Rowers wat kerk probeer beroof vinnig vasgetrek

Die mans is op die N12-suid in die rigting van Kimberley vasgetrek (Foto: Verskaf)

Ses gewapende mans wat Dinsdagoggend die NG Kerk in Jacobsdal in die Vrystaat probeer beroof het, is kort daarna vasgetrek ná ’n jaagtog met die polisie op die N12-suid digby Kimberley in die Noord-Kaap.

Die mans het omstreeks 10:00, net nadat hulle die kerkkantoor wou beroof, op vlug geslaan en op die N12-suid in die rigting van Kimberley gejaag waar hulle toe op dié snelweg tot stilstand gebring is.

Sonja van Niekerk, die skriba van die kerk, sê sy was alleen in die kerkkantoor toe ʼn wit Mercedes-Benz voor die kerk stilgehou het.

“Twee mans wat heel netjies in pakke klere geklee was, het uit die voertuig geklim en in die kantoor ingestap. Die een het ʼn skootrekenaarsak in die hand gehad,” vertel Van Niekerk. “Een het reg voor my gaan staan en die ander een so ʼn entjie weg.”

Van Niekerk sê die mans het in Engels met haar gepraat en gevra hulle wil die kerksaal vir ʼn funksie op 16 Desember huur.

“Ek moes die prosedures aan hulle verduidelik en het gesê hulle sal ʼn brief aan die kerk moet skryf met hul versoek. Toe ek my hand uitsteek om ʼn papier te kry om die kerk se e-posadres neer te skryf, het die een ʼn vuurwapen uitgepluk en op my gerig.”

Van Niekerk sê die skok was op daardie oomblik vir haar so groot dat alles wat daarna gebeur het vir haar soos ʼn waas gevoel het. Sy het uit angs geskree toe die vuurwapen op haar gerig is.

Die tuinier, Gert Louw, het Van Niekerk se gille gehoor en na die kerkkantoor gehardloop.

“Een van die mans het uitgehardloop om Gert te gryp en in die kantoor in te dwing. Dit is toe dat ek die kans kry om die paniekknoppie te druk.”

Toe die alarm afgaan, het die mans laat spaander. “Daar het nog mans in die voertuig gewag.”

Quinton Gouws van Jacobsdal Security Solutions het op die noodkreet gereageer en saam met lede van die dorp se buurtwag die mans agterna probeer sit. Die polisie van Jacobsdal is ook ontbied.

Kapt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, sê lede van Kimberley se blitspatrollie en soek-en-reddingspan, die Noord-Kaapse provinsiale trio-misdaadtaakspan en Modderrivier se sigbare polisiëringseenheid het vinnig gereageer om die polisie van Jacobsdal te help om die verdagtes vas te trek.

Hulle is digby Kimberley op die N12-suid vasgetrek.

Daar is beslag gelê op twee wegkommotors – die wit Mercedes-Benz en ’n silwergrys Polo Vivo. Daar is ook op ʼn vuurwapen en ander gereedskap wat tydens die gepoogde gewapende rooftog gebruik is, beslag gelê.

Die verdagtes is aan die Jacobsdal-polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

Niemand is tydens die voorval beseer nie, maar Van Niekerk was erg geskok. Sy sê dit gaan al beter met haar.

“Ek weet nie wat hulle kom soek het of wat hulle wou steel nie. Ek het geen onraad vermoed of enigiets verwag nie, want hulle het heel netjies en normaal gelyk met hul pakke klere en duursame voertuig,” sê Van Niekerk.

Sy wil kerkkantore waarsku om veral meer op hul hoede te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genis ·

Eish ou Cyril “our People man”? Is wakker Cyril, se asb vir ons?

Dries ·

As kerke nou al beroof word, moet jy weet die einde is naby… Dankie tog beide skriba en tuinier is ongedeerd, en dat die booswigte aangekeer is. Wonder wat die uiteinde van hulle hofsaak sal wees.

Aai ·

Wolf met skaap se klere aan.Jy kan hulle net nie vertrou mense ken jou vyand.

Maritha ·

Al dra ń aap ń goue ring, bly hy steeds ń lelike ding. Moenie dat netjiese klere jou flous nie. Skurke het gewoonlik di manier om tog so ordentlik te lyk.

Connie ·

Die Here slaap nie, Hy sien alles. Niemand gaan on gestraf bly nie. Net bly almal is darm ok by die kerk.

Cecilia ·

Dis flippen net SIEK! Rerig d Kerk! Nee stem saam GOD slaap nie en d wiel draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.