Riglyne gefinaliseer om haarkappers weer oop te maak

Argieffoto (Foto: Engin Akyurt/Pixabay)

Die vakbond Uasa werk saam met die bedingingsraad en werkgewers om seker te maak skoonheidsalonne kan so vinnig as moontlik weer hul deure oopmaak.

Die nasionale bedingingsraad vir haarkappers, kosmetika, skoonheid en velsorg (HCSBC), die werkgewersorganisasie vir haarkappers, kosmetika en skoonheid (EOHCB) en UASA werk deurgaans en is sedert die laaste deel van risikovlak 5 deurlopend in gesprek met die regering om seker te maak dié werknemers kan terugkeer werk toe.

Die organisasies het in ʼn gesamentlike verklaring gesê die gesprekke vind interaktief en konstruktief plaas sodat ʼn regstryd nie nodig sal wees nie.

“Danksy die onverbiddelike pogings van dié drie organisasie het die regering nou aangedui dat hy besig is om die gesondheidsprotokol vir haarkappers, kosmetika, skoonheid en velsorg te finaliseer. Sodra die protokol, wat noodsaaklik is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, afgehandel is, sal persoonlikesorgdienste kan hervat.”

Die bedryf is swaar getref deur ekonomiese probleme weens die afsonderingsperiode. Bedrywighede is al meer as twee maande lank gesluit en alles moontlik word glo gedoen om seker te maak dat die bedryf so vinnig as moontlik kan hervat.

Die HCSBC, EOHCB en UASA het aan die einde van vlak 5 ʼn voorlegging van 87 bladsye ingedien as motivering waarom dié bedryf weer moet hervat. Die voorlegging is by die nasionale beheerraad en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, ingedien. Dit is verwerp en die nasionale beheerraad het by sy besluit volstaan dat die ekonomiese probleme van persone in die bedryf nie swaarder weeg as dit wat deur ander bedrywe in die gesig gestaar word nie.

“Dit was duidelik dat dit baie moeilik sou wees om die nasionale beheerraad te oorreed om sy besluit te heroorweeg en selfs al sou die HCSBC, EOHCB en UASA hulself tot die hof wend, daar nie enige kans op sukses sou wees nie. Dit is in die hooggeregshof in Kaapstad bevestig toe ʼn aansoek deur adv. Carlo Viljoen van die hand gewys is. Hy het in sy persoonlike kapasiteit op 28 Mei tydens vlak 4 ʼn aansoek ingedien om ʼn hofbevel te bekom dat haarkappers kon terugkeer werk toe.”

Die organisasies het verdere dokumentasie by die regering ingedien toe daar op 22 Mei aangekondig is dat vlak 3 op 1 Junie in werking sou tree. Die gesondheidsprotokol en riglyne wat gevolg sou word, is uiteengesit om die veiligheid van werknemers en kliënte te verseker. ʼn Video is ook ingedien om te verduidelik hoe die protokol toegepas sou word.

“Toe die regulasies vir vlak 3 op 28 Mei gepubliseer is, moes die HCSBC, EOHCB en UASA weer met teleurstelling verneem dat die bedryf nie kan heropen nie. Die regulasies het egter voorsiening gemaak dat spesifieke persoonlikesorgdienste kon hervat, onderworpe aan die ontwikkeling en implementering van gesondheidsprotokol.”

Die organisasies het sedertdien van die geleentheid gebruik gemaak en meedoënloos gewerk om seker te maak die bedryf kan hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

As mens die regering los om riglyne daar te stel kan dit nog maande neem

AH ·

Die ironie van die saak is dat al sinnelose inperkings nou skelms van ons normaalweg wetsgehoorsame mense maak. Ek het my hare laat sny en sal nie die besonderhede bekend maak nie, maar ek het nie ‘n ander opsie gehad nie. Ek neem my huishulp deesdae huis toe en elke liewe barber shop en haarsalon in die Township waar sy woon is oop. Ek wonder of kopdoekantie en Ramaphosa al gesien het hoe dit by taxi staanplekke en ander openbare plekke lyk, veral in die Townships. Ek laat my nie vertel dat dit ‘n groter risiko is om hare te laat sny of toonnaels te laat doen as wat dit is om my brood en melk by die naaste supermark te gaan koop nie!

Gemaskerde Sopbeen ·

Jy slaan die spyker sommer herhaaldelik op die kop

Retha ·

Dit is belaglik, haarkappersalonne is noodsaaklik. Nie net vir die salon en eienaar self nie, maar ook vir die publiek. Ons begin al soos seerowers lyk met onnet hare met maskers daarby. Glad nie mooi prentjie nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.