SA swemafrigter Rocco Meiring gesels oor goue medaljes, sukses

Rocco Meiring en Tatjana Schoenmaker in Tokio, Japan, in 2020 nadat Tatjana die goue medalje by die Olimpiese Spele gewen het. (Foto: Verskaf)

Ses keer per week, douvoordag, staan Rocco Meiring voor die skitterblou water van die Universiteit van Pretoria (Tuks) se swembad om kranige swemmers tot Olimpiese sukses af te rig.

Onder sy vlerk is swemmers soos Tatjana Schoenmaker, die Olimpiese gouemedaljewenner en wêreldrekordhouer van die 200 meter borsslag, Kaylene Corbitt, Emma Chelius, Erin Gallagher, Pieter Coetzee en Matthew Sates.

Rocco rig tans dié groep swemmers, wat almal deel vorm van die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemspan, saam met ʼn groep van vier gekontrakteerde hulpafrigters en een vrywillige afrigter af.

Hy waarsku gereeld jong swemafrigters dat dié loopbaankeuse jou vinnig heeltemal kan insuig, vertel Rocco in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Swemafrigting is ʼn double or nothing game. Voor jy sien is drie of vier jaar verby, en jy is so ingestel op jou swemmers, dat dit moeilik is om weer daar uit te kom.

“Jy begin ʼn band vorm met jou swemmers, veral met die kinders. Swem is ʼn intensiewe sport en jy sien die kinders ses dae per week. Jy sien hulle soms selfs meer as hulle eie pa’s. Jy belê in hulle vordering en hulle begin jou ook meer en meer vertrou.

“Om saam met ʼn aspirerende atleet so ʼn lang pad te stap, neem later jou hele menswees oor,” sê Rocco.

Olimpiese Spele

Rocco en ‘n groep van Suid-Afrikaanse vroueswemmers by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, in 2020. Tatjana Schoenmaker, wat ‘n goue medalje gewen het, sit links voor. (Foto: Verskaf)

Die pad Olimpiese Spele toe is lank. Realisties gesproke neem dit sowat agt jaar om daardie kruin te bereik.

“Toe Tatjana in 2020 die goud by die Spele in Tokio wen, het ek ʼn gevoel van verligting beleef. Natuurlik was ek ook ongelooflik bly vir haar, want ek weet deur watse hel ek haar gesit het.

“Dit is ʼn baie lang pad met talle struikelblokke. As hulle dan suksesvol is, is jy baie verlig, want dit kon maklik ander kant toe gegaan het. Agt jaar se werk, frustrasie en moeite kom in daai een oomblik, in daardie een resies, bymekaar.”

Rocco vertel hy het ná matriek regte studeer en het nooit gedink hy gaan ʼn swemafrigter word nie. Op skool het hy in waterpolo en rugby uitgeblink, maar het vroeg in sy universiteitsjare ʼn besering opgedoen wat sy sportloopbaan beëindig het, min wetend dat dit later ʼn lang, suksesvolle loopbaan as afrigter tot gevolg sou hê.

“My regsprofessor was ook ons buurman en ons het ʼn swembad gehad en hulle nie. Hy het gevra of ek sy jong kinders kan leer swem en dit was nie lank voor ek die hele buurt se kinders daar gehad het nie.”

Hy het begin geld maak uit swemafrigting en het uiteindelik sy studierigting na menslike bewegingskunde (nou sportwetenskap) verander.

“Daai tyd was swem net ʼn somersport, want daar was nie verhitte swembaddens nie. In die winter het ek rugby afgerig en dit baie geniet, meer as die swem, maar die swem het betaal.

“Toe die eerste verhitte geriewe in Pretoria open, het van die ouers wie se kinders ek afgerig het gaan bane bespreek sodat ek met hulle kinders daar kon aangaan in die winter. Later moes ek ʼn keuse maak tussen swem en rugby. Die res is geskiedenis.”

Sukses

Rocco vorm as afrigter ‘n hegte band met sy swemmers. Hier is hy saam met Tatjana Schoenmaker. (Foto: Verskaf)

In sy byna drie dekades as swemafrigter het hy die kuns vervolmaak om versteekte talent in atlete raak te sien.

“Jy kry talent wat fluister en talent wat skree. Om talent wat skree raak te sien, is nie moeilik nie, want almal kan dit raaksien.

“Om talent wat fluister raak te sien, is ʼn kuns. Baie keer weet van die atlete self nie hoe goed hulle kan wees nie.

“Dan probeer jy daardie talent ontgin en die bewuswording dat die talent bestaan, ontluik. Deur die jare het ek beter en beter geraak daarin, en oor die laaste 30 jaar van afrigting was ek nog meer kere reg oor ʼn atleet se talent as wat ek verkeerd was.”

Hy is in Maart vanjaar by die Suid-Afrikaanse sporttoekenningsgeleentheid by Sun City in Noordwes deur die minister van sport, kuns en kultuur, Zizi Kodwa, as die Suid-Afrikaanse afrigter van die jaar aangewys.

Oor dié toekenning is hy uiters beskeie. “Natuurlik voel ek gevlei, ek is nie verhewe bo dit nie. Maar ek wens tog die toekenning het eerder my hele span vereer eerder as net vir my. Ek het ʼn hele span van mense wat my help om hierdie swemmers se absolute volle potensiaal te bereik.”

Rocco erken ruiterlik hy stel hoë eise aan sy atlete, asook aan homself. “Die swemmers wat hier kom swem, kom uit vrye wil en hulle weet ons het hoë standaarde. Ek probeer die omgewing so vriendelik en gemaklik as moontlik hou, want niemand wil aanmekaar uitgetrap word nie.

“Ek probeer ʼn ruimte skep waarin die ouens wil wees, maar wanneer ons werk, dan wérk ons. Daar is ʼn minimum standaard wat van almal verwag word, en jy moet daaraan voldoen of jy moenie kom nie.”

Familie

Rocco saam met Tatjana Schoenmaker, Tuks-swemkaptein Ruan Ras (heel links) en die vise-kanselier van die Universiteit van Pretoria, prof. Tawana Kupe. (Foto: Verskaf)

Vir sy bekende suster, die aktrise Lizz Meiring, is hy vol lof. “Daar is drie dinge van haar wat ek bewonder: Een, sy praat nooit lelik of sleg van ander nie en sy raak nie by skinder en praatjies betrokke nie. Twee, sy is ongelooflik hardwerkend en gefokus. Sy het as jong student al besluit sy gaan aktrise word en voet by stuk gehou ten spyte van baie teenkanting. En derdens, sy ontferm haar nie net oor jong akteurs nie, maar ook oor die ouer garde.

“Ek kyk op na Lizz. Sy is vyf jaar ouer as ek, en ons het ook ʼn ouer broer. Lizz was nog altyd die meer dominante persoonlikheid van ons drie. Uit die aard van ons skedules sien ons mekaar nie gereeld nie, maar as daar ʼn krisis is, trek die Meirings saam.”

Hy erken die swemmers absorbeer soms die druk van die sport beter as hy, en sê laggend dat hy soms ʼn bietjie toneelspelvaardighede – soos dié van sy bekende suster – moet gebruik om te verskans dat hy self gespanne is.

“Die goeie atlete kan die druk verwerk. Vir my is dit erg. As afrigter moet jy maar maak of als oukei is en deurlopend vol selfvertroue lyk.”

As swemafrigter en sportbestuurder aan Tuks, begin sy dag reeds om 05:00 en is hy dikwels teen 21:00 eers weer tuis by sy vrou, Maunee. Hulle het vier kinders, Tabi, Leri, De Villiers en Cara.

“Dit is ʼn week waar ʼn mens werk wanneer ander mense nog slaap of by die huis is, maar dit is wat ek wil doen. Dit is die werk wat ek geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.