SA misdaadstatistieke: Moordsyfer naashoogste ter wêreld

(Foto: Shutterstock)

Die aankondiging van die derde kwartaal se misdaadsyfers bevestig die feit dat pres. Cyril Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele, die eintlike vyande van veiligheid en alle Suid-Afrikaners is, sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

“Die minister het weereens bewys dat hy onbesorg is oor die lot van miljoene Suid-Afrikaners wat in vrees leef en na hom kyk om hulle veilig te hou. Die minister is nie net onbevoeg om die amp te beklee nie, maar dit lyk of die president geweldsmisdaad goedkeur hoe langer hy vir Cele in sy amp hou.”

Volgens die polisie se verslag het Suid-Afrikaners in die tydperk tussen 1 Oktober en 31 Desember verlede jaar swaar onder misdaad gebuk gegaan.

Altesame 7 710 mense is in hierdie tydperk vermoor; dit kom neer op ongeveer 85,7 moorde per dag. Daar is ook:

  • 15 284 seksuele misdrywe (169,8 per dag) gepleeg;
  • 7 927 pogings tot moord (88 per dag);
  • 53 513 aanrandings (ernstige liggaamlike besering) wat op ongeveer 594,6 per dag neerkom;
  • 52 965 algemene aanrandings (588,5 per dag);
  • 6 360 rooftogte by residensiële persele (70,7 per dag);
  • 40 331 rooftogte met verswarende omstandighede (448,1 per dag); en
  • 5 973 motorkapings (66,4 per dag).

Whitfield sê hierdie syfers – vergeleke met ʼn jaar gelede – onthul dat geweldsmisdaad aan die toeneem is en dat Cele die mense van ons land gefaal het:

  • Moorde het met 2,1% toegeneem.
  • Pogings tot moord het met 12,9% gestyg.
  • Aanrandings (ernstige liggaamlike besering) het met 5,8% gestyg.
  • Aanrandings (algemeen) is 0,4% hoër.
  • Rooftogte by residensiële persele het met 1,7% gestyg.
  • Rooftogte met verswarende omstandighede is 6,6% hoër.
  • Motorkapings het met 6,5% toegeneem.

Aanrandings met die doel om ernstig te beseer het met 11,9% teen kinders en met 7% teen vroue toegeneem.

“Die polisie se speurdiens is kwaai onderbeman, honderde polisievuurwapens word jaarliks ​gesteel, en sy algehele personeelbevolking is vandag kleiner as in 2019,” sê Whitfield.

“Die enigste manier om elke mens se veiligheid in Suid-Afrika te verseker is om polisiemagte na bekwame provinsies af te wentel en nasionale regering uit die pad te kry.”

‘SA raak vinnig wêreld se misdaad-hoofstad met toenemende vlakke van geweld’

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê selfs ʼn gerekende internasionale navorsingsgroep, die Global Organized Crime Index (Goci), stel die ANC-regering al gelyk aan ʼn georganiseerde misdaadkartel.

“Wat vandag se misdaadstatistieke betref, is veral die toenemende vlakke van geweldsmisdaad, in besonder teen vroue en kinders, kommerwekkend.”

Hy sê wat die statistieke nie wys nie, “is wáárom daar so ʼn skerp toename in geweldsmisdaad is”.

“Die moordsyfer in Suid-Afrika was ses jaar gelede 34 per 100 000 van die bevolking. In 2022 het dit gestyg tot 36,5.

“Dit staan nou op 45, die naashoogste ter wêreld. Net El Salvador op 52 het ʼn hoër moordsyfer. Derde is Jamaika (43,85%), dan Honduras (38,93%) en vyfde Venezuela (36,69%),” sê Groenewald.

Luidens Goci se jongste verslag is Suid-Afrika tans sewende op die lys van lande met die hoogste georganiseerde misdaadsyfer en styg dit plaaslik die skerpste.

Terwyl gevestigde en omvangryke misdaadkartels in lande soos Colombia, Meksiko en Nigerië die duidelike oorsaak is van dié lande se georganiseerde misdaadprobleem, is dit skokkend dat Goci die Suid-Afrikaanse regering as hoofrolspeler uitsonder.

Die verslag lui onder meer: “Suid-Afrika se misdadige markte word versterk deur die invloed van misdadige rolspelers, veral staatsgebonde rolspelers – verantwoordelik vir jare lange staatskaping – asook misdaadnetwerke wat hoogs onderling verbind is.”

Groenewald meen dit verwys duidelik na die ANC-regering se stelsel van patronaatskap.

“In Suid-Afrika kan duidelik gesien word hoe werkloosheid en misdaad hand aan hand loop. Misdaadvlakke in die land het oor die jare toegeneem soos wat die ekonomie agteruitgegaan het.

“Die ANC het Suid-Afrika geregeer tot op die vlak van een van die slegste en misdadigste lande met een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld,” sê Groenewald.

“Suid-Afrikaners mag nie toelaat dat die ANC ná die komende verkiesing nog aan bewind is om die land verder te plunder en oor die afgrond te dryf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

GWS ·

Ons moordsyfer is skokkend verby!! Dan roem die ANC op hul suksesse!!!

Andries ·

Lyk ni of enige van di 2 menere, di repurkusies van sulke syfers verstaan ni… Indien wel, sou hulle hul vingers stompies gewerk het, om dit ten goede te verander

Bolandse Nooi ·

As jy in Sandton woon, agter 6½ m hoë veiligheidsheinings, ry met die nuutste BMW of luukse “fo-by-fo” met verdonkerde sekuriteitsglas, opgepas word deur 9 hoogs-opgeleide en tot-die-tande-toe-gewapende polisiemanne (die sg. BBP-beskermingsdienste) en daar tot in die talle toilette van jou ghrênd huis, 24-huur CCTV is … voel jy ‘n veer vir die res van die “other half” wat kletterend-van-vrees elke dag ‘n têksie moet vat terwyl die skote ziengggggg oor hul koppe, tot by die werk, waar hulle vir R27/uur (vanaf 1 Maart – dis nou vir diegene wat so gelukkig is om darem te kan werk).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.