Riool in Groot Visrivier lei tot regstappe

Die Cradock-watersuiweringsaanleg. Foto: Verskaf

Die departement van water en sanitasie doen regstappe om ʼn Oos-Kaapse munisipaliteit te dwing om die besoedeling van die Groot Visrivier te staak.

Andrew Lucas, ʼn verteenwoordiger van die departement verantwoordelik vir waterregulering in die Oos-Kaap, het gesê regstappe word gedoen teen die Inxuba Yethemba-munisipaliteit in die Chris Hani-distriksmunisipaliteit.

Volgens Lucas is die Watersuiweringsaanleg in Cradock buite werking en word daar net chlorering gedoen om die uitvloeisel te hanteer wat tot gevolg het dat onbehandelde riool voortgaan om in die Groot Visrivier te vloei.

Die departement van water en sanitasie in die Oos-Kaap het in Oktober 2016 ʼn direktief aan die Chris Hani-distriksmunisipaliteit uitgereik om aansoek te doen vir die goedkeuring van sy Cradock-watersuiweringsaanleg en te voorkom dat besoedeling plaasvind, asook om die betrokke gebied te rehabiliteer.

Die munisipaliteit het ʼn aksieplan ingedien wat nie goedgekeur is nie aangesien dit nie aan die vereistes van die direktief voldoen het nie, het Lucas gesê.

“Nog twee kennisgewings is in 2018 uitgereik om ʼn aksieplan in te dien en geen antwoord is ontvang nie.” Die provinsiale departement het die saak na die nasionale departement verwys om vir ʼn hofinterdik aansoek te doen.

Volgens Lucas word daar op uitstaande verslae van die provinsiale departement gewag sodat die hofaansoek ingedien kan word. Die nasionale departement het ook ʼn omgewingsinspekteur na die Cradock-watersuiweringsaanleg gestuur om ʼn roetine-oorsiginspeksie te doen. Daar is bevind dat die watersuiweringsaanleg glad nie in gebruik is nie, asook dat daar nie ʼn enkele munisipale werker by die aanleg was nie maar slegs twee veiligheidswagte.

Afvalwater vloei steeds in die aanleg, maar word nie behandel nie en vloei dan in die Groot Visrivier in. Die probleme by die aanleg is glo meganies van aard aangesien die meeste van die pompe disfunksioneel is en dit tot gevolg het dat rou riool op verskillende plekke, veral uit mangatgate, vloei.

Volgens Lucas blyk dit dat die watersuiweringsaanleg al vir ʼn hele paar weke in die toestand is.

Retief Odendaal, lid van die Oos-Kaapse wetgewer en DA-leier oor die Oos-Kaapse Middelland, het intussen gesê die situasie het nou krisisafmetings bereik. Odendaal het ʼn brief aan die Groen Skerpioene geskryf en hulle versoek om ondersoek in te stel en in te gryp.

“Gegewe die belangrikheid van die Groot Visrivier en die belangrike rol wat dit speel in die besproeiing van derduisende hektaar landbougrond, is die ontslag van onbehandelde riool in hierdie rivier ʼn dreigende ekologiese én ekonomiese ramp.

“Nog meer ontstellend is die feit dat ʼn aantal nedersettings langs die rivier lê. Inwoners het geen ander keuse as om water direk van die rivier te verkry vir gebruik nie weens die droogte wat ons streek lamlê.”

Volgens Odendaal het hy Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, skriftelik versoek dat haar departement binne die volgende sewe dae die hofaansoek moet indien en die resultate van die watermonsters wat geneem is openbaar moet maak.

Odendaal het gesê indien hy nie bevredigende terugvoer van die departement ontvang nie sal hy die Menseregtekommissie nader om die saak verder te ondersoek en stappe te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Diefie ·

En waar stroom die riool nie nog in nie. Alle waaraan gevat word verander in “riool”

John ·

Danksy ons munisipaliteit hoef ons nie meer melk te koop nie… ons gooi net die gratis melk uit die kraan by die koffie. Ons wag net vir die potte heuning wat CR glo nou in die posbus gaan laat aflewer. Buurman het onlangs saam net sy nuwe braaihoutbesigheid vanaf sy voorstoep…glo torgevrete boompies… ‘n bleikmiddelfirma begin, dis nou voor die melk begin vloei het. Wat van ‘n Amatola-kunsmisfabriek by die Visrivier…

Kanovaarder ·

Port Elizabeth kry van sy drinkwater uit die Visrivier. Die water vloei via kanale tot in die Sondagsrivier en word vandaar gepomp na PE. Byna al die plase langs die riviere gebruik die water as drinkware vir diere en as besproeiingswater. Hierdie is n enorme krisis, maar ons oorbetaalde amptenare gee mos nie om nie. Walglik!

jean ·

“Niemand” wat naby die rivier bly raak sien of gaan dood van daadie water nie….net die visse, watervoëls, paddas ens

Klipindiebos ·

Wanneer praat nie meer help nie. ‘n Goeie tema vir ‘n nuwe boek.

toy ·

Die mense wat moet toesien dat dit nie gebeur nie, vat hulle vas dit raak belaglik hoe dit gaan in ons land, niemand gee ‘n flenter om vir mens of dier nie.

Hendrik van George ·

Watersuiwering is ‘n Westerse begrip…. ???? ????

marous ·

Vergeet die regs aksies. Skep dit in emmers en plak dit in hulle kantore neer . Gooi sommer in hul waterbekers ook . Dan sal hulle iets doen of loop.

Frederik ·

Hoekom vat dit so lank om te herstel.
Nou hofsake en dan hiernatoe en daarnatoe.
Moes mos dieselfde dag reg gemaak word.
Waar gaan ons heen.??????????????????????.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.