Rugbylegende Dougie Dyers sterf

Die voormalige speler, afrigter, keurder en administrateur, Dougie Dyers. (Foto: Facebook)

Talle boodskappe van medelye stroom in ná die dood van legendariese rugbykaptein Dougie Dyers.

Dyers was ʼn internasionale rugbykaptein, afrigter en administrateur wat ook as “oom Dougie” bekend gestaan het. Hy is Dinsdagoggend dood.

SA Rugby Mag het in 2017 geskryf dat Dyers ʼn sentrale rol in talle “eerstes” vir Suid-Afrikaanse rugby gespeel het en dat hy pionierswerk vir die sport gedoen het.

“ʼn Ware legende van die sport,” lui The Waterhole Rugby Museum se huldeblyk.

Die oud-Springbok Schalk Burger sr. het Dyers bestempel as een van die mees gerespekteerde, eerbare en kundige rugbyhelde wat hy geken het.

“Ons medelye met die Dyers-familie. Oom Dougie was ʼn ware heer en ʼn skerp rugbybrein,” lui Harold Karele se boodskap op Facebook.

Nathan Nathyt se boodskap lui: “Ons groet ʼn legende en ʼn leier. Mnr. Dougie Dyers, jou impak in rugby was een vir die boeke. Rus in vrede. Medelye aan die familie.”

“Rus in vrede, goeie man. ʼn Vooraanstaande afrigter, ʼn goedhartige afrigter. ʼn Groot mens. ʼn Absolute heer,” lui Craig A Wilson se huldeblyk.

I am very sad to inform the followers of the Waterhole Rugby Museum's Facebook page of the sad passing of former…

Posted by The Waterhole Rugby Museum on Tuesday, January 10, 2023

Dyers is in 1971 aangestel as kaptein van die eerste swart toerspan uit Suid-Afrika en was die volgende jaar ook kaptein van die eerste swart span wat teen ʼn internasionale toerspan, Engeland, op Suid-Afrikaanse bodem gespeel het, het die rugbytydskrif berig.

Dyers was ook kaptein van die Federasie-vyftiental (Proteas) wat in 1974 met die Britse en Ierse Leeus kragte gemeet het. Hy het in die 1970’s aangehou rugby speel en later na die voorry geskuif. “Ek was so lief vir rugby, dat ek na die voorry geskuif het toe ek groter geword het net sodat ek my speelloopbaan met ʼn paar jaar kon verleng,” het hy destyds grappenderwys vertel.

Dyers het hom daarna ook as ʼn uiters vaardige afrigter bewys en was in 1979 die eerste afrigter van die SA Barbarians, die eerste veelrassige Suid-Afrikaanse rugbyspan wat in die buiteland getoer het.

Dr. Danie Craven het hom in 1983 genader om ʼn posisie by die SA Rugbyraad op te neem, ʼn pos wat hy aanvaar het as deel van sy pogings om die toekoms vir swart en bruin rugbyspelers te verbeter. Hy was in die 1980’s ʼn Springbokkeurder en het in 1991 by die Westelike Provinsie-rugbyunie aangesluit waar hy onder meer by ontwikkeling betrokke was.

“Dyers word nie altyd erken vir die enorme bydrae wat hy tot die transformasie van Suid-Afrikaanse rugby gelewer het nie. Ten spyte van hierdie ongeregtigheid, staan hy uit as speler, kaptein, afrigter, keurder en administrateur wat ʼn onuitwisbare merk op die spel gemaak het waarvoor hy so lief was,” het SA Rugy Mag se huldeblyk aan Dyers gelui.

“Dit is ongetwyfeld die merk van ʼn pionier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Ek het daai wedstryd in 1974 as ‘n jong seun gesien. Federasie XV teen Leeus op Goodwood se Skougronde. Wat ‘n span was daai Leeus nie, het die arme Bokkies heeltemal oordonder. Hierdie was ‘n mid-week wedstryd so die Leeus het nie hul sterkste span gekies nie en as ek reg onthou het die ferderasie span nogal goed gedoen.

piet ·

1974, hulle was ook hier 1980 so dis een van die twee. Ek dink dit was 1974 toe ek hulle op die Goodwood Skougronde gesien het maar kon moontlik ook 1980 gewees het. Dit was ‘n mooi, sonskyndag in die Kaap. In 1980 het ek die toets op Nuweland gesien toe Serfontein die wendrie in beseringstyd gedruk het, skare het mal gegaan. Was ook ‘n mooi, redelike warm dag. Vreemd hoe mens die goed onthou. In 1974 kan ek onthou hoe ons almal die toets op Nuweland oor die radio in die sitkamer geluister het. Dit het katte en honne gereen die dag en ek onthou ons het so ‘n streepsak vol lemoene gehad wat ons geeet het.

Hennie Biebouw ·

Die Goodwood wedstryd was in 1974.
In 1980 het die Leeus in Stellenbosch, op die Danie Craven Stadion teen die Proteas uitnodigingspan, soos hul toe bekend gestaan het gespeel. Dit was op 27 Mei 1980. Klipharde wedstryd gewees, wat die Leeus op die ou einde met 15-6 gewen het. Ek was by beide gewees. Ek was bevoorreg gewees dat my pa nie ‘n Leeu-toer wedstryd naby ons gemis het nie.Hy het my Goodwood en Nuweland toe geneem in 1974. Ons het op Stellenbosch gewoon,die Danie Craven was ‘n kort fietstrap ver. Goeie herinneringe….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.