SA boer verloor been op plaas in VSA

Retief te Brugge ná die ongeluk wat ‘n deel van sy been geëis het. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong boer van Richardsbaai is ʼn gedeelte van sy been kwyt nadat hy van ʼn trekker op ʼn plaas in die Amerikaanse deelstaat Indiana geval en onder ʼn ploegskaar beland het.

Retief te Brugge (26) moes nou al twaalf operasies ondergaan en sal waarskynlik Kersfees nog in Amerika, vêr van sy twee jong kinders, moet deurbring om die wond behoorlik te laat genees.

“Dit raak soms moeilik, maar ons probeer positief bly. Daar is ook altyd ʼn deur wat iewers oopgaan,” het Te Brugge Vrydag uit sy hospitaalbed aan Maroela Media gesê. Hy is verlede week vir die twaalfde keer geopereer nadat die wond infeksie opgedoen het. Dokters moes toe nog ʼn deel van sy been wegsny. Die been is tans ongeveer vier vingers onder die knie afgesit.

Te Brugge vertel hy was Maandag 3 Oktober saam met sy kollegas op die plaas besig om varkmis in die omgeploegde landerye in te werk. “Ek is deel van ʼn span wat kontrakteurwerk doen vir boere deur bees‑ en varkmis uit ʼn put onder die grond te pomp en die landerye mee te bemes,” verduidelik hy.

Die kontrakteurs maak gebruik van ʼn spesiale bemestingsploeg wat agter ʼn trekker aangesleep word, met ʼn pomp wat aan die ploeg vas is. Soos die ploeg die grond omdolwe, word die mis in die grond gespuit.

“Een van die pompe agter op die trekker het daardie dag verstop geraak en my kollega het my gevra om op te klim en dit reg te maak.” Met die afklimslag het hy gegly en onder die ploeg beland.

“Ek kon voel hoe my enkel afbreek. My eerste gedagte was dat ek daar moet wegkom. Ek het probeer weg kruip, maar kon dit nie regkry nie.”

Die bestuurder van die trekker het gelukkig omgekyk, die trekker gestop en die ploeg opgelig. ʼn Ambulans was binne minute op die toneel en Te Brugge is later per helikopter na die Deaconess-hospitaal in Indiana vervoer.

Twee weke later is sy been noodgedwonge afgesit.

Retief te Brugge bly positief, al moes hy nou al 12 operasies in Amerika ondergaan. (Foto: Verskaf)

“My vrou, Karien, kon gelukkig daarin slaag om ʼn noodvisum te kry en het hier aangekom net nadat my been afgesit is. Ek weet nie hoe ek hierdie sonder haar sou kon doen nie,” vertel hy moedig.

Te Brugge is intussen in en uit die hospitaal en rehabilitasiesentrum en moes boonop die afgelope week hoor dat ʼn bloedklont weens die trauma in sy been gevorm het. “Die dokters gaan nou kyk of hulle die bloedklont deur ʼn gaatjie in my been kan dreineer. Anders sal ek nóg ʼn operasie moet kry. Selfs as als goed gaan, lyk dit of ek eers einde Januarie sal kan huis toe gaan.”

Te Brugge is egter dankbaar vir al die ondersteuning wat hulle van die plaas en gesondheidstelsel in Amerika gekry het. Sy mediese uitgawes is tot dusver amper ten volle deur ʼn Amerikaanse vergoedingsfonds vir beserings aan diens gedek en die maatskappy SRT sal binnekort vir hom ʼn prosteses maak, wat ook deur sy werkgewers gedek word.

Te Brugge, ʼn boer in murg en been, werk jaarliks vir nege maande as kontrakwerker op plase in Amerika. “Ek wil bitter graag in Suid-Afrika werk, maar ek kon nêrens werk kry nie. Ek moes noodgedwonge na Amerika kom sodat ek vir my gesin kan sorg.”

Met dié dat hy nie kan werk nie, is hy juis nou bekommerd oor hoe hy vir sy kinders in Suid-Afrika kan sorg. “Die karpaaiemente en skoolfonds hoop op. My vrou is ʼn onderwyseres en hoewel sy nog salaris kry terwyl sy hier by my is, is dit nie baie nie.”

Te Brugge hoop egter om gou weer te begin werk sodra hy sy prostese het. “Ek weet nie of die been my gaan terughou nie, maar ek gaan my bes doen. Boerdery is my passie en ek wil nie graag iets anders doen nie.”

Te Brugge se familie het ʼn GoFundMe-blad gestig om te help om al die bykomende uitgawes te dek. Klik hier indien jy ʼn bydrae wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is omrede huidige benaadeelde boere na die VSA moet gaan vir werk wees die diskriminasie teen minderhede in die piesang Republiek van Suid-Afrika.

Oosie ·

Sterkte.. kan net sê sulke diens en ondersteuning (buiten gesin en vriende of familie) sou jy nie in SA ontvang nie.. jy staan weer posetief ñ kans om weer 100% met jou lewe aan te gaan.. wees net posetief soos jy reeds is en die res sal volg..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.