‘Rus in vrede, oom Rudi’

Die Australiese krieketspan het ’n erewag vir Rudi Koertzen in sy laaste internasionale wedstryd gestaan. Foto: Andrew Yates/AFP.

Huldeblyke stroom in vir die Suid-Afrikaanse krieketskeidsregter wat gister in ’n motorongeluk naby Stilbaai gesterf het.

Die 73-jarige Koertzen was een van die heel beste skeidsregters op die wêreldverhoog en hy het uiteindelik in meer as 300 internasionale wedstryde diens gedoen.

Nodeloos om te sê was hy ’n gerespekteerde en geliefde figuur onder krieketspelers, terwyl die stadige en presiese manier waarop hy kolwers kon uitgee omtrent kultusstatus geniet het.

Volgens die Australiese paaltjiewagter Adam Gilchrist was Koertzen teenwoordig in twee van die grootste wedstryde van sy loopbaan – toe hy ’n toetshonderdtal vanaf slegs 57 aflewerings teen Engeland in Perth gemoker het en toe hy uit sy eie die pad na die kleedkamer teen Sri Lanka in 2003 aangepak het.

“Hy is ’n ikoniese figuur, een van die groot skeidsregters en ’n wonderlike vriend,” het Gilchrist getwiet.

Virender Sehwag, Indië se aggressiewe openingskolwer, was een van die spelers met wie Koertzen ’n spesiale verhouding geniet het.

“Elke keer wanneer ek ’n wilde hou gespeel het, het hy met my geraas en gesê dat ek moet ophou; hy wil sien hoe ek kolf. Hy was ’n ware heer, ’n ongelooflike mens en ons gaan hom baie mis.”

Van Koertzen se sterk punte as skeidsregter was sy eerlikheid oor sy foute. Hy het terselfdertyd ook nie geskroom om jammer te sê as hy ’n kolwer verkeerdelik uitgegee het nie.

In 2007 was Sri Lanka se Kumar Sangakkara goed op koers na die sewende dubbelhonderdtal van sy loopbaan teen Australië. Maar met sy telling op 192 het hy ’n trekhou van Stuart Clark se boulwerk gemis en die bal het sy skouer en helm getref voordat Ricky Ponting dit in die glippe gevang het.

Koertzen het hom uitgegee, maar het ná die wedstryd persoonlik om verskoning gevra.

Sangakkara was gister een van die heel eerste spelers om hulde aan die Suid-Afrikaner te bring.

Volgens Marais Erasmus is Koertzen ’n formidabele figuur wat die pad makliker vir ander plaaslike skeidsregters na die internasionale verhoog gemaak het.

“Hy het almal laat glo dat dit moontlik is. Hy is ’n ware legende en as ’n jong skeidsregter het ek baie van hom geleer,” het Erasmus gesê.

Jacques Kallis het Koertzen ook as ’n ware heer bestempel.

“Rus in vrede, oom Rudi,” het die veelsydige ster getwiet.

  • Meeste wedstryde as ’n skeidsregter:
  1. Aleem Dar (Pakistan): 420 wedstryde
  2. Rudi Koertzen (Suid-Afrika): 331 wedstryde
  3. Steve Bucknor (Wes-Indiese Eilande): 309 wedstryde
  4. Billy Bowden (Nieu-Seeland): 308 wedstryde
  5. Simon Taufel (Australië): 282 wedstryde.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

R.i.v oom Rudi.Jammer dat my seun op dit afgekom het.Hyself n groot Coertzen fan

Christine ·

Hy was ‘n uitstekende krieket skeidsregter. Ek het dit so geniet wanneer hy op die veld was en sy beslissings was uit die boonste rakke. RIV oom Rudi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.