SA sakevertroue laagste in dekades

(Argieffoto)

Sakevertroue in Suid-Afrika is die laagste in 35 jaar. Dít terwyl die landwye staat van afsondering weens die Covid-19-pandemie en onbestendigheid in wêreldmarkte voortduur.

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci) se indeks van sakevertroue, ʼn samestelling van ekonomiese en markaanwysers wat belangrik is vir die ekonomie, het met 12,1 punte gedaal tot 77,8 in April – die laagste sedert sy aanvang in 1985 en tweede skerpste maand-op-maand-daling ooit.

Op ʼn jaar-tot-jaar-grondslag het die indeks tussen April verlede jaar en April vanjaar met 15,9 punte gedaal.

Sacci sê ’n “opvallend negatiewe” maandelikse uitwerking op die indeks is veroorsaak deur die laer volume uitvoere, ʼn swakker rand teen die meeste groot geldeenhede, minder voertuie wat weens die afsonderingstydperk verkoop is, onlangse afgraderings van die ekonomie en algemene gedempte ekonomiese vertoning.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) het vandeesweek gesê verkope van nuwe motors, ʼn sleutelaanwyser vir die land, het in April met 98,4% gedaal. Net 574 eenhede is verlede maand verkoop.

Die ekonomie gaan na verwagting in 2020 met minstens 6% inkrimp, grootliks weens die Covid-19-pandemie wat die regering gedwing het om die landwye staat van afsondering in te stel. Dit het die meeste bedrywighede in die land heeltemal tot stilstand gedwing. ʼn Effense verslapping van regulasies op 1 Mei het minstens sommige ondernemings toegelaat om hul bedrywighede te hervat, al is dit dan ook op ʼn beperkte skaal.

“Benewens die gesondheidsimplikasies het die afsonderingstydperk ook ʼn reuseuitwerking op ekonomiese bedrywighede en die sakeklimaat gehad,” het Sacci gesê.

“Dit is uiters belangrik dat die ekonomiese vertoning vinnig verbeter nadat die gevolge van die afsonderingsbepalings verminder het. Dit kan ʼn geleentheid wees om ʼn samehorige en meer gelyke samelewing te bou. Die noodsaak om kapitaal op te bou en ʼn sakeklimaat te herstel wat geskik is vir deelname uit die private sektor en beleggersvertroue oor die langtermyn, is voorvereistes vir ʼn ekonomie wat in die moeilikheid is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Burgermeester ·

Die buiteland se mense is nie so dom of so blind soos wat ons dink nie. Ek is ‘n Suid Afrikaner, maar ek wil nie eers in my eie land belê nie, want ek het geen vertroue in die stelsel of die regering nie.

Marius ·

Maak sigarette wettig en daar sal binne n week n groot verskil wees in syfers . Die volk is onder baie druk en dan moet hulle drie keer meer vir iets alle daags betaal soos sigarette . Mense het reeds nie kos nie en dan moet hulle drie tot vier keer meer betaal vir sigarette , dit krap die volk baie om en maak die volk negatief .Die regering moet by kom want hier kom n ding groter as die virus .

Willem ·

Daardie ekonoom op Groot Ontbyt het gese Suid Afrika is redelik goed af wat die ekonomie betref.
Wonder of hy bogenoemde berig gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.