Rondebult-gesinstragedie: ‘Begrafnis, maar geen afsluiting’

(Foto: Verskaf)

Die drie gesinslede wie se ontbinde liggame op 2 Januarie agterop ʼn verlate bakkie ʼn paar meter van hul huis in Rondebult in Gauteng aangetref is, is Vrydag ter ruste gelê.

Die begrafnisdiens vir Johan (73) en Marri (70) Botha en hul dogter, Soné (37), is by die Elspark Christensentrum in Germiston gehou.

ʼn Familielid van die Botha-gesin het egter aan Maroela Media gesê hoewel die drie gesinslede vandag begrawe is, sal daar “geen afsluiting” wees voordat die hofsaak nie afgehandel is nie.

“Daar is geen troos wat ons hierin kan vind nie. Hulle is op die wreedste manier uit ons lewe geruk en ons sal dit nooit verstaan nie; ons sal nooit daarmee kan vrede maak nie.”

Maroela Media het vroeër berig Eugene Botha (42) is in hegtenis geneem kort nadat die liggame van sy ouers en suster gevind is. Hy is sedertdien agter tralies.

“Dit is vir ons as familie ongelooflik seer om vandag vir Johan, Marri en Soné te groet. Daar is ʼn  gevoel van woede en ontsteltenis in ons harte wat nooit sal verdwyn nie. Ons het nog soveel vrae …” het die familielid gesê.

“Ons soek antwoorde. Hoekom het dit gebeur? Hoekom met hulle? En is daar dalk iets wat ons kon doen wat hulle moontlik kon help?”

Die familielid sê die begrafnis bied ʼn geleentheid vir die familie en vriende om oor die verlies van drie kosbare lewens te rou, “maar om ook hul lewe en die tyd wat hulle vir ons geleen was, te vier”.

“Ons almal onthou hulle op ons eie mooi manier en ons verlang terug na die wonderlike en mooi tye wat ons saam gehad het.

“Hulle het ons vooruitgegaan en ons dink met groot heimwee aan die gelukkige tye, maar ons vier ook die geleentheid wat ons gehad het om hulle te kon ken,” sê sy.

“Ons mis hulle ongelooflik baie.”

Die familielid wou nie veel oor Eugene sê nie.

“Hy is familie, en dit is belangrik om te onthou dat iemand onskuldig is tot die persoon skuldig bevind word. Ons het baie gemengde gevoelens …

“Ons hoop dat ons binnekort antwoorde en sodoende afsluiting sal kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Moet aparte lisensies begin doen vir enige iemand wat kinders vervoer, want as ek so kyk in motors in, is veiligheid nie n prioriteit nie.

Althes ·

Watter sinnelose daad. Baie mense dink dat ons polisiemag gebroke is, onbevoeg is en klipdom. Daarom neem hul die kans en vermoor geliefdes. Wat hul nie besef nie is dat hul nommer een verdagte is, totdat anders bewys word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.