SA en Rusland: Bondgenootskap ‘op bloed en koeëls gebou’

President Wladimir Poetin van Rusland en Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa. (Argieffoto)

Suid-Afrika se aanbied van die Brics-beraad volgende week het opnuut die kollig laat val op die knus bande tussen Pretoria en die Kremlin, bande wat vir baie ʼn raaisel bly.

Moskou en die ANC het dié bande tydens die Koue Oorlog gesmee toe die Sowjetunie die ANC se stryd teen apartheid gesteun het. Die verhouding bly uiters gemoedelik, ondanks historiese en ideologiese skuiwe wat – eintlik logies – die lande lankal op uiteenlopende paaie sou plaas.

In 1991 het die Sowjetunie in duie gestort en die saad vir nasionalisme in Rusland onder pres. Wladimir Poetin gesaai.

In Suid-Afrika, aan die ander kant, het die einde van apartheid ʼn nuwe demokratiese bestel ingelui met Afrika se mees liberale grondwet – en aan die ANC die beeld as bevryder gegee.

Ontleders wat die vreemde verhouding probeer begryp, meen die ideologiese krake word gepleister deur historiese en persoonlike bande, maar onder die oppervlak skuil daar moontlik ook ander behoeftes.

“Jy kan sê dat hul bondgenootskap op bloed gebou is … en koeëls,” sê die politieke ontleder Sandile Swana.

Polities gesproke is die twee lande onwaarskynlike bondgenote, sê Steven Gruzd, verbonde Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge (SAIIA).

Alkant selfkant

(Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die ANC-Kremlin-verhouding is verlede jaar veral skerp ontleed toe Pretoria gekies het om nie Rusland se inval van Oekraïne te veroordeel nie; ʼn standpunt wat kritici gesien het as onbedekte steun aan Moskou.

Kritiek het nou, voor die aanvang van die Brics-beraad in Johannesburg met lidlande Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika, opnuut opgevlam.

Daar was al hoe meer druk op Suid-Afrika om ʼn onderneming te gee dat Poetin, wat deur die Internasionale Strafhof gesoek word, in hegtenis geneem sal word indien hy die land besoek.

In ʼn poging om die regte geluide te maak het pres. Cyril Ramaphosa ʼn amperse teenstrydige benadering gevolg, voordat hy eindelik bekend gemaak het dat Poetin nie persoonlik na Suid-Afrika sal reis nie.

In Junie het Ramaphosa ʼn Afrika-vredesending na Oekraïne en Rusland gelei en hoewel dit onsuksesvol was, het dit minstens gehelp om die beskuldigings van partydigheid te smoor.

Die sending het Ramaphosa en ander Afrika-leiers toegelaat om “regstreeks met die Oekraïense mense te praat” en hulself van die situasie daar te vergewis, sê Dzvinka Kachur, van die Oekraïense Vereniging van Suid-Afrika.

Emosionele band

Ekonomies maak dit weinig sin vir Pretoria om hom so openlik by Moskou te skaar, sê kenners.

Die VSA is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot, naas China, en uitvoere na Amerika in die eerste helfte van 2023 staan op $4,2 miljard (sowat R80,4 miljard).

Handel met Rusland, aan die ander kant, is “betreklik laag”, in die woorde van Suid-Afrika se gesant in Moskou; uitvoere tussen Januarie en Junie vanjaar na Rusland het sowat $132 miljoen (sowat R2,5 miljard) beloop.

Beskuldigings dat Suid-Afrika in die geheim wapens aan die Kremlin gelewer het, het ʼn oproep van sommige Amerikaanse wetgewers tot gevolg gehad dat Washington die land uit die Agoa-ooreenkoms – waaruit Suid-Afrika groot voordeel trek – moet skop. Dit het groot kommer onder sommige sakelui en opposisiepartye veroorsaak.

William Gumede, ʼn politieke ontleder, sê dit is nou tyd vir Pretoria om te besef dat die bondgenootskap nie die land meer dien nie.

Dit is gegrond op ʼn “emosionele band” wat Suid-Afrika “nie kan bekostig nie”, sê hy.

Gemeenskaplike belange

Poetin kyk na Suid-Afrika vanuit strategiese belang; die land se status op ʼn vasteland wat al hoe meer van ʼn diplomatieke slagveld tussen groot internasionale rolspelers word, sê sommige ontleders.

Daar is egter minder ooreenstemming oor hoekom die ANC so verknog is aan Rusland.

Sommige kritici meen die party het moontlik die spoor byster geraak; ten spyte van die ideologiese verskille, draai die ANC na Moskou, sy historiese meelopers, vir insig oor sy eie toekoms.

Die ANC is sedert die aanvang van demokrasie in 1994 aan bewind van die land, maar sy eens helder ster het verdof weens korrupsie en wanbestuur. Dié probleme kan beteken dat die ANC se steun volgende jaar, tydens die nasionale verkiesing, tot minder as 50% gedruk word.

“Die ANC sien duidelik iets anders in Poetin se Rusland; iets om na te strewe,” skryf Richard Poplak, ʼn Daily Maverick-rubriekskrywer.

“Rusland is ʼn baken op die heuwel; ʼn skitterende outokrasie wat die weg aandui na ewige bewind.”

Ander sinspeel dat geld dalk die oorwegende rede kan wees.

Verlede jaar het die ANC meer as R15 miljoen van ʼn mangaanmyn-maatskappy met bande met ʼn Russiese magnaat ontvang om sy partykongres te help finansier.

“Die ANC skaar hom by Rusland vir slegs een rede: omdat die Russiese Federasie die ANC finansier en dus die Suid-Afrikaanse demokrasie infiltreer en destabiliseer,” het DA-leier John Steenhuisen in Mei gesê.

Die ANC maak sulke insinuasies heftig af.

Die party het ook skenkings van “Amerikaanse sakelui” ontvang, sê Tokologo Ngoasheng, ʼn ANC-amptenaar.

“Dit is net ʼn probleem wanneer die Russe die ANC ondersteun. Dit is onbillik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

annie ·

AFP is totaal en al ‘n Zelensky/Navo/USA-fan. Dit is ook nie die volle verhaal oor Rusland en SA se verhoudinge nie. Rusland het tydens die ABO die boere gehelp teen Brittanje. Maar dit dal nie opgehaal word nie. Die artikel hierbo is suiwer vanuit die anti-Russiese oogmerk geskryf en nie teen die agtergrond van die SA Apartheidsregering se hulp aan die Weste om Jona Savimbi op die oliekan in Angola te verhef as die VSA se bloedbroer nie. Halwe waarhede is nie geskiedenis nie.

Bolandse Nooi ·

Ai Annie … Lyk my jy lees selektief. Het jy dan nie gelees hoeveel uitvoere na die VSA daar in die laaste 6 maande was vergeleke met uitvoere na Rusland nie? Wat de duiwel … Apartheid is mos darem nou al 30 jaar “6 ft under” … wat gaan jy aan oor wat die ou SA doerie jare gedoen het om die Angolese burgeroorlog te beëindig? Ook, die ABO II is meer as 100 jaar oor, watter effek het dit nóú nog die hedendaagse gemors in dié land behalwe om te onthou dat Brittanje ons erger verdruk het?

Mnr De Beer ·

N mens moet die hele geskiedenis ken om te help met die toekoms te kan bepaal. Geskiedenis 30 jaar terug en 100 jaar terug kan ons baie vertel.

“A generation which ignores history has no past and no future” – Robert Heinlein.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoeveel van daai uitvoere na Amerika is van Amerikaanse firmas wat hier besigheid doen? Hulle trek ook voordeel uit Agoa.

Dirk ·

Bolandse Nooi, ongelukkig help dit nie om te probeer redeneer met ‘n ANC/Rus/moordenaar ondersteuner nie. Hulle kan nie verstaan dat die Russe wat ons gehelp met tydens die ABO nie dieselfde Russe is nie.

CJS ·

Die anti-Russiese kant is die enigste moontlike morele blik op hulle inval op Oekraïene, en op hulle steun aan die ANC. Op dié twee sake is geen enkele positiewe sentiment moontlik nie.

Truman Burbank ·

Iets om mense besig te hou terwyl daar groter dinge in agtergrond broei

Bolandse Nooi ·

De Villiers – honde het koeëls??? So gewere/vuurwapens is dus eintlik honde … Uhum – sekere mense se redenasies maak net nie sin nie.

De Villiers ·

Dit was sommer net ‘n tong-in-die-kies opmerkking.

As jong seun het ek verstaan wat my pa bedoel het.

Lees hierdie:

‘n Eenheidspatroon (kortweg patroon) van ‘n vuurwapen omvat alles wat nodig is om ‘n skoot af te vuur. Dit sluit in die koeël (punt), die kruitlading, die slagdoppie en die patroondop.

‘n Patroon wat baie kleiner koeltjies bevat word ‘n haelpatroon genoem en word hoofsaaklik vir die jag van klein wild gebruik.

Olive ·

Kyk hoe lekker wals die twee op daai foto. Poetin is duidelik die leier terwyl hulle dans op die maat van “Ek kyk graag so diep in jou oe”

Porseleintjie ·

Kyk na SA. ANC is die regerende party en ‘n boom word aan sy vrugte geken. Hierdie land se verval is daar vir almal om te sien. Eie gewin dus die enigste rede agter alles wat duister is en beslis niks in belang van elke burger van hierdie land nie.

Amelia ·

ek weet nie baie van die abo nie maar wat ek vermoed is rusland wat sa van wapens voorsien het in ruil vir goud

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ZAR en Vrystaat het wapens van Duitsland en Nederland aangeskaf.

Marthinus W ·

Rusland het meer goud as SA; meer diamante, meer uraan [hulle verskaf 23% van Amerika se verrykte uraan, selfs nou met sanksies]. Rusland het alles wat hulle benodig, behalwe sekere tegnologiee, en om hulle ekonomie ten volle vryemark te maak.

Pieter ·

Moet eerder lees SA en Rusland: Bondgenootskap ‘op bloed, koeëls, vryheid en siele gebou’

domheks ·

BTICS vry na die hele AFRIKA! Hier is baie blyplek en baie metale en minerale wat hulle wil he. En ons regering sien dit nie raak nie.

Jakes ·

Ramaphosa moet homself maar geniet terwyl hy kan, na die verkiesing sal dinge heelwat anders uitdraai vir hom en sy matertjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.