ontwrig nie, maar dit tot die uiterste beproef. Banke sukkel steeds om die uitwerking hiervan te hanteer.

Talle verbruikers was die afgelope twee jaar onder toenemende finansiële druk en Steyn sê verbruikers moes hulle dikwels tot die OBS wend vir ingryping. “Die bewys hiervan is die rekordgetal klagtes wat ons kantoor verlede jaar ontvang en ondersoek het,” sê sy.

“Die OBS het ʼn rekordaantal van 8 257 klagtes tydens die gerapporteerde tydperk ontvang, verteenwoordigend van ʼn 7%-styging van 2020 en ʼn 28%-styging van die aantal sake wat in 2019 geopen is.

“Meer as 10 330 klagtes is in 2021 na die banke verwys in vergelyking met die 8 389 sake in 2020.”

Verwysings is klagtes wat die OBS ontvang het, maar waar die verbruiker nie die bank die kans gegee het om die klagte op ʼn vriendskaplike wyse te besleg nie. Die bankombudsman stuur hierdie klagtes namens die verbruikers na banke, sodat dié kan probeer om die kwessie te skik.

Die probleem word slegs na ʼn formele saak opgegradeer indien die bank dit nie kan oplos nie.

OBS sien toename in:

  • verwysings +23%
  • klagtes: +9%
  • oproepe na OBS-inbelsentrum: +7% (39 239 oproepe in 2020 tot 41 880 verlede jaar)

Steyn sê die stygings is hopelik ʼn aanduiding dat verbruikers toenemend bewus is van die diens wat die kantoor bied.

Die meeste klagtes hou verband met bedrog, wanadministrasie deur banke, die sluiting van rekeninge en herinbesitnemings.

Meeste kla hieroor

Volgens Steyn het baie van die klagtes wat haar kantoor verlede jaar hanteer het, gespruit uit gevalle waarin klaers slagoffers van verskillende soorte bedrog was.

Internetbankwese was egter steeds die kategorie wat verlede jaar tot die meeste klagtes (19%) gelei het.

“Dit is ʼn onrusbarende 6%-styging van 2020 en ʼn kommerwekkende statistiek, want dit gaan in teen die grein van die vooruitgang wat in 2020 gemaak is, toe die aantal internetbedrogslagoffers beduidend gedaal het na ʼn rekordlaagtepunt van 13% van totale klagtes,” verduidelik Steyn.

Die tweede grootste kategorie was diensverwante klagtes, wanadministrasie deur banke, verbruikers wat onder skuldlas verkeer, rekeningsluitings deur banke en verbruikers wat die fooie of rentekoerse betwis wat op hul ooreenkomste van toepassing is.

Klagtes oor lopende rekeninge was verantwoordelik vir 16% van die algehele aantal sake wat geopen is – ʼn afname van 3% sedert 2020.

Steyn sê klagtes oor persoonlike lenings en verbandfinansiering het vir die afgelope drie jaar konstant gebly op 11% en 8% onderskeidelik, terwyl kredietkaartklagtes afgeneem het van 11% in 2020 na 9% verlede jaar.

Daar was ʼn afname in die aantal klagtes wat met voertuigfinansiering verband hou.

OTM-verwante klagtes daal steeds terwyl dit 2015 verantwoordelik was vir die grootste getal klagtes wat die kantoor ontvang en ondersoek het.

Steyn sê vanweë klante se toenemende gebruik van tegnologie om hul banksake te bestuur genereer internetbankwese die meeste klagtes en die syfer styg boonop voortdurend.

“Hierdie neiging word uit die aard van die saak baie deur die pandemie beïnvloed,” sê sy.

Meeste klagtes ‘kon vermy word’

Steyn sê in die meeste gevalle waar verbruikers ʼn verlies gely of ongerief ondervind het, kon die situasie egter vermy gewees het indien mense meer skepties was oor bedrieërs wat hulle as bankamptenare voordoen.

Sy sê daar is ʼn “eindelose lys” van maniere om geld te verloor en daarom moet verbruikers verstandig optree en op die hoogte bly met die jongste bedrogtendense. Hulle kan ook regstreeks by banke navraag doen oor hul aanbiedinge vir mense in finansiële nood om regstappe en die herinbesitneming van eiendom te voorkom.

“Dit is belangrik dat verbruikers hul vertroulike bankinligting beskerm. Verder behoort hulle nooit bystand van vreemdelinge by ʼn OTM te aanvaar nie.

“Les bes behoort verbruikers meer betrokke te raak by die bestuur van hul rekeninge deur konstant hul rekeningstate na te gaan en hul banke te nader vir bystand wanneer die eerste tekens van finansiële nood opduik,” sê Steyn.

Sy sê dit is ʼn veel beter opsie as om die bank te vermy wanneer probleme opduik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarie

Kanseleer die tap and go op jou bankkaart. Hou op lui wees. Moet nie bang wees om aan die pinpad te vat nie. As jy nie jou kaart gebruik, bêre hom in n brilhuisie. Dan kan n speedpoint hom nie optel nie.

Mike Pretoria

Het jy al ‘n bank gebel om telefoniese hulp te kry ? Het jy al by ‘n bank ingestap met die doel om ‘n probleem op te los ? Te vergeefs, jy hou ure aan, word van bakboord na stuur boord gestuur en die probleem word bitter selde opgelos ! Stap jy by ‘n bank in kan jy jou gereed maak om ure in ‘n tou te staan en met baie moeite en ‘n strak gesig, dalk gehelp of na ‘n ander afdeling verwys word. Bankdienste in Suid Afrika is baie swak !!

Tania

Dit is omdat die call center nog van die huis af werk, mens bel dan hoor jy mense tv kyk in agtergrond en skottelgoed was ens dit is baie steurend. Ek sukkel met my bank ook dit is asof na Covid niemand werklik terug gekeer het werk toe nie