Rooibos kan meer toeriste na SA help lok

Foto ter illustrasie. (Foto: TeaCora Rooibos/Unsplash)

Die Wes-Kaapse wynroetes het ʼn nuwe mededinger: die rooibosteeroete.

Wêreldwyd ervaar die sogenaamde welstandtoerismesektor ongekende groei namate toeriste gesondheid, ontspanning en selfversorging toenemend prioritiseer in hul reiservarings.

Die mark vir welstandreise in Afrika word tans deur kenners op sowat $89,56 miljard geplaas, en dit sal na verwagting teen 2029 tot $114,24 miljard groei.

Die drie topprovinsies wat buitelandse en binnelandse reisigers vir gesondheid- en welstandervarings lok – insluitend vakansies en spatoevlugsoorde – is KwaZulu-Natal (12,9%), Mpumalanga (14%) en die Wes-Kaap (45,2%).

Volgens die Global Wellness Institute (GWI) groei welstandtoerisme jaarliks met 6,5%. Die welstandtoerismekoers is tans twee keer meer as die groeikoers vir toerisme in die algemeen.

Adele du Toit, woordvoerder van die SA Rooibosraad (SARC), sê Suid-Afrika se asemrowende landskap, lewendige kultuur en ryk biodiversiteit is goed geplaas om as ʼn toonaangewende Afrika-welstandtoerismebestemming te ontpop. “Een bate wat uitstaan, is rooibos – ʼn kragtige botaniese skat eie aan die land.”

Volgens Du Toit bied rooibos ʼn waardevolle geleentheid vir Suid-Afrika om homself te onderskei in die mededingende welstandtoerismemark. “Deur rooibos by spabehandelings, welstandtoevlugsoorde en kulinêre ervarings in te sluit, kan Suid-Afrikaanse ondernemings aan toeriste ʼn unieke en outentieke smaak van plaaslike welstandtradisies bied.”

Rooibos is reeds bekend vir sy antioksidant-eienskappe en talle ander gesondheidsvoordele wat insluit die bevordering van immuniteit en hartgesondheid tot die vermindering van stres. Wêreldwyd het rooibos ʼn aanhang gekry onder welstandgeesdriftiges wat natuurlike middels vir hedendaagse kwale soek. Dit het ook ʼn simbool van welstand en verjonging geword.

Toevlugsoorde in rooibos-plantasies

Rooibos-plantasies (Foto: verskaf)

“Gesondheidstoevlugsoorde tussen rooibos-plantasies bied aan toeriste ʼn unieke geleentheid om hulleself in die rustigheid van die natuur te verdiep terwyl hulle ontspan danksy rooibos-spabehandelings, jogasessies en meditasiepraktyke. Hierdie toevlugsoorde bied ʼn holistiese ervaring wat die liggaam, gees en siel verjong en welstandsoekers van oor die wêreld na Suid-Afrika se voorstoep lok,” sê Du Toit.

Proe rooibos

Rooibos-proetoere stel toeriste bekend aan verskeie geure en aromas (Foto: MyaTH/Unsplash)

Rooibos-proetoere stel toeriste bekend aan verskeie geure en aromas en word gelei deur kundige kenners wat die nuanses van rooibos-variëteite onthul. “Besoekers kan teug aan vars gebroude rooibos, terwyl hulle leer oor die verbouing, verwerking en gesondheidsvoordele daarvan. Hierdie meesleurende ervarings wys nie net die land se ryk tee-erfenis nie, maar ondersteun ook plaaslike rooibosboere en tee-vakmanne. Dit skep ook ʼn volhoubare skakel tussen toerisme en landbou.”

Spa- en welstandpakkette

Van die land se luukse oorde en gesondheidstoevlugsoorde maak gebruik van rooibos as ʼn hoeksteen van hul spa- en welstandaanbiedinge (Foto: verskaf)

Volgens Du Toit gebruik baie van die land se luukse oorde en gesondheidstoevlugsoorde rooibos as ʼn hoeksteen van hul spa- en welstandaanbiedinge. Eerstens beskik rooibos oor merkwaardige antioksidant-eienskappe, wat dit ʼn natuurlike aanspraakmaker op velsorg maak. Die insluiting van rooibos-ekstrakte in gesigbehandelings of lyfomhulsels kan die vel help herleef en verjong, wat aan kliënte ʼn holistiese welstandservaring bied.

Rooibos spog ook met anti-inflammatoriese eienskappe wat dit ʼn ideale bestanddeel maak vir strelende masserings en aromaterapiesessies. Die integrasie van rooibos in spaterapieë strook ook met die groeiende vraag na volhoubare en plaaslik geproduseerde bestanddele.

Kulinêre ervarings

Rooibos stimuleer kulinêre innovering deur sy unieke geurprofiel en gesondheidsvoordele by kos te voeg. Plaaslike inwoners en besoekers kan leer hoe veelsydig rooibos in die kombuis is, van smaaklike bredies en marinades tot soet nageregte en gebakte items, deur kulinêre toere en klasse. Die bevordering van rooibos as ʼn kulinêre komponent gee die Suid-Afrikaanse voedseltoerismebedryf ʼn kenmerkende voorsprong en lok reisigers wat gretig is om die dinamiese kulinêre toneel van die land te ontdek.

“Welstandtoerisme het die potensiaal om die land se ekonomie aansienlik te bevorder, volhoubare ontwikkeling te steun en die aandag op sy pragtige natuurlike omgewing te vestig,” sê Du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nommer 7 ·

Rooibos se gesondheids voordele word eers verkry nadat dit 5-10 minute gekook word. Meeste mense wil dit onmiddelik drink.

Karina ·

Ek gebruik verskeie Rooibos produkte, van tee, gesig rome en gesig behandelings, lyfrome, shampoo, conditioner, byvoegings soos vitamines en soveel meer. Annatjie Theron het die rooibos kultuur vrygestel, nou gebruik duisende mense, vrouens, mans, tieners tot babas die spesiale Rooibos produkte. dit is Annique sommer unique. Ek drink net Rooibos tee. Gewone tee proe ek die tannin. Rooibos is die beste vir alles. Daar is soveel gebruike vir Rooibos, bv Rooibos tee gemeng met ‘n vrugtesap, goed verkoel met ysblokkie of twee by, is lafend tydens warm somer dae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.