Oud-krieketskeidsregter sterf in botsing

Rudi Koertzen het ‘n beeld van homself gekry ná sy laaste toetswedstryd. (Foto: Andrew Yates/AFP)

Een van die bekendste gesigte in krieket, Rudi Koertzen (73), het vroeg Dinsdagoggend in ʼn motorongeluk omgekom.

Die voormalige internasionale skeidsregter was die oggend op pad terug Gqeberha (Port Elizabeth) toe nadat hy ʼn paar dae in Kaapstad deurgebring het.

ʼn Woordvoerder vir die familie, wat op voorwaarde van anonimiteit met AFP gepraat het, sê Koertzen het noodlottige beserings in die botsing opgedoen.

Besonderhede van die voorval en nog moontlike sterftes is nie nou al bekend nie, maar die woordvoerder vir die familie het bevestig dat die ongeluk naby Stilbaai plaasgevind het.

Koertzen se seun het aan ʼn radiostasie in Gqeberha gesê dat sy pa veronderstel was om Maandag al terug te keer huis toe.

“My pa het saam met ʼn paar vriende na ʼn gholftoernooi gegaan en hulle sou na verwagting Maandag teruggekom het. Dit lyk asof hulle besluit het om nog ʼn ronde gholf te speel.”

Die Proteas het onderneem om tydens Woensdag se toetswedstryd teen Engeland swart armbande ter nagedagtenis aan Koertzen te dra.

Koertzen, wat deur sommige sportkenners as “een van Suid-Afrika se heel beste internasionale skeidsregters” beskryf is, het vir die eerste keer in 1981 as skeidsregter opgetree. Sowat 11 jaar later het hy sy eerste internasionale opdrag behartig en in 2010 ná ʼn toets tussen Australië en Pakistan in Leeds, Engeland, uitgetree.

Hy het in die sportwêreld bekend gestaan as die “stadige vinger van die dood” omdat hy sy vinger baie stadig opgelig het wanneer hy aangedui het dat ʼn kolwer uit is.

“Elke skeidsregter het hul handelsmerk en dit was myne. Die media het die bynaam vir my gegee en ek het dit baie interessant gevind,” het hy tydens ʼn destydse onderhoud gesê.

“Ek het altyd my polse aan die agterkant van my rug gevou en dit het veroorsaak dat ek my vinger stadig opgelig het omdat dit ʼn tyd lank geneem het om my greep van agter af los te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.