SA kort minstens 3 500 ambulanse

Een van honderde ambulanse wat weens ongelukke nie gebruik kan word nie. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika het ʼn tekort van 3 401 ambulanse en uit die 3 342 wat die land wél het, kan 750 weens ongelukke of instandhouding nie gebruik word nie.

Dit is ʼn “gevaarlike stand van sake”, waarsku die DA-LP Haseena Ismail.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het die syfers in antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag van die DA verskaf. Volgens hom word ʼn koers van een ambulans per 10 000 mense gebruik om te bepaal hoeveel voertuie benodig word.

Ismail sê die DA het verskeie klagtes van mense oor die land gehad oor nooddienswerkers wat stadig reageer – of net nooit opdaag nie. “Sommige families het geliefdes verloor wat bes moontlik gered kon gewees het indien ʼn ambulans betyds opgedaag het,” sê sy.

Veral kommerwekkend is die 131 ambulanse wat weens hul betrokkenheid in ongelukke nie gebruik kan word nie. Net vanjaar het 383 ongelukke met ambulanse al plaasgevind en sommige was van so ʼn aard dat tugstappe gevolg en finale waarskuwings uitgereik is.

Ismail sê dit is verblydend dat daar gevolge vir wangedrag is.

(Argieffoto: Arrive Alive,/Twitter)

Wat wel kommerwekkend is, is dat 56 ambulansongelukke al vanjaar in Limpopo aangemeld is – maar nie ʼn enkele tugstap teen enigiemand ingestel is nie. Ismail sê ook die ouditeur-generaal het dié gebrek aan aanspreeklikheidsbestuur in haar jaarverslag benadruk.

“Dit is geen verrassing dat gemeenskappe bang en kwaad is nie; hulle weet nie of iemand hulle gaan help as ʼn mediese noodgeval hulle tref nie. Die gemeenskappe wat boonop die swaarste getref word, is dié wat nie private mediese sorg kan bekostig nie, of op sulke afgeleë plekke woon dat hulle op provinsiale gesondheidsdienste, soos ambulanse, moet staatmaak.”

Ismail sê voorts die situasie laat nog gevaarligte flikker vir die regering se plan om ʼn Nasionale Gesondheidsversekering in werking te stel. Sy sê die situasie gaan net vererger indien dít gebeur.

In die 2021-Desembervakansie is 1 685 mense in motorongelukke dood. “Hoeveel lewens kon gered gewees het indien die land se nooddienste teen volle kapasiteit gewerk het?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blikke ·

Ja net sodat hulle weer beroof en geplunder kan word as hulle na pasiente wil omsien….

domheks ·

Ambulanse word gebruik vir taxi dienste! Nie vir noodgevalle nie.

Johan ·

Kan Maroela vir ons daai getalle per Provinsie bekom en rapporteer. Sal graag wil sien hoe presteer elke Provinsie.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Johan
Baie dankie vir jou boodskap. Die provinsiale getalle is intussen bygewerk.
Groetnis
Christel Cornelissen
nms. Maroela Media

JohanR ·

Wat het gebeur met daai motoefiets ambulanse daar in PE. Is die ANC kaders wat die tenders gekry het se geld al in die bank?

Nie Verbaas ·

Neem net in ag dat gereelde onderhoud, bevoegdheid, intelligensie en vernuf nie n ANC kenmerk is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.