Rowers teiken verskeie winkelsentrums

Die gewapende rowers het in die ooste van Pretoria op ‘n juwelierswinkel toegeslaan. (Foto: Brinant/Facebook)

Gewapende rowers het die afgelope paar dae op winkelsentrums in verskeie provinsies toegeslaan.

In die jongste voorval het verskeie mense, onder wie drie paramedici van ER24, Donderdagoggend ternouernood ontkom toe aanvallers ʼn juwelierswinkel by ʼn sentrum in eMalahleni (Witbank), Mpumalanga, beroof het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het gesê die paramedici was in ʼn restaurant toe hulle ʼn harde slag gehoor het. Dit het soos ʼn skoot geklink en het uit die rigting van die sentrum se ingang gekom.

Die paramedici het dadelik gaan ondersoek instel en ʼn gewapende rower in die deur aangetref.

Verskeie lede van die publiek het saam met die paramedici terug in die restaurant gevlug en in die kombuis geskuil, het Meiring gesê.

Ná ʼn paar minute is die medici weer uit om te gaan ondersoek instel en gesien ʼn nabygeleë juwelierswinkel is beroof.

“Paramedici het diegene wat tydens die rooftog in die winkel was, ondersoek en hoewel hulle sigbaar geskok was, is niemand beseer nie,” het Meiring gesê.

Die polisie was kort daarna op die toneel.

Twee dae tevore het rowers ook op ʼn juwelierswinkel toegeslaan – dié keer in die ooste van Pretoria.

Die private veiligheidsmaatskappy Brinant het gesê hy het Dinsdagaand gereageer nadat ʼn boodskap oor ʼn rooftog wat  aan die gang is, op ʼn gemeenskapsgroep geplaas is. Die rowers het op ʼn juwelierswinkel in die Atterbury Value Mart-sentrum in Pretoria toegeslaan.

Die swaar gewapende aanvallers het kort daarna op reaksiebeamptes van Brinant en die veiligheidsmaatskappy Bull losgebrand en toe laat spaander.

Volgens Brinant is nie een van die beamptes in die skietery beseer nie. Een van die reaksievoertuie is wel in die skietery beskadig.

Kapt. Kay Makhubela, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê ʼn sak met horlosies is op die toneel laat val. Die rowers het met verskeie ander items en ʼn bedrag kontant gevlug.

En in die Vrystaat is die polisie op die spoor van ʼn bende rowers wat Sondag ʼn supermark in Dagbreek, Welkom, beroof het.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê vyf verdagtes het ʼn 23-jarige kassier vroegaand in die winkel met vuurwapens gedreig en kontant geëis. Hulle het haar gedwing om die kantoor waar die kontant gehou word, oop te sluit en het ook die geld in die kasregisters gebuit waarna hulle gevlug het.

Makhele het gesê volgens ooggetuies het nog twee verdagtes buite die perseel gewag.

ʼn Veiligheidswag het die rowers probeer voorkeer, maar hy is in die bors geskiet en sy vuurwapen is afgeneem.

Die bestuurder van die winkel is intussen van die rooftog ingelig en het een van die verdagtes met sy voertuig raakgery. “Hulle het drie skote in sy rigting geskiet en die man is in die bobeen gewond,” het Makhele gesê.

Albei gewonde mans is na ʼn hospitaal op die dorp geneem.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jacobus ·

Die vraag waarom: deur die passiewe outoriteit van ANC en EFF. Geen maar gee reperkussies. Sal gou uitvind mens kan nie gebrande geboue, selfone en beloftes eet nie.

Cherokee ·

Een van die verdagtes is raakgery en die eienaar is in die been geskiet. Albei mans is na ‘n hospitaal geneem maar ‘niemand is in hegtenis geneem nie’?

Jims ·

Lees weer. Die twee gewonde mans is hospitaal toe. Die twee wat geskiet is, die eienaar en die veiligheidswag. Die rower wat raak gery is , is beseer , nie gewond nie en dis nie hy wat hospitaal toe is nie, hy het ook weggekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.