Rygeleentheid laat jong man in hoësorg

Damian du Toit. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong man veg steeds om sy lewe in die hoësorgeenheid van ʼn hospitaal in Kimberley nadat ʼn vermeende dronk bestuurder die afgelope naweek teen die motorfiets waarop hy ʼn saamrygeleentheid gekry het, vasgery het.

Damian du Toit (19) was Saterdag om 00:30 met ʼn rygeleentheid op pad huis toe nadat hy die aand saam met vriende gekuier het.

ʼn Vrou in ʼn Toyota Tazz, wat na bewering onder die invloed van drank was, het uit die aankomende rigting gekom en glo voor die motorfiets ingery. Damian en die motorfietsbestuurder is deur die lug geslinger en Damian het weens die slag byna dadelik sy bewussyn verloor.

Sy ma, Lottie, sê hy het sedert die ongeluk nog nie weer sy bewussyn herwin nie.

“Damian het ná die ongeluk so stil gelê dat nooddienswerkers gedink het hy is reeds dood,” het sy aan Maroela Media gesê.

“Hulle het ure lank aan hom gewerk voordat hy na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, voorheen die Kimberley-hospitaal, geneem is. Daar het sy long platgeval, maar hulle kon hom gelukkig stabiliseer.”

Damian het onder meer van sy rugwerwels gebreek, asook een van sy gewrigte en ʼn skouerblad. Verskeie van sy ribbes is gebreek en hy het ʼn skedelfraktuur aan albei kante van sy kop opgedoen.

Hy is aan ʼn ventilator gekoppel en dokters het aan sy familie gesê hulle moet hulle voorberei op die moontlikheid dat Damian dalk breindood is.

“Toe my foon lui en ek sien dit is die hospitaal se nommer, het ek koud geword,” sê Lottie.

“Ek het gedink hulle gaan vir my sê my kind is dood.”

Die dokters was skepties dat Damian die naweek sou oorleef, maar ná ʼn groot gebedsessie saam met familie en lede van die gemeenskap is Damian se ouers Dinsdagoggend met goeie nuus begroet.

“Die dokters het geleidelik die verdowing waaronder Damian geplaas is, verminder om te kyk of hy sal reageer. Maandagaand het hulle die sedasie heeltemal gestaak en hy het my hand gedruk,” sê sy.

“Hy het Dinsdag dele van sy liggaam begin beweeg, maar nog nie sy bewussyn herwin nie. Ons hoop dat hy vanmiddag sal wakker word.”

Damian kan nog nie heeltemal op sy eie asemhaal nie, maar die dokters is nie meer bekommerd dat hy onherstelbare breinskade opgedoen het nie.

“Ek kan self nie glo hy is so sterk en baklei nog steeds nie,” sê sy.

“Die dokters en verpleegsters is uitstekend en ek kan hulle nie genoeg bedank vir dít wat hulle vir my kind doen nie.”

Intussen is die motorfietsbestuurder, wat slegs ʼn kennis van Damian is, uit die hoësorgeenheid ontslaan. Sy beserings blyk nie lewensbedreigend te wees nie.

Nie een van die twee mans se gesinne het al klagtes by die polisie aanhangig gemaak nie, maar Lottie sê sy vermoed die beweerde besope motoris was die naweek in polisieaanhouding.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Althes ·

Baie sterkte aan sy ma Lottie en sy familie. Dit is inderdaad ñ wonderwerk dat hy beter raak. Ons glo en bid en vertrou dat hy volkome herstel.

Jsgroen ·

Hang af hoe jy dit hanteer. Die was beslis nie die motorfiets ryer se skuld.

Cherokee ·

Dit verander nie ‘n duit aan wat die heks sê nie. Ek is self ‘n biker maar ek herhaal, dit wat jy sê het niks te doen met wat domheks sê nie.

Moedeloos ·

Mamma Lottie baie sterkte vir julle. Ek hoop en vertrou vir volkome herstel. As ek jul was, gaan maak ek onmiddellik n klag by die polisie. Dalk nie vir nou nie maar vir die toekoms.

BOKKIEBEK ·

Hierdie is presies hoekom ek “bribery” HAAT…. As iemand onder die invloed bestuur en ‘n verkeersbeampte omkoop, kan dit jou of my kind wees wat doodgery word… Ek se nie die is die geval nie, maar dit is ook ‘n probleem…

Magda ·

Asb maak net seker dat daai dronk vroue BESTUURDER wel aangekla sal word, en voer di saak deur. Sterkte en bid dat hy gou sal herstel.

Marina ·

Alle sterkte aan die familie en ons bid ‘n volkome herstel vir Damian.

Richie ·

Sterkte aan die familie
Ek weet als sal oriaat wees
Damian is n sterk man en ek vertrou hy sal 100% herstel.

Charl ·

Sterkte seun, hoop daai tewerasie boet vir haar daad, flippen dronkgat !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.