Reusehulppakket ná skade weens oproer

Tito Mboweni, die minister van finansies (Argieffoto: GCIS)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het Woensdag meer besonderhede verskaf oor die hulppakket wat die regering ná die onluste van vroeër vandeesmaand saamgestel het – en hy het benadruk dat die regering nie nog geld sal hoef te leen om dit moontlik te maak nie.

Die pakket sal na verwagting altesame R38,9 miljard beloop en is grootliks moontlik gemaak deur verbeterde belastinginvordering.

Mboweni sê die oproer en verwoesting in KwaZulu-Natal en Gauteng het ʼn enorme uitwerking op die land se ekonomiese herstelkoers gehad, met winkels, sentrums, poskantore, fabrieke en vervoernetwerke wat onder meer geteiken is.

Die koste van die hulppakket sluit in die herinwerkingstelling van die spesiale R350-toelaag wat die tesourie teen byna R27 miljard gaan finansier. Dit sal tot Maart volgende jaar geld.

Volgens Mboweni beloop die skade van die plundering vroeër vandeesmaand sowat R50 miljard. “As jy verstaan hoe die ekonomie werk, besef jy daar is onmiddellike skade van R50 miljard, maar die vermenigvuldige uitwerking daarvan op die ekonomiese stelsel is enorm.”

Mboweni sê hoewel die meeste van die skade deur versekering gedek word, is die werklike terugslag vir die ekonomie die skade wat aan sakeondernemings en beleggersvertroue aangerig is.

“Ek kan om die dood nie verstaan hoe die afbrand van ʼn winkelsentrum enigiets oplos nie, dit doen nie; of hoe die brand van vragmotors by die Mooirivier-tolhek met enigiets help nie, want dit doen nie.”

Die minister sê Sasria (die staat se versekeraar teen oproer) sal alle betalings aan ondernemings wat verseker is, nakom. Die regering het ook onderneem om Sasria te steun indien hy sy solvensiebeperkinge oorskry. Dié steun beloop in hierdie stadium R3,9 miljard.

Sowat R5 miljard is ook toegewys vir veral die uitbreiding van belastingaansporing vir indiensnemings (ETI) vir vier maande. Mboweni het aangekondig dat werknemersbelasting (PAYE) vir kwalifiserende bedrywe vir drie maande uitgestel kan word en die betaling van aksynsbelasting op alkohol ook.

Hierdie maatreëls sal op 1 Augustus in werking tree, met die nasionale tesourie en Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat later meer besonderhede sal bekend maak.

Steun aan kleinsakeondernemings wat nie deur Sasria gedek word nie, sal R2,3 miljard beloop. Die bedrag bestaan uit die herprioritisering van sowat R1 miljard en ʼn bykomende R1,3 miljard van die departement van handel, nywerheid en mededinging, asook die departement van kleinsakeontwikkeling.

Volgens Mboweni kry die polisie ʼn bykomende R250 miljoen en die weermag R700 miljoen.

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het R5,3 miljard opsy gesit vir die verlenging van TERS-uitbetalings en dit sal hoofsaaklik aangewend word vir diegene wat hul werk weens die inperkingstyd verloor het.

Wat betref diegene wat hul werk weens die afgelope maand se onrus kwyt is, sal die WVF inkomstesteun gee. Die minister van arbeid en indiensneming sal later meer detail hieroor verskaf.

“Ons is deeglik bewus dat die aankondiging van die hulpmaatreëls kom op ʼn tyd waarin daar reeds druk op die fiskus is. Die grootste hiervan is die salarisrekening van die staat,” sê Mboweni.

Hy sê die tesourie het reeds begin om die herprioritisering van staatsamptenare se salarisse af te handel en die meeste vakbonde het die regering se jongste salarisaanbod aanvaar.

Solidariteit was egter krities oor die regering se “pogings tot oplossings” vir die ekonomiese krisis waarin die land hom bevind. Die organisasie is van mening dat die beskikbaarstelling van nóg geld om die R350-toelaag aan werkloses te kan bekostig, onvolhoubaar is en meer druk op die ekonomie sal plaas.

Solidariteit sê die groter as verwagte belastinginkomste is steeds minder as wat nodig is om die gewone staatsbegroting te laat klop en kan eerder daar aangewend word.

“Wat die regering met sy hulppakket doen, is om mense op skuld aan die lewe te hou in stede daarvan om vir hulle ’n beter toekoms te skep. Wat hy eerder moet doen, is om mense in staat te stel om te floreer,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit.

“Dit kan net gebeur as die regte klimaat geskep word waar ’n ekonomie kan groei sodat werksgeleenthede meer geredelik beskikbaar kan wees. Deur onmiddellik van sy arbeidsregulasies te verslap en weg te doen met stremmende regulasies en ideologieë soos minimumloon en swart ekonomiese bemagtiging, sal dit wel moontlik wees,” sê Du Buisson.

Solidariteit het wel die belastinguitstel vir sukkelende ondernemings verwelkom, maar pak die skuld vir die verknorsing waarin talle sakelui hulle bevind, op die regering.

Mboweni het in sy toespraak ook gesê werkers behoort toegelaat te word om toegang tot ʼn gedeelte van hul pensioengeld te kry, maar het gemaan dat dit verantwoordelik gebruik moet word.

“Dit is ʼn kwessie wat oënskynlik êrens in die stelsel vasgesteek het en te doen het met ʼn toegewing vir werkers om toegang tot ʼn persentasie van hulle aftreegeld in hierdie moeilike tyd te kry,” sê Mboweni.

Hy sê die kwessie is al tot vervelens toe by Nedlac bespreek en hy is meer vasbeslote as ooit om te verseker die saak word versnel.

Volgens die minister kan die geld byvoorbeeld aangewend word om ʼn huislening of ander skuld af te betaal.

Du Buisson sê dié voorstel is dalk goed op kort termyn, maar waarsku dat die minister ʼn “onbeheerbare perd opsaal”. Hy sê die wette en regulasies met betrekking tot pensioenfondse bestaan vir ʼn rede en dit is om mense in staat te stel om so ver moontlik onafhanklik te kan aftree.

Du Buisson sê hoewel hierdie ʼn noodsituasie is, word ʼn gevaarlike presedent geskep wat kan verhoed dat mense gemaklik kan aftree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Buck ·

Trots om aan tekondig dat die skade wat die wat nie wil werk nie maar eerder afbreek, die werkende, belastingbetaler wat probeer opbou, 38,9 miljard vaan kos. Mooi man

Kobus ·

Al hierdie toelaes wat nou ook betaal gaan word tot Maart 2022 is perfek bereken.Hoekom? Die verkiesing is mos Februarie of hoe? Staatdiensamptenare kry mos ook ‘n meevallertjie van tot R1950 pm tot dan. Slim sou ek se.Hoeveel miljoen stemme klaar in die ANC se guns?

Kokerboom ·

Onnodige geldvermorsing wat nie nodig sou wees as regering sy basiese verantwoordelikhede nagekom het! Nou skep hul meer sosiale afhanklikheid wat ‘ n onding is en NIE volhoubaar is!!

Vonkprop ·

Die regering praat van hierdie bedrae asof hulle Monopoly speel. Moenie stres nie, ons kry mos weer volgende maand geld of hoe het die een kalant gesê, ons druk net nog geld.

annie ·

Vroutjie ek het al die mielies verkoop en al die kool en die maer ou koei… Net môre ry ons stad toe en verf die winkels rooi. En ons gaan ‘n paar dae in die Ritz oorbly en net oesters en kreef eet dat die vet op die tafeldoek drup plus sjampanje vir almal… Kies en ek betaal. Volgende jaar bekommer ons ons oor volgende jaar se probleme… Vrou, hoekom is jy so stil?

Hennie ·

Morele en finansiële bankrot ANC regering wat weer stemme koop vir die uitgestelde verkiesing….

Henri ·

Wetsgehoorsame burgers betaal belasting. Wetsgehoorsame burgers se winkels geplunder en afgebreek. Wetsgehoorsame burgers ruim skouer aan skouer op.

Regering se plan? Beboet wetsgehoorsame burgers met hoër belasting.

Kaal Keiser ·

… mooi word hulle beloon vir hul “looting’ …350 randjies vir jou daar !

Anoniem ·

Hierdie hele “paket” is presie uitgewerk rondom die ANC vir volgende jaar se verkiesing. Belaglik. Kyk maar wie gaan die “pakket” ontvang, beslis nie almal wat skadegely het nie. Ons land het ‘n oorvloed van geld om tot aan die werkloses uit te deel wat in elkgeval geen geld verdien het nie, nou dink hul wat gaan gebeur as hul die Maart volgende jaar stop. Ons einde is nader as wat ons besef.

Karina ·

Hoeveel van die geld sal slegs aan die swart bemagtiging winkel eienaars uitbetaal word en hoeveel aan die wit eienaars? Vra maar net.

Heleen ·

Nee julle die is next level want die som maak nir sin nie????

ABDP ·

Hul plan om (1) Belasting in te win vir vergoeding om die opbou werk te doen en (2) die TERS van R350-00 word weer ingestel om die armes se sakke te vul is slegs ‘n lafhartige plan. Die besighede wat die belasting geld genereer wat vir hierdie twee punt plan moet help, is juis die wat nou geen belasting kan genereer nie, maar nou moet hulle “eie belasting geld” wat nie genereer kan word nie, hulle uit die moeilikheid help. Hierdie kan geen “opbou plan” benoem word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.