Rowers se planne om juwelierswinkel te beroof gefnuik

(Foto: pixabay)

Drie verdagtes het Saterdagmiddag hul rieme styfgeloop toe hulle ʼn juwelierswinkel in die Woodlands-winkelsentrum in Pretoria-Oos probeer beroof het.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die veiligheidsmaatskappy Fidelity ADT het die verdagtes net ná 15:00 in ʼn silwer Volkswagen Polo by die winkelsentrum aangekom. Een van die verdagtes het die winkelsentrum binnegegaan en probeer om die juwelierswinkel se venster te breek toe ’n sekuriteitswag hom gewaar het. Hy het toe omgedraai en gevlug.

Volgens die veiligheidsmaatskappy is twee van hul reaksiebeamptes, Terrence Mamogobo en Godfrey Thobejane, gestuur om te reageer nadat ʼn paniekknoppie in die winkelsentrum geaktiveer is.

“By hul aankoms by die winkelsentrum het hulle saam met die winkelsentrum se sekuriteitswagte daarin geslaag om die verdagtes se voertuig, waarin hulle gevlug het, op te spoor en twee van die verdagtes in hegtenis te neem. Die derde verdagte is net daarna ook in die omgewing van die winkelsentrum vasgetrek. Hy was op pad na Garsfonteinweg,” lui die verklaring.

Al drie verdagtes is aan die polisie in Garsfontein oorgegee.

Fidelity ADT het die afgelope naweek inwoners in die ooste van Pretoria gewaarsku teen ʼn vlaag gewapende rooftogte en huisbrake in die gebied. Maroela Media het vroeër berig daar was verlede week minstens drie voorvalle net in Garsfontein aangemeld. Die voorvalle vind boonop meestal deur die dag plaas.

Leon Muller, streekbestuurder van Fidelity ADT, het inwoners gewaarsku om meer waaksaam te wees, veral noudat die afsonderingsregulasies verslap is en al hoe meer mense terugkeer werk toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsa ·

Trots op jul optree.
Gee SAPS bietjie opleiding oor hoe dit gedoen word

AndrewL ·

Daar is meer sekuriteitsbeamptes in een winkelsentrum as wat daar polisiebeamptes in ‘n polisiestasie aan diens is wat meer as 70 vk km moet diens met tientalle winkelsentrums, duisende huise, mense, voertuie ens.

Moet asb nie een van daardie wees wat net voor die voet kritiseer, soos in hierdie geval nie.

Niemand is perfek nie. Die sekuriteitsbedryf kan hulself goed bemark met suksesse. Hul word goed betaal vir daardie persoonlike diens.

Daar is werkende vennootskappe tussen die polisie en die sekuriteitsbedryf wat goeie sukses lewer, juis omdat hul saamwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.