Rolprentmakers stroom na Kaapstad

(Foto: Verskaf)

Kaapstad bly ʼn gewilde rolprentbestemming vir vervaardigers van regoor die wêreld en dit is veral danksy die stad se ligging, fasiliteite en dienste dat rolprentmakers daarheen stroom.

Die Stad Kaapstad se rolprentpermitkantoor (FPO) het ʼn besige jaar agter die rug. ʼn Oorsig van die 2022-’23-boekjaar wys dat die afgelope rolprentseisoen een van die besigste nóg was, veral ná die Covid-19-pandemie.

JP Smith, die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê Kaapstad het baie om te bied met ʼn verskeidenheid wêreldklas plekke om te skiet, ateljees, fasilitering- en produksiemaatskappye en hoogs opgeleide gespesialiseerde bemanning en talent.

“Meer as 3 900 rolprentpermitte is tussen Julie verlede jaar en Julie vanjaar deur die stad se rolprentpermitkantoor uitgereik.

“Dit sluit vollengte rolprente, advertensies, TV-reekse, stilfoto’s, dokumentêre rolprente, kortflieks, studenteprojekte en musiekvideo’s in.”

Enige professionele verfilming vir kommersiële doeleindes wat kameras, ligte, kragopwekkers, padsluitings of enige bedrywighede op openbare paaie en plekke behels – en wat ʼn uitwerking op die daaglikse lewe van sakeondernemings en inwoners in die omgewing van die toneel het – benodig ʼn goedgekeurde rolprentpermit van die stad, sê Smith.

American Monsters, Blood and Water se vierde seisoen, Come Dine with Me Cape Town en Fear Factor India is van die plaaslike en internasionale produksies wat die afgelope 12 maande in Kaapstad verfilm is,” sê Smith.

Terwyl die meeste van die permitte vir verfilming dié van advertensies was, was die Moederstad ook gasheer vir meer as ʼn honderd groot rolprentproduksies en 499 TV-reekse in die boekjaar.

Smith sê die rolprentpermitkantoor het ook besprekings vir meer as 8 300 buiteopnames in dieselfde tydperk ontvang.

“Ons het die afgelope seisoen ʼn aantal internasionale rolprent- en TV-produksies gesien wat na ons kus op pad is terwyl ons gaandeweg van die uitwerking van die [Covid-19-]pandemie herstel.”

Die plaaslike rolprentbedryf het ook ongelooflike werk gedoen om internasionale handelsmerke te lok om hul advertensies in Kaapstad te kom verfilm.

“Hierdie syfers verteenwoordig ʼn aansienlike verbetering in belangstelling in Kaapstad as rolprentbestemming teenoor die 2021-’22-boekjaar waarin 7 400 liggingbesprekings verwerk is.”

Smith sê Darling-, Keerom-, Leeuwen- en Dorpstraat is baie gewild danksy die argitektuur wat soos Europese liggings kan lyk.

“Kogelbaaistrand, Kampsbaaistrand, Clifton se vierde strand en Muizenbergstrand is ook gewilde plekke vir die rolprentbedryf.”

(Foto: Facebook/ Documentary Filmmakers Association of South Africa)

Volgens Smith het die rolprentbedryf hom as ʼn katalisator vir ekonomiese groei bewys. ʼn Ondersoek wat in opdrag van die stad gedoen is, toon dat die rolprentbedryf jaarliks ​​sowat R5 miljard tot die plaaslike ekonomie bydra en meer as 35 000 werksgeleenthede skep.

“Die Stad Kaapstad se rolprentstrategie, wat in 2020 goedgekeur is, toon die belang van die rolprentbedryf as ʼn sleutelaandrywer van ekonomiese bedrywighede, nie net vir die Kaapstadse ekonomie nie, maar vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in die geheel.

“Hierdie strategie poog om die handelsmerkidentiteit van die stad en die land te bemark en om die uitgebreide rolprentbedryfwaardeketting – en die enorme potensiaal binne hierdie bedryf – vir ekonomiese groei, werkskepping en maatskaplike inklusiwiteit te benut.

“Die sukses die afgelope jaar is moontlik gemaak deur Kaapstad se reputasie as ʼn stad met ʼn wêreldklas plaaslike rolprentbedryf; deur ʼn bekwame en doeltreffende rolprentkantoor en die feit dat ons van die beste liggings ter wêreld binne ʼn paar kilometer van die middestad het,” sê Smith.

Kaapstad het in Julie verlede jaar alle veiligheid- en sekuriteitstariewe vir verfilming bevries om groei in die bedryf te ondersteun en die sektor te help om produksiekoste te verminder.

“Die 2022-’23-boekjaar is die derde keer in onlangse jare dat die stad tariewe bevries om die bedryf in moeilike tye by te staan. Die munisipaliteit het die bedryf meer as R900 000 in koste bespaar deur die tariefbevriesing. Dit sluit koste vir verkeersdienste, metro-polisie en wetstoepassing in,” sê Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JvR ·

Ook danksy swak rand. Alles is goedkoper hier as jy met dollars, euros en ponde kom werk. Eintlik misbruik.

Laksman ·

100% in die kol. Die beslis nie omdat dit sou oulike plek is waar als werk nie.

Nommer 7 ·

Doodreg. ‘n Duitser het onlangs aan my gese^ dat SA “waansinnig” goedkoop is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.