Rise Mzansi as politieke party geregistreer

(Foto: Rise Mzansi/Facebook)

Rise Mzansi sê hul planne vorder goed vir ʼn kongres volgende week.

Songezo Zibi, nasionale leier van Rise Mzansi, het tydens ʼn perskonferensie sê die kongres sal fokus op die vordering wat die party tot dusver gemaak het, die beleidstemas wat gesprekke by die kongres sal lei om ʼn manifes saam te stel, en watter politieke mylpale dié party tot November in gedagte het.

Zibi sê hy kan ook bekendmaak dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) die party se aansoek goedgekeur het om as ʼn politieke party te registreer. “Die weg is nou gebaan vir Rise Mzansi om in elke provinsie in 2024 aan die nasionale verkiesing deel te neem.”

Zibi sê honderde vergaderings is sedert April in al nege provinsies met Suid-Afrikaners gehou. “Mense het hul hoop en drome vir hulself, hul gesinne, gemeenskappe en Suid-Afrika met ons gedeel. Ons het die kwessies bespreek wat hulle snags laat wakker lê – in dieselfde taal wat hulle met mekaar deel. Hulle kon sê presies hoe die beste oplossing vir hulle sal voel en lyk.”

Zibi sê kwessies wat aangeroer is, is hongersnood, dwelmmisbruik, probleme met geestelike welstand, en ʼn gebrek aan ondersteuning vir openbare gesondheid in meeste gemeenskappe. “Hulle het ook gepraat oor selfmoord, depressie en ʼn gevoel van hopeloosheid. Vroue het ook vertel hoe mans in munisipale kantore omgang eis in ruil vir werk of klein tenders, en dan kry hulle in elk geval nie die werk nie. Dié gesprekke het ʼn invloed gehad op die struktuur, aard en vloei van die kongres. Dit is die hartjie van hoekom dit anders sal wees as enigiets wat meeste mense van Suid-Afrikaanse politiek verwag.”

Zibi sê daar was ook intense, maar eerbiedige en oorwoë gesprekke oor immigrasie en hoe om dié gebreke te takel. “Mense verstaan dat ons nie ons immigrasiestelsel kan herstel wanneer ons ʼn politieke party het wat besig is om die regering te breek en ons ʼn weermag het wat bankrot en onbekwaam is om ons grense te patrolleer of beskerm nie.”

Rise Mzansi se kongres vind plaas van 6 tot 8 Oktober en sal fokus op die familie (in al sy vorme), die gemeenskap (spesifiek gemeenskapsveiligheid), regering (ʼn reaksie op verkiesingshervorming, immigrasie, die stryd teen korrupsie), ekonomiese herstel, nasiebou en klimaatsverandering.

Sowat 800 afgevaardigdes van al nege provinsies sal die kongres bywoon. Die manifes sal ʼn maand ná die kongres gepubliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Wie is die ou nou? Blykbaar kan jy groot geld maak as jy net ‘n polietike party stig. Jy hoef niks eintlik te wen nie.

Samuel ·

Dit ís wonderlike nuus. Uiteindelik ‘n politieke party wat op Christelike waardes gebaseer sal wees.

Anel ·

Waar het jy dit raak gelees? Ek sien niks van Christelike waardes nie. Net nog ‘n oë verblindery party. Sê wat hulle dink die mense wil hoor voor die verkiesing. Belowe die son, maan en sterre maar waar is die bewyse dat hulle al iets vermag het?

Taurus ·

Wat beteken mzansi in goeie Afrikaans?
Gaan hierdie party my godsdiens, taal en kultuur respekteer?
Staan hulle die vryemark beginsels voor?
Wat is hulle standpunt oor die verkleining van die parlement?
Wat is hulle standpunt oor die voorgestelde sosialistiese gesondheidssorg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.