Restaurateurs waarsku oor ‘deur-tot-deur-aflewering’ van Covid-19

(Foto: pixabay)

Die Tshwane-toerismevereniging (TTA) sê hy sou eerder probleme in die bedryf met die regering wil bespreek, maar indien nodig sal hy regstappe doen om te verseker die restaurantbedryf in die stad oorleef die afsonderingstydperk.

Die vereniging wat sowat 400 ondernemings in die hoofstad verteenwoordig, sê die bedryf is nie geraadpleeg oor wat die bepalings in die afsonderingstydperk behels nie.

Regering ‘roekeloos vasbeslote’

“Dit lyk of die regering roekeloos vasbeslote is om Covid-19 deur-tot-deur met behulp van tussengangers af te lewer,” het die vereniging Woensdag in ʼn verklaring gesê oor die regering se besluit om in vlak 4 van afsondering tuisaflewering van kos toe te laat.

“Dit is een van verskeie onbedoelde gevolge wat die regering nie behoorlik deurdink het toe hy wegneemetes by eetplekke verbied het en afleweringsdienste toegelaat het om dié gaping te vul nie.”

Die restaurateurs vra watter wetenskaplike beginsels of logiese denke gebruik is om tot dié besluit te kom.

“Daar is geen beperking op inkopies in ʼn supermark nie. Wat sou dan die verskil wees tussen supermark-inkopies en die afhaal van warm, voorbereide etes by ʼn restaurant.”

Hulle sê daar kan aangevoer word tuisaflewering kan lei tot ʼn groter moontlikheid dat die virus kan versprei wanneer die afleweraar kos deur-tot-deur by verskillende mense aflaai, as wat hulle dit andersins by ʼn restaurant gaan afhaal wat behoorlik ontsmet is.

Voorbereide kos mag in dié stadium oor die toonbank van supermarkte verkoop word, solank dit nie warm is nie.

“Restaurateurs word nou gedwing om etes teen onnodige, bykomende koste af te lewer. Afleweringsdienste vra tussen 10% en 25% van die koste van die ete wat afgelaai word, afhangende van die waarde van die bestelling en onderhewig aan ʼn minimum koste. Die restaurant dra dié koste.

“Een van die maatreëls wat voorgestel is om kelners te help, is om hulle toe te laat om met hul eie voertuie etes teen geen afleweringskoste nie, maar wel ʼn fooitjie, af te lewer. Dit is nie volhoubaar nie. Versekeringsmaatskappye het dit duidelik gemaak dat die premies verskil wanneer ʼn voertuig vir persoonlike doeleindes of vir sake gebruik word. Dit maak dit te duur vir die kelners.

“Eenvoudig gestel, talle restaurante is bloot nie gereed om aflewerings te doen nie, selfs al probeer hulle en ongeag hoe innoverend hulle probeer wees,” sê die vereniging.

Koste nie minder

(Foto: pixabay)

Die TTA sê restauranteienaars betaal steeds hul volle munisipale rekeninge en ander verpligte gelde, terwyl hulle nie toegelaat word om kostedoeltreffend sake te doen nie.

Verhuurders bied ook weinig verligting met die betaal van huurgeld en sommige voer aan omdat restaurante nou toegelaat word om sake te doen, al is dit op ʼn beperkte skaal, is daar geen rede om huurgeld te verlaag nie.

Tonne kos word boonop gemors omdat daar geen bestelpatroon of bestendige verskaffing is nie.

“Restaurante is bekend vir hul higiëniese standaarde. Hulle moet voldoen aan gesondheid- en veiligheidsregulasies of hulle kan gedwing word om te sluit. Sulke standaarde kan net in ʼn beheerde omgewing gebeur.”

Weens die bykomende afleweraars en voertuie wat nou betrokke is, kan restaurante nie behoorlike beheer uitoefen nie.

“Dit is ʼn eenvoudige som wat gedoen moet word. Dit is te duur om wegneemetes te bestel. Die eenvoudige probleem moet dalk aan die wiskundige vaardigheid van die baie skerpsinnige lede van die nasionale bevelsraad oorgelaat word wat dit duidelik lank en hard oor ʼn bottel Château Pétrus uitgepluis het. Of wag, alkohol word ook nie toegelaat nie.”

Ingryping nodig

(Foto: pixabay)

Bronwyn Cadle de Ponte, voorsitter van die TTA, het by navraag gesê sou regstappe eindelik nodig wees, sal hulle moontlik aanvoer dit is veiliger om wegneemetes by restaurante te gaan afhaal as om dit te laat aflewer. Daar kan ook gevra word vir duidelikheid oor die proses wat gevolg is om tot dié spesifieke besluit te kom.

Sy sê die uitwerking van die afsonderingstydperk was tot dusver enorm.

“Daar is reeds ondernemings wat permanent gesluit het, afleggings en sakelui wat vir sakeredding aansoek gedoen het. Werkers in die bedryf is in ʼn benarde situasie wees vertraagde of wisselvallige werkloosheidsversekeringsbetalings,” het sy gesê.

Volgens haar is dit uiters belangrik dat koste nou besnoei word en dat die regering ingryp om te help.

Sy sê dit is belangrik vir sakelui om in dié tyd innoverende planne te maak. “Ons gaan die vierde nywerheidsrevolusie veel vinniger as verwag binne. Maar alles kos geld en die meerderheid restaurateurs het nie die diep sakke wat nodig is om in innovasie en nuwe tegnologie te belê nie.”

Die vereniging vra dat die regering ingryp op onder meer munisipale vlak om diensterekeninge te help verminder. Daar word onder meer ook gevra dat verpligte bedryfsgelde wat steeds betaal moet word, tydelik opgeskort of minstens verlaag moet word en dat toerisme-ondernemings BTW-verligting kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

PH ·

Dit is mos logies: hoe groter die risiko aan blootstelling is; hoe meer mense gaan besmet word. As ek my pizza – of wat ookal – self gaan haal sluit ek die aflewering uit

Willem ·

Die regering het die slimste raadgewers in die wereld hul weet alles

Nie Verbaas ·

Deurdink die regering enige iets of neem opgeblase egos oor? Die ingeligtes sit net en giggel oor al die slim besluite.

Hennie ·

Die regering se absolute onvermoë is in ons gesig elke dag. Hulle was nooit bestem om iets te begin of besluite te maak wat logies en geregverdig is nie. Hulle is self liefhebbers en dra slegs hul eie belange op hul kul harte!

Pierre ·

Vat die mag in jou hande, jy staan net onder een wet die Wet van God onse Vader

MrMagic ·

Ek glo ook dit is regverdig om sekere betalings van munisipale rekeninge te staak tot na die inperking.

Alida ·

Die Dr tannie met die kopdoek verstaan nie mooi nie. Als is n gemors.

Cherokee ·

Dit maak geen sin dat restaurante BTW verligting kry terwyl kliënte steeds vol BTW betaal nie. Nog al die jare teken hulle kelners aan maar ons moet die kelners se salarisse betaal. Gewoonlik, maar veràl in ‘n tyd soos nou, wil ek kos nuttig wat ek weet in ‘n skoon kombuis gemaak is. En my kombuis is silwer skoon.

AH ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die mees onlogiese reëls gemaak word sonder om die groter prentjie te sien en dan afgedwing word! Aflewering van gaar kos is beslis teenoor afhaal van dieselfde kos nie eens vergelykbaar nie. So ook “drive through” kitskosplekke. Die middelman word uitgesny en restaurante moet in elkgeval higiëniese standaarde handhandhaaf. As jy jou bestelling plaas en self gaan afhaal weet jy mos waar jou kos gaan en hoe skoon of nie jou voertuig is. Jy hoef nie te wonder oor die toestande waaronder dit vervoer was nie. Dieselfde met “drive through” plekke. Jy sit in jou kar, masker op jou gesig, plaas jou bestelling deur ‘n interkom, betaal by ‘n venster waar jou gesig en die kassier se gesig verder van mekaar af is as in ‘n supermark en kry dan jou sakkie kos by die volgende venster. Baie makliker, maar miskien juis daarom afgeskiet deur sekere magsbehepte mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.