SA ‘verbied gaar kos, tabak’ terwyl ander lande entstofplanne regkry – DA

(Argieffoto: Unsplash)

“Die waarheid is terwyl Suid-Afrika die verkoop van gaar kos en tabakprodukte verbied het en Suid-Afrikaners aangesê het wat hulle mag aantrek, het ander regerings hard gewerk om entstof te bekom en verspreidingsplanne te beraam vir een van die vier beskikbare Covid-19-entstowwe.”

Só het die DA-leier, John Steenhuisen, Maandagaand gesê ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat Suid-Afrika weer op vlak 3 van afsondering is in ʼn hernieude poging om die tweede vlaag van die pandemie te stuit.

Volgens Ramaphosa werk Suid-Afrika hard om verdere infeksies te verhoed, terwyl hy ook probeer verseker dat die land billike toegang tot ʼn doeltreffende Covid-19-entstof kry.

Suid-Afrika is deel van die internasionale Covax-entstofprogram.

“Ons kan bevestig dat ons die ooreenkoms met Covax aangegaan het en die Solidarity Fund het die aanvanklike betaling van R283 miljoen aan die fasiliteit gemaak.”

Volgens Ramaphosa is Suid-Afrika een van die eerste groep lande wat ʼn toewysing entstof van Covax sal ontvang. Hy sê dit behoort in die tweede kwartaal van aanstaande jaar beskikbaar te wees.

Die president het gesê daar is ook samesprekings met verskeie entstofvervaardigers en verdere aankondigings sal gedoen word sodra ooreenkomste aangegaan is.

“As ʼn land moet ons ʼn sterk vennootskap tussen die regering en die sakesektor bou om die hulpbronne wat benodig word om bykomende entstof te finansier wat nodig is om kudde-immuniteit op te bou, te versterk.

“Ons werk daaraan om ʼn voldoende voorraad entstof so gou moontlik te verseker om die kwesbaarstes in die gemeenskap te beskerm.

“Tot dan het ons geen ander keuse as om die hoogste vlak van waaksaamheid te handhaaf nie en om onsself en ander op elke moontlike manier te beskerm.”

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Maandagaand se aankondiging. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Steenhuisen sê Ramaphosa het egter aanvanklik gesê Suid-Afrika gaan die entstof reeds in die eerste kwartaal van 2021 ontvang.

“Die doelpale is nou weer verskuif na die tweede kwartaal. Die besluiteloosheid en tydmors bewys net dat die regering die spoor byster geraak het oor ʼn entstof wat reeds weke gelede beskikbaar gestel moes word.”

Steenhuisen sê afsondering en ʼn verbod op sekere dinge is nie ʼn volhoubare oplossing nie en hoewel dit korttermynoplossings mag bied, rig dit geweldige en langdurige skade aan die ekonomie en mense se inkomste aan.

Die DA-leier sê Ramaphosa moet dringend meer duidelikheid gee oor die beskikbaarstelling van die entstof.

“Suid-Afrika het nie ʼn taakspan nodig vir hierdie dringende behoefte nie. Ons moet weet watter entstof goedgekeur is, wanneer dit hier gaan aankom en wat die plan is om dit vinnig beskikbaar te stel.

“Ons moet voorts weet watter Suid-Afrikaners geprioritiseer gaan word en watter regulatoriese owerhede hulle voete sleep om die grensverskuiwende mediese ontwikkeling goed te keur.”

Steenhuisen sê ʼn entstof is die enigste oplossing en die enigste alternatief vir afsondering wat nie meer ʼn volhoubare of lewensvatbare manier is om die verspreiding van die virus te stuit nie.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het vroeër gesê die regering “behoort entstof te koop pleks daarvan om die geld te steel” wat veronderstel is om die virus te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.