Reus in uitsaaiwese se stem nou stil

Hennie Maas. (Foto: Facebook)

Hennie Maas, jarelange ankeraanbieder van die RSG-program Sterre en Planete, het Donderdag sy stryd teen kanker verloor.

Hy was 82 jaar oud.

Hennie se kleurryke loopbaan in die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese strek oor meer as vyf dekades, maar hy was veral bekend om sy ruimteprogram, Sterre en Planete, op RSG.

Huldeblyke en boodskappe van medelye het intussen vir Hennie op sosiale media begin instroom.

“Ek was bevoorreg om vir vier jaar aan sy program deel te neem. Baie dankie vir alles Hennie, rus in vrede,” skryf Lafras Smit op Facebook.

Volgens Herman Toerien, nuuskommentator en ruimtekenner, het die nuus van Hennie se afsterwe hom “hard getref”.

“Hy was ʼn reus in die uitsaaiwese. Hy het alles wat hy op die lug gesit het, deeglik aangepak, en sy bydraes oor die landbou was besonder leersaam,” sê Herman, wat ook betrokke by die samestelling van Sterre en Planete was.

“Sowat twee jaar later is ek self met twee kankers gediagnoseer, en mettertyd kon ek nie meer volhou nie. Hennie het nog gereeld gebel om te oor hoe dit gaan, en ook moeite gedoen om my in die kankerstryd te bemoedig.”

Hennie het in 1965 by die SAUK in Johannesburg aangesluit as ʼn aanbiedingsassistent. In 1967 word hy na die SAUK in Pretoria verplaas en sluit hom ʼn jaar later by die streeknuuskantoor aan.

Laat in 1969 vertrek hy na Nederland om drie jaar lank in die Afrikaanse afdeling van Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum as omroeper te werk. Radio Nederland het onder andere programme in Afrikaans oor sy kortgolfsenders uitgesaai.

Daarna het hy teruggekeer na Suid-Afrika waar hy aangestel is as nuusbulletinskrywer in Johannesburg by die nasionale nuuskantoor van die SAUK. Later, in 1973, slaag hy ʼn omroeperstoets en word aangestel as omroeper by die Afrikaanse Diens.

In 1983 word hy die organiseerder van Afrikaanse en Engelse programme in Pretoria. Hy word later bestuurder van aktualiteit en sport by RSG in Johannesburg. In 1995 keer hy weer terug na Pretoria as bestuurder en met die sluiting van die SAUK-kantoor in Weavind Park, word hy spesialis omroeper by RSG.

Hennie Maas. (Foto: Clyde Foster/Facebook)

Hennie het einde 2005 afgetree, maar het steeds Sterre en Planete op ʼn vryskutbasis hanteer totdat hy te siek geword het om met die program voort te gaan. Willie Koorts bied nou Sterre en Planete aan.

“[Hennie se] diep, harmonieuse stem sal gemis word,” skryf Clyde Foster, ʼn vriend.

“Ek het hom in hierdie laaste jare goed leer ken, en ʼn diep vriendskap het ontwikkel. Ondanks sy eie uitdagings, sou hy altyd bel om te hoor hoe dit met my gaan en hoe Marina [Clyde se vrou] haar eie kankerdiagnose hanteer.

“Dit was dié man se natuur. ʼn Massiewe verlies. Rus in vrede, Hennie. Dit was ʼn eer om jou te ken, en jy sal bitterlik gemis word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dries ·

Jammer oor die groot verlies. Simpatie aan die familie/vriende.

OW ·

Dit sluit ‘n era af van die groot geeste in die uitsaaiwese,wat gekenmerk is deur hulle professionaliteit.Daniel Kirstein,
Johannes v/d Walt,Riaan Cruywagen,Cor
Nortje,Nic Swanepoel,Nic die Jager Dolf van Niekerk, om maar ‘n paar te noem.Mag julle rus in vrede,vir die wat al oorlede is.Van kindsbeen af het ons na julle geluister.

Noni ·

Innige simpatie aan die familie en vriende met julle groot verlies
RIV

Johan ·

Sterkte aan sy familie hy was n proffesionele omroeper en n baie aangename persoon

Skappie ·

Sterkte aan sy gesin, vriende en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou vir hierdie moeilike tyd wat nou vir julle voorle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.