Renosterstroper moet lank sit

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Renosterstroper sal jare agter tralies sit nadat hy in 2018 ʼn swart- en ʼn witrenoster geskiet en hul horings gestroop het.

Michael Kleinbaas Masuku (45) het Maandag in die Empangeni-streekhof in KwaZulu-Natal verskyn waar hy 28 jaar tronkstraf opgelê is.

Volgens Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die provinsie, is Masuku vroeër skuldig bevind op aanklag van sameswering om renosters te jag, ʼn beskermende spesie te jag en dood te maak, asook jag sonder ʼn permit.

Masuku het in Oktober 2018 die Hluhluwe Imfolozi-wildreservaat binnegegaan nadat hy vroeër saam met ʼn ander verdagte saamgesweer het om die renosters te stroop.

“Met vuurwapens en die nodige gereedskap het Masuku en nog ʼn verdagte die reservaat betree en die twee renosters doodgeskiet,” sê Ramkisson-Kara.

“Hulle het die horings van die eerste renoster verwyder en net een van die tweede een voor hulle gevlug het.”

Die polisieondersoek het na Masuku gelei en hy is in hegtenis geneem is. Die ander verdagte is nog op vrye voet.

Staatsaanklaer Sharon Bux het bewyse van selfoonkartering aan die hof voorgelê wat wys dat Masuku van Mpumalanga na Hluhluwe gereis het voor die stroping. ʼn Staatsgetuie het Masuku ook regstreeks met die misdade verbind.

Masuku is agt jaar tronkstraf opgelê vir sameswering en tien jaar vir elk van die ander twee aanklagte. Hoewel hy 38 jaar tronkstraf opgelê is, sal van die vonnisse gelyklopend uitgedien word en sal hy effektief 28 jaar in die tronk deurbring.

Die NVG het die swaar straf verwelkom en die betrokkenes geloof vir hul toewyding om ʼn skuldigbevinding te verseker.

“Renosters is op die lys van bedreigde spesies; dit is ons plig en mandaat om hulle te bewaar,” sê Ramkisson-Kara.

“Ons vertrou dat hierdie vonnis as waarskuwing vir ander stropers sal dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

En verkragters en moordenaars dien net 15 of 20 of selfs minder jaar uit. Maak dit sin ?

Herman L ·

“Masuku is agt jaar tronkstraf opgelê vir sameswering en tien jaar vir elk van die ander twee aanklagte. Hoewel hy 38 jaar tronkstraf opgelê is, sal van die vonnisse gelyklopend uitgedien word en sal hy effektief 28 jaar in die tronk deurbring.” Agt jaar plus twee maal 10 jaar is 28 jaar. As hy dit gelyklopend uitdien sit hy hoogstens 10 jaar, of mis ek iets? As ek reg is, is dit nie juis ‘n vonnis wat hom sal afskrik nie.

Di ·

Maar die GROOTSTE “baasbreine” wat agter renoserstropery sit loop nog steeds vry rond buite! Hierdie wat gevang word is die klein vissies in die see

Jack ·

So die wapens was nie onwettig nie want hy is nie daarvoor gestraf nie of is die goed soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.