Res van Rage-byeenkomste uitgestel

Foto: Ballito Rage/Facebook

Alle Rage-byeenkomste vir matrieks wat binnekort in Johannesburg, Jeffreysbaai en Plettenbergbaai sou plaasvind, is Maandag tot verdere kennisgewing uitgestel weens die Covid-19-pandemie.

Hierdie besluit volg kort nadat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Sondag ʼn Rage-byeenkoms wat van 27 November tot 4 Desember in Ballito plaasgevind het, as ’n sogenaamde superverspreider-byeenkoms geïdentifiseer het.

Darren Sandras, woordvoerder van Rage Festivals, sê daar is besluit om die byeenkomste uit te stel terwyl organiseerders en belanghebbendes die pad vorentoe bespreek. Die nuwe datums vir die Rage-byeenkomste sal in ’n latere stadium bekend gemaak word. Alle Rage-paspoorte bly tot dán geldig hoewel ’n beleid rakende kansellasies en terugbetalings ingestel sal word.

Dit is nie die eerste keer dat die datums vir vanjaar se Rage-byeenkomste gewysig word nie. Plett Rage sou aanvanklik van 27 November tot 3 Desember aangebied word, waarna die datum na 29 Januarie tot 6 Februarie geskuif het aangesien die Tuinroete tot brandpunt verklaar is. Om sake te vererger moet sommige matriekvraestelle (wiskunde en fisiese wetenskappe) nou oorgeskryf word nadat dit uitgelek het.

Foto: Ballito Rage/Facebook

Ongelukkigheid heers intussen onder ouers rakende die kansellasie en terugbetalings van hul kinders se Rage-paspoorte nadat hul leerders nie meer die matriekwegbreek wil óf kan bywoon nie.

Die prys van ’n Plett Rage-paspoort wissel van R2 350 tot R3 400 en bepaal ’n matriek se toegang tot sekere venues. Die bepalings en voorwaardes bepaal egter in dié stadium dat sou matrieks hul paspoort kanselleer, hulle net die helfte van hul geld gaan terugkry.

’n Ma van Pretoria vertel dat sy haar matriekseun se paspoort vir Plett Rage in Maart gekoop het; hy en sy vriende het in Julie reeds besluit om eerder hul paspoorte te kanselleer weens die koronavirus. Hulle word egter van bakboord na stuurboord gestuur in ’n poging om hul geld terug te kry.

“Dit is ’n groot frustrasie. Ek het seker al 20 plus e-posse gestuur en kry heeltyd ’n outomatiese antwoord. Ek het nou al moed opgegee.”

Die ma meen ook dit is onregverdig dat sy net 50% van haar geld gaan terugkry. “Ek voel ons het ’n kontrak gesluit vir die aanvanklike datum en dié datum is nie meer beskikbaar nie.”

Sandras sê Rage Festivals het vanjaar aansienklik kleiner Rage-byeenkomste gereël as in vorige jare  weens Covid-19. Dit tesame met die duur Covid-19-maatreëls wat ingestel moes word, het daartoe gelei dat Rage Festivals glo vanjaar ’n verlies ly.

“Ons is verpletter dat ten spyte van alle pogings voor en tydens die fees en op alle Rage-beheerde plekke, sommige deelnemers steeds Covid-19 gekry het,” sê Sandras met verwysing na die afgelope Rage-byeenkoms in Ballito.

Maroela Media het Maandagoggend ’n navraag aan Ronen Klugman, stigter van Plett Rage, gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Ek wonder of ouers weet wat rerig by hierdie gedoentes aangaan? Julle het al van Spring Break in die VSA gehoor? Wel hierdie is SA se “Spring Break” waar daar nie brieke is nie, en die testosterone is buite beheer. Wonder oor die jare hoeveel meisies het geboorte gegee nege maande na Rage, en gese “whose your DADDY?”

Francois Le Cochon ·

Die lekkerste tyd van jou lewe. Beproef als en behou die goeie. As jou ” mind” in die “gutter” is, is dit nie te se^ almal is sonder waardes.

Oros Soros ·

Kan ons asseblief die getalle kry van diegene wat “positief” getoets is, sowel as waar en wanneer. Tot dan, bejeen ek die minister met agterdog.

Francois Le Cochon ·

Bel die minister se kantoor, en laat ons almal weet, so eenvoudig soos dit.

Oros Soros ·

The number you have dialed is not available, please try again later. Enige ander idees?

Karina ·

Betaal die mense se geld terug as hulle agv Covid-19 nie die rage wil bywoon nie. Dit is elke mens se reg om so ‘n besluit te neem om sy gesondheid te verseker.

johanf ·

Elk geval klomp nonsens…… Onverantwoordelik van bywoners…!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.