Renosterstropers moet lank sit

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Drie renosterstropers is vonnisse van meer as 30 jaar elk in die Skukuza-streekhof in Mpumalanga opgelê nadat hulle aan stropery en stroperyverwante misdade skuldig bevind is.

Zwelithini Mathebula (37) en Lucky Mhlongo (39) is Dinsdag tot 34 jaar tronkstraf elk gevonnis vir die stroop van ’n bedreigde spesie, die onwettige besit van ammunisie, sameswering om ’n misdaad te pleeg en die besit van gevaarlike wapens. Teddy Dlamini (37) is tot 39 jaar tronkstraf op dieselfde aanklagte gevonnis, asook bykomende aanklagte wat insluit die rig van ’n vuurwapen.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die mans drie renosters doodgemaak.

Al drie het onskuldig gepleit. Bewyse wat aan die hof voorgehou is, het hulle egter voldoende met die misdade bevind. Dié bewysstukke het ingesluit ʼn koeël wat destyds in een van die renosterkarkasse op die toneel gevind is.

Die mans is op 23 November 2019 in die Malelane-omgewing van die Krugerwildtuin in hegtenis geneem.

ʼn Wildbewaarder het destyds snuf in die neus gekry toe hy ʼn verdagte Hyundai-bussie met insittendes opgemerk het. Hy het ondersoek ingestel en die kwansuise besoekers – dié wat hy kon sien – vir ʼn permit gevra.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê hoewel die mans ʼn permit verskaf het wat oënskynlik geldig was, het die wildbewaarder nog drie mans gesien wat agter die voorste sitplekke van die bussie weggekruip het. Hulle het plat op die vloer van die voertuig gelê.

“Die wildbewaarder het die bestuurder gevra om die voertuig af te skakel en sy sleutels te oorhandig. Hy het die bestuurder ook gevra om uit te klim sodat hy die voertuig kan deursoek.

“Die wildbewaarder het die skuifdeur van die voertuig oopgemaak waar nog ’n verdagte met ʼn vuurwapen gelê het wat op die deur gerig was. Dié verdagte is ook beveel om uit die voertuig te klim. Die voertuig is deursoek en vyf renosterhorings, een jaggeweer met ʼn knaldemper, ammunisie, twee messe en vyf selfone is gevind.”

Al vyf verdagtes is in hegtenis geneem en hulle het etlike keer in die hof verskyn voordat hulle eindelik op borgtog vrygelaat is. Slegs drie van hulle het vir die hofsaak aangemeld en is eindelik Dinsdag gevonnis.

Dit is nie bekend waar die ander twee beskuldigdes hulle tans bevind nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blikke ·

Drie (3) renosters doodgemaak….Vyf (5) Horings in hulle besit gekry….Jammer as ek nie verstaan nie…. Dalk die lang horing en korter een van elk? Dan moes daar in elk geval Ses (6) horings in total wees.

Anel ·

Die ander twee is seker in Zim. Hulle sal gevang word, hopelik, as hulle weer gaan probeer. En hulle gaan. Pleks sit hulle lewens lank!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.