Restaurante wil ‘informeel’ met Ramaphosa vergader

(Foto: EatStanbul/Facebook)

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het wéér ʼn prokureursbrief aan die Staatsprokureur geskryf waarin die organisasie vra vir ʼn informele gesprek met pres. Cyril Ramaphosa oor die “veilige bediening en verkoop” van alkohol in restaurante.

Ramaphosa het sowat twee weke gelede skielik die verbod op die verkoop van alkohol weer ingestel en terselfdertyd ʼn aandklokreël ingestel. Die stap het as ʼn enorme terugslag vir die bedryf, wat reeds onder die voortgesette afsonderingsregulasies steier, gekom.

Ramaphosa spreek Donderdag om 20:00 weer die land toe en talle Suid-Afrikaners hou asem op oor wat vanaand se aankondiging gaan inhou.

Ashton Naidoo, Rasa se regsverteenwoordiger, sê volgens die vereniging se jongste beskikbare statistieke ondervind tot 67% van restaurante wat wel in hierdie stadium bedryf word, minder as 20% van hulle gewone maandelikse omset. “Dit is duidelik nie ʼn volhoubare sakemodel nie en dringende ingryping is nodig.”

Restaurateurs en werkers in die bedryf het Woensdag as deel van Rasa se 1 Million Seats On The Streets-veldtog betoog oor die afsonderingsregulasies wat die bedryf in ʼn wurggreep het.

“Ten spyte van hulle lyding het die restaurantbedryf op ʼn waardige en vreedsame manier betoog. Tot dusver het nie hy [Rasa] of die briefskrywer van ʼn enkele voorval gehoor waar geweld of eiendomsbeskadiging onder die vaandel van die betoging aangemeld is nie.

“Dit benadruk net weer die hoflike aard van die bedryf wat onder die onderdrukkende bepalings binnekort gaan ineenstort. Wat die veldtog duidelik gemaak het, is dat miljoene mense deur die regering se gebrek aan optrede geraak word.”

Die bedryf vra nou vir ʼn informele gesprek met Ramaphosa met die hoop dat hy voorleggings direk aan hom kan doen oor die veilige verkoop en verspreiding van alkohol. Rasa voer aan dit gaan nie net voordelig vir die bedryf wees nie, maar vir die hele land.

Naidoo sê tydens só ʼn gesprek kan enige vrae of voorstelle dadelik bespreek word.

“Die rede waarom [Rasa] ʼn informele gesprek versoek, is omdat hy nie wil hê dit moet op enige manier misverstaan word as vyandig nie, maar eerder as ʼn stap tot ʼn eensgesinde uitkoms vir almal betrokke.”

Rasa sê ander betrokkenes in die bedryf kan ook die vergadering bywoon om insette te lewer.

“Ons [Rasa] glo die begin van ʼn gesprek tussen die regering en belanghebbendes, wie se inkomste regstreeks deur die verbod geraak word, is die sleutel tot ʼn minlike oplossing.”

Die vereniging het weereens benadruk dat hy sáám met die regering wil werk om die gevare wat met die verkoop van drank gepaard gaan te minimaliseer, maar waarsku ook dat indien daar nie dringend ingegryp word nie, die bedryf binnekort heeltemal tot niet sal gaan.

Die regering moes Woensdag skielik vure doodslaan ná ʼn uitlating vroeër dat die verbod op die verkope van alkohol en tabakprodukte tydens die hele afsonderingstydperk sal geld. Volgens die regering was die twiet “vals”.

Verskeie hofsake is tans hangende om regering se voortgesette verbod op die verkoop van drank en tabakprodukte te betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Waarom vergader hulle nie eerder met die plek se president nie ?

JJ ·

Ek haal my hoed af vir julle bittereinders. Dit land hunker op die rand van finansiele en morele bankrotskap en leen reeds geld om kop bo water te hou. Nodeloos om te se dat selfs die geleende geld wanbestee sal word. Die kapitaal wat vernietig word beloop miljarde rand, dog nie een staatsamptenaar spreek hulle kommer daaroor uit nie. Hoe meer mense bakhand later in die ry kom staan vir onderhoud, hoe beter. Is die doel om die aarde so te verskroei dat besighede vir pennies in die rand gekoop kan word deur BEE gesteunde kaders of om leemtes in die mark te skep vir “nuwe rolspelers”. Ek weet nie. Maar as ‘n President en sy regering sien die kraan loop die dam leeg en draai nie die kraan toe nie, dan moet ek wonder. Is hy en sy regering net van nature dwaas of is daar ‘n ander motief? Miskien glo die President en sy kaders werklik geld groei aan ‘n boom.

marius ·

Die “epidemie” pas hulle soos ‘n handskoen. Alles word platgevee en die wat daarna nog kan loop ontvang dan wat hul belowe is sonder dat iemand ooit ‘n vinger kan wys . Die sjinese pomp die land vol van hul produkte en almal dans van blydskap . Glo dit maar gerus .

Johann ·

Maai vrede met die feit dat Ramaposa nie omgee of belangstel in n beskaafde gesprek nie. Al wat him en sy kommunistiese anargie bevelsraad se aandag kry is as daar vir hulle iets in is(wat hulle in elkgeval VAT) of as jy dreig en brand en breek en verwoes! Jammer, maar dis hoe anargie werk.

Anel ·

Die hele doel is om die land afhanklik van die staat te maak en so vat die komunis oor. Dan dink hulle hulle kan met ons maak wat hulle wil.

Mauritz ·

Dit help nie om met CR te vergader nie. NDZ slaan die kitaar.

Kobus ·

Vergader help nie. Brand,verwoes en eis,dis al wat help of bied gratis ete aan taxi operateurs om te help. CR is sonder ruggraat

Johann ·

Dit help nie om met CR te vergader nie want hy is nie in beheer nie.

Ria ·

Alle besluite van die regering in hierdie tyd is absolute magsvertoon Die drank aksie spreek sterk daarvan. Daar is beslis werkbare plannecte maak rondom dit, masr hulle kies om dit te ignoreer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.