Reusebedrag ingesamel vir petroljoggie na goeie daad

Nkosikho Mdele (Foto: Facebook)

Die publiek het hul harte en beursies behoorlik oopgemaak vir die petroljoggie wat vroeër die week ʼn jong vrou by ʼn vulstasie gehelp het.

Monet van Deventer (21) van Gordonsbaai in die Wes-Kaap was Donderdagoggend op pad na Tuine in Kaapstad toe sy by ʼn vulstasie buite Makassar gestop het om brandstof in te gooi toe sy besef het dat sy nie haar bankkaart of kontant by haar het nie. Nkosikho Mdele, die petroljoggie wat haar bedien het, het toe tot Van Deventer se verbasing vir haar brandstof ingegooi en daarvoor betaal.

Van Deventer het ná die voorval ʼn veldtog op die skarefinansieringsblad Backabuddy begin om geld vir Mdele in te samel. Daar is Sondag teen 12:00 reeds meer as R300 000 vir Medele ingesamel.

Volgens Van Deventer is dit fantasties om te sien hoe gewillig mense is om te help en ʼn bydrae te maak.

“Dit wys my net weer eens as ons almal begin saamstaan kan ons saam ʼn groot verskil maak in mekaar se lewens. Een vriendelike gebaar kan iemand anders se lewe verander.”

Van Deventer het gesê Mdele is bewus van die veldtog. “Hy het my vanoggend gevra of daar enige manier is hoe hy vir mense kan dankie sê – so ons gaan later in die week dalk ʼn video maak. Siestog, hy sê dit voel of hy droom.”

Mdele het vir Van Deventer R100 se brandstof ingegooi. “Ek het aanvanklik gedink dis ʼn slenter en dat hy my bankbesonderhede gaan vra. Ek was so geskok toe hy my niks vra nie, nie my naam of selfoonnommer nie, niks nie! Eers toe ek wegry het ek besef dat hy eintlik maar net ʼn goeie daad vir my wou doen, niks anders nie. Dit is wonderlik!” het sy gesê.

Monet van Deventer (Foto: Facebook)

Mdele het aan Maroela Media gesê dat hy haar bloot gehelp het omdat hy kon sien sy hulp nodig gehad het.

“Ek wou nie hê sy moet op die N2 gaan staan sonder brandstof nie. Dit is nie veilig nie, so ek wou haar help,” het hy gesê.

“Ek was nie bang dat sy nie my geld gaan terugbring nie, ek het nie verwag dat sy gaan nie. Ek was meer bang dat iets met haar gaan gebeur as sy sonder genoeg brandstof verder gaan ry. Ek wou hê sy moes veilig uitkom waar sy moes wees.”

Van Deventer het gesê sy het dieselfde dag nog die geld vir Mdele teruggevat. Sy het ook vir hom sjokolade gevat om dankie te sê.

“Hy was so geskok om my weer te sien. Hy was baie dankbaar, maar dit het nie gelyk of hy verwag het dat ek gaan terugkom nie.”

Van Deventer het daarna ʼn plasing op Facebook gemaak wat al duisende kere gedeel is en oorloop van positiewe kommentaar oor Mdele se goeie daad. Talle mense het ook al uitgereik na Van Deventer om vir Mdele in die hande te kry om donasies aan hom te maak of om vir hom geskenke te stuur waarna sy die Backabuddy-veldtog begin het.

Volgens Van Deventer het die hele situasie haar nuwe hoop vir die land gegee. “Ek voel asof ek weer mense kan vertrou. Ek het hoop teruggekry wat vir ʼn baie lang tyd weg was, omdat ek so baie slegte goed sien en lees. Dit wys jou net daar is nog goeie mense daar buite wat mense help sonder om enigiets terug te verwag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anoniem ·

Hierdie gebaar is die begin van verandering in mense se harte
Herlewings BEGIN só Sterkte en dankie

Arrie ·

Monete, wil ook net vir jou dankie sê dat jy verder gegaan het om jou dankbaarheid aan hom te bewys. Jy het ook net so n goeie hart.

Jan Brand ·

Wat ‘n pragtige gebaar! Die meeste mense in ons land is ordentlike burgers. Ons kan almal positief wees en die land so vorentoe neem.

Sean ·

Mdele jy is ons hero Ons het gehuil toe ons dit lees Ek wens ek kon n berg uit jou pad uit rol Jy gee ons hoop

Anne ·

Dis twee goeie jongmense met goeie harte wat ‘n wonderlike voorbeeld stel vir almal. Dis al. Dis vir ‘n slag iets positief. Ek is baie dankbaar vir so ‘n storie.

Diefie ·

Trots op jou Nkosikho, gebruik die fondse wys en moenie dat ander jou intimendeêr nie. Bou voort op jou mooi geaardheid.

Anita ·

dink net as elke persoon op hierdie wyse mekaar behandel, wat ‘n wonderlike land sal ons kan in leef. Die Here se seën sal mildelik aan hom en sy familie toegedien word.

Barend ·

Iemand betroubaar sal hom moet help om die geld veilig te belê. Miskien kan Solidariteit/AfriForum hom help.

Oom Charles ·

Daar’s ek saam met jou, Barend.

Ek hoop van harte dat Nkosikho ‘n betroubare finansieraadgewer sal vind. Miskien weet jy van so ‘n kundige, Monet?

GM ·

Dis regtig awesome, maar ek dink nie dit is baie wys om ‘n naam en foto van die man te plaas en dan te sê hoeveel alreeds vir hom ingesamel is nie. Ons bly in S.A. Familie en ‘vriende’, wat nooit van hulself laat hoor het nie, gaan baie vinnig begin opdaag as hul besef hy het nou ‘n bietjie geld. Party sal jou vermoor vir ‘n R5.

Dankbaar vir die baie omgee-mense, dit voel of daar so min van hul is deesdae.

Houtoog Langtand ·

Alles goed en wel, maar normale medemenslikheid word beloon asof dit die mees uitsonderlike daad van onbaatsugtigheid in menseheugenis is. So almal reken om R 100 se welwillentheid te koop kos 4500 keer meer? Bietjie beter as sewentig maal sewe. Dit is die histerie van mense wat dankbaar is hulle is nog nie vermoor nie, dit is implisite rassisme van diegene wat beweer hulle is nie rassiste nie, maar duidelik gedrag wat nie deur hul stereotipes voorspel word nie as so besonders ervaar dat hulle enigiets sal betaal om aan te hou hoop. Hierdie hele spektakel verduidelik alles wat ‘n mens hoef te weet. Julle het nie genoeg geld om gewone medemenslikheid teen daardie wisselkoers te koop nie. Doen die somme.

Sputnik ·

Ek besef die man het ‘n werk wat hy waarskynlik geniet, maar dit is nou hier waar die geld eerder verantwoordelik en wys bestuur en aangewend moet word deur ‘n betroubare instansie sodat hy bv. kan studeer en sy situasie nog verder verbeter.

Attie. ·

Niemand dink dat dit net toevallig is dat die ontvanger van die gratis petrol toevallig ‘n pragtige jong meisie is nie, nee die joggie word opgehemel vir sy GROOT daad. Nou dink alle filantrope hy is ‘n held.

Swanna ·

Ek weet almal gaan nou op hulle perde spring en my wil” HUNT” maar oppas dat julle nie nou ‘n insident besig is om te skep nie. Die gebaar is goed en beteken baie. Soms moet jy ook versitig wees in die tye wat ons leef vir sulke gebaar. Ander kan dit ander sien en dan ook dit gaan doen en dan dieselfde verwag van elkeen wat gehelp word om so massiewe bedrae in te samel vie hulle en as dit nie gebeur nie is die HEL los. Sê maar net. Nie nodig om nou my kop af te byt nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.