Rustenburgers vrees uittog weens swak dienslewering

‘n Lugfoto van die riool in die industriële gebied van Rustenburg (Foto: Verskaf)

Inwoners van Rustenburg in Noordwes vrees dat die stad dieselfde paadjie as Lichtenburg kan loop, waar duisende mense hul werk verloor het nadat fabrieke weens gebrekkige dienslewering gesluit het.

Die Rustenburgse munisipaliteit se finansiële en operasionele bedrywighede het sedert die Covid-19-pandemie byna heeltemal ingeplof en verskeie sake-ondernemings en fabrieke het reeds hul deure weens swak dienslewering gesluit.

“Ons is bang dat groot fabrieke en ondernemings in Rustenburg hul deure kan sluit, net soos Clover destyds in Lichtenburg, want mense is keelvol oor swak dienslewering,” sê Abrie Rootman, VF Plus-raadslid in Rustenburg.

Die suiwelgroep het sy aanleg in Lichtenburg sowat twee jaar gelede gesluit weens voortgesette swak dienslewering in die omgewing. Dit het groot finansiële gevolge en enorme werkverliese tot gevolg gehad.

Fabriekeienaars het tydens Maroela Media se besoek aan die nywerheidsgebied in Rustenburg vertel dat verskeie ondernemings en fabrieke reeds toegemaak het en dat geboue al lank leeg staan.

“Die eienaars van die geboue sukkel om huurders te kry, want mense sien nie kans om in Rustenburg te belê nie,” vertel Michael van Rooyen, direkteur van Rustenburg Steel Construction. Hy is al die afgelope 19 jaar die direkteur van dié onderneming.

Van Rooyen sê hulle sit al twee weke lank sonder water. “As ons water vanjaar ʼn week lank aan was, is dit baie.”

Ondernemings en fabrieke word genoop om self planne te maak om krag en water te bekom, hetsy om ʼn boorgat te installeer, water met tenkers aan te ry of kragwekkers of sonpanele aan te skaf.

“Dit kos ons baie ekstra geld wat ons op iets anders kon bestee het,” sê Van Rooyen.

Rootman sê mense wat nie in staat is om in alternatiewe kragopwekking of watervoorsiening te belê nie, sal dalk later hul deure moet sluit.

“Dinge word by die dag erger en die hoop vir oplossings is min,” sê hy.

Tydens Maroela Media se besoek was van die strate omtrent onrybaar weens slaggate en riool in die strate was opvallend. Op een plek was die rioolwater só diep dat ʼn ligte motor nie daardeur kon ry nie. Sake-eienaars beskryf dit as hul “rioolrivier”.

Die riool word veroorsaak deur pype wat oorloop of lek en nie herstel word nie.

By een van die ondernemings het die muur rondom die gebou weens die konstante stroom riool omgeval. By ʼn ander onderneming is slote in die grond gegrawe om die vloeiende rioolwater in die veld te herlei.

Die stank van die riool is ondraaglik.

Volgens fabriekeienaars is die riool al meer as ʼn jaar lank ʼn probleem.

ʼn Werknemer van ʼn onderneming in die gebied het op voorwaarde van anonimiteit vertel hulle kry gereeld klagtes oor beskadigde produkte, weens die riool wat daarin trek.

Dié werknemer volg op ʼn daaglikse basis by die munisipaliteit op oor die probleem en kry elke keer slegs leë beloftes.

“Die riool het enorme finansiële implikasies vir die onderneming en boonop word ons werkers elke dag aan die riool blootgestel. Van die werkers het al siek geword en dit is aaklig om in die stank te werk.”

ʼn Sake-eienaar het ook op voorwaarde van anonimiteit vertel dat die munisipaliteit nie meer oor kaarte beskik wat die hoofrioollyne aandui nie.

“So hulle weet nie waar die lekke vandaan kom nie,” vertel hy.

Rootman sê die diensleweringsprobleme kom weer eens neer op die munisipaliteit se versuim om onderhoud te doen.

“Dit kom voor asof die munisipaliteit nie omgee nie en ignoreer inwoners se hulpkrete om die probleme op te los. Ons het al telkemale die burgemeester oor die probleme in kennis gestel en selfs al voor haar deur gaan sit, maar niks kom daarvan nie,” sê hy.

Die Rustenburgse munisipaliteit het nie op herhaaldelike navrae oor die kwessie gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Harley Davidson ·

Rustenburg was gedoem die dag toe hulle ‘n 100+ jare NG kerk aan nie Christene verkoop het waarna die kerk in die midde stad gesloop is en vervang is met ‘n winkelsentrum.

Nie Verbaas ·

Is daar nog geloof in die vermoë van sekeres om n land en munisipaliteite te bestuur?

Delia ·

Kry n Engelse koerant om te gaan kyk wat daar aangaan. Laat die swartmense die klagtes indien. Dan sal mense dalk luister. Want die munisipaliteit gee nie aandag as sekere groepe kla nie. Alles word ook met n kleurglas bekyk.
Carte Blanche….kry hulle in en Die Sowetan miskien….groot koerante wat wyd gelees word.
Niemand gaam aandag gee as MM berig nie.

Amelia ·

Laat dit voor munisipale kantoroe loop en by burgermeester se deur mense word siek maar solank burgermeester groot salaris kry gaan niks gebeur nie

Star ·

Is daar nog enige dorp in SA wat nie sit met swak dienslewering nie. Elke dorp sak net dieper en dieper in Munisipale swak, onbevoegte bestuur ineen.

MrMagic ·

Dit moet nie kiesers en/of die regering wees wat munisipaliteite se bestuur aanstel nie. Slegs belastingbetalers van die dorp of stad moet die mense kies. Enige een wat nie hul werk behoorlik doen nie moet afbetaal en vervolg word.

Matmiet ·

En so moet ons afskeid neem van nog ‘n dorp wat een pragtig en trots gestaan het as deel van ons kutuur erfenis. Alles oorgegee aan die vloedgolf van “transformasie”. Totsiens my Rustenburg, ek sal jou goeie tye mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.