SA regering monitor Bushiri-uitlewering

Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary. (Foto: Facebook)

Die departement van justisie en korrektiewe dienste in Suid-Afrika het Vrydag bevestig dat ’n afvaardiging amptenare in Malawi aangekom het om deel te neem aan die uitleweringsverhoor van die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary Bushiri.

Die verhoor sal na verwagting op 30 Mei in die hooggeregshof plaasvind.

Die afvaardiging se deelname aan die verhoor is in ooreenstemming met Malawiese wetgewing oor uitlewering. Die afvaardiging bestaan uit senior en hoogs ervare aanklaers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die ondersoekdirektoraat (OD) en ondersoekers van die polisie.

“Deur hierdie afvaardiging te lei, vervul die departement sy rol as sentrale gesag in die saak. In die uitleweringskonteks is die sentrale owerheid die aangewese staatsdepartement wat die verantwoordelikheid het vir die ontvangs, bestuur en uitvoering van uitleweringsversoeke,” sê Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement.

Malawi se uitleweringswetgewing stel streng bepalings dat ’n voortvlugtige slegs onder spesifieke omstandighede uitgelewer mag word.

Die Bushiri-egpaar en hul medebeskuldigdes staan in Suid-Afrika tereg op aanklagte van bedrog ten bedrae van sowat R102 miljoen.

Die charismatiese miljoenêr-prediker van die Enlightened Christian Church het in November 2020 uit Suid-Afrika na Malawi gevlug ondanks streng borgtogvoorwaardes wat veronderstel was om te verseker dat hy en sy vrou hul verhoor bywoon.

Hulle het die land onder raaiselagtige omstandighede verlaat en na hul tuisland gevlug omdat hulle glo hier vir hul veiligheid gevrees het.

In Malawi was die egpaar kortstondig agter tralies voordat hulle op borgtog vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

Snaaks die mense so maklik kan land uit iemand by binnelandse sake help seker maar natuurlik teen vergoeding

skurweberg ·

Hy moes nooit in SA toegelaat gewees het nie. Sy begeertes het sy roeping oorstadu. Dit kon enige ware gelowige voorspel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.