Rob ná 9 maande gered

Uiteindelik vry! (Foto: Twee Oseane-akwarium)

Die Twee Oseane-akwarium se span wat na die welstand van robbe omsien en die span van die Mariene-bestuursprogram by die V&A Waterfront in Kaapstad sukkel al nege maande lank om ʼn ontwykende Kaapse pelsrob te red. Die rob het verstrengel geraak in vislyn wat nie behoorlik weggegooi is nie.

“Die rob was baie hardkoppig en wou nie op die platforms of geïsoleerde gebiede tot rus kom (waar ons span hulle gewoonlik behoorlik kan help) nie,” sê Renée Leeuwner, woordvoerder van die akwarium. “Hy het verkies om op die boeg van skepe in die Kaapstadse hawe te lê en slaap.”

Ná maande van onsuksesvolle reddingspogings het Claire Taylor, ʼn mariene natuurlewe-spesialis, en haar patrolliespan besluit om stappe te doen en die rob direk te gryp.

Die rob was in 14 afsonderlike stukke afval verstrengel – waarvan twee so lank was dat dit twee keer om sy nek gedraai het.

“Ons is baie passievol daaroor om met robbe in die V&A Waterfront en Kaapstadse hawe te werk,” sê Taylor. “Soms is dit maklik om hulle te help wanneer hulle in die moeilikheid beland. Soms duur dit maande lank. Die lyding van dié rob teister ons al nege maande lank!”

Taylor sê dit was ʼn groot verligting toe hulle die rob uiteindelik kon bevry. “Dit laat my egter dink aan al die ander diere wat net soos hierdie een ly, sonder dat hulle gesien word en sonder enige hulp.”

(Waarskuwing: Hierdie video bevat bloed en ʼn beseerde dier)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blom ·

Baie dankie vir die wonderlike werk wat Die Twee Oseane-akwarium se span doen!!!

Di ·

Ons as mense vernietig nie net die omgewing met al die gemors wat rondgestrooi word nie maar bedreig ook die diere en seelewe. Persone wat dit doen moet groot boetes opgele word. Vullis storting in ‘n algemene ding in ons land, veral in die swart gebiede!

Eclectus ·

Eerstens hiep hiep halleluja aan hierdie mense vir hulle toewyding. Maar soos hulle ook sê, die beste stuurman staan aan wal, en ek is iemand wat voortdurend dinge “lean manage” en beter metodes soek om dinge te doen. Vir ‘n begin sal ek eerder iets wat knip gebruik in plaas van ‘n mes want dis baie makliker en vinniger. Ek sou ook al probeer het om ‘n tipe muilband te prakseer om die rob se skerp kant te beheer. Miskien moet ek my geld sit waar my mond is.

Suzette ·

Welgedaan!!! Baie waardering vir mense wat omgee vir die natuurlewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.