SA vrou bereik piek van Everest

Marlette de Jager op die piek van Everest. (Foto: Verskaf)

’n Johannesburgse vrou (41) het sowat twee weke gelede die piek van Everest bereik.

Dít nadat sy tydens haar eerste poging in 2015 ’n sneeustorting weens ’n aardbewing by die basiskamp van Everest in Nepal oorleef het. Minstens 22 klimmers het dié betrokke dag in April 2015 nie die sneeustorting oorleef nie.

Sy is die sesde vrou van Suid-Afrika om dié merkwaardige oorwinning te behaal.

Marlette de Jager, bergklimmer en motiveringspreker, het nou reeds ses van die sewe vastelande se hoogste pieke ter wêreld, ook bekend as die “Seven Summits”, geklim.

Haar mylpale sluit in Kilimandjaro (Afrika) in 2000, Berg Elbrus (Europa) in 2010, Aconcagua (Suid-Amerika) en Berg Denali (Noord-Amerika) in 2014, sowel as die Carstensz-piramide (Australasië) in 2019.

En nou Everest.

De Jager vertel dat sy aanvanklik destyds ná die sneeustorting gedink het dat sy nooit weer na Everest sou terugkeer nie. Sy was egter geïnspireer toe haar medeklimmer Wilmien van der Merwe in 2017 die piek van Everest bereik het nadat sy ook die verwoestende aardbewing en sneeustorting oorleef het.

“Niks sal jou ooit werklik vir Everest voorberei nie,” vertel De Jager Vrydag aan Maroela Media.

Sy het op 12 Mei die piek van Everest saam met die Ierse klimmer Noel Hanna wat ook in Suid-Afrika woon, bereik.

Marlette de Jager en Noel Hanna nadat hulle die piek van Everest bereik het. (Foto: Verskaf)

Hulle het deurnag van Kamp Vier deur die sogenaamde doodsone tot die kruin geklim. Die doodsone verwys na die punt bo 8 000 m waar die suurstof onvoldoende is om mense vir lank aan die lewe te hou.

Dié klim het sowat 13 ure geduur voordat De Jager en Hanna die kruin omstreeks 08:20 bereik het. Hulle het maar 15 minute op die kruin deurgebring voordat hulle weer na onder moes begin klim.

“Mense dink daardie oomblik is so triomfantelik. Om eerlik te wees, dit is nie. Die kruin is die halfpadmerk.”

Sy vertel dat die pad onder toe vinniger gaan, hoewel dit baie gevaarliker is. De Jager en Hanna het weer Kamp Vier na vier tot vyf ure se klim bereik.

Dit was egter eers op 14 Mei toe sy weer die basiskamp bereik, dat dit by haar ingesink het dat sy werklik die piek bereik het. “Ek het in trane uitgebars. Ek was gedaan. Dit het my fisiek, emosioneel en geestelik getap, maar die oorweldigendste gevoel was dankbaarheid. Dankbaarheid dat ek lewe en ongedeerd is.”

Sy vertel dat twee ander klimmers in daardie stadium op pad onder toe gesterf het – die een net nadat hy of sy die piek bereik het en die ander by Kamp Vier. Dié klimmers het nie saam met De Jager geklim nie.

“Dit was brutal,” vertel De Jager.

Marlette de Jager (Foto: Verskaf)

Selfs na enkele weke het dit steeds nie ingesink wat sy vermag het nie. “Dit voel nog nie werklik nie.”

Sy vertel dat sy geensins anders voel nie, hoewel sy besef dat sy tot veel meer in staat is as wat sy aanvanklik gedink het. Sy het in dié stadium nog geen planne oor wanneer sy haar laaste piek van die Seven Summits – Berg Vinson (Antarktika) – wil aanpak nie.

Vir nou gaan sy eers die oorwinning van die magtige Everest geniet.

Vinnigste klim na onder

Die uitsig vanaf die kruin van Everest. (Foto: Verskaf)

’n Klimmer van Hongkong is intussen aangewys as die vinnigste vrou om die kruin van Everest te bereik. Tsang Yin-hung (44) het die klim binne 25 uur en 50 minute voltooi.

“Sy het die basiskamp Saterdag omstreeks 13:20 verlaat en die kruin die volgende dag omstreeks 15:10 bereik,” het Gyanendra Shrestha, ’n skakelbeampte van die Everest- basiskamp, aan AFP gesê.

Tsang het in 2017 die eerste vrou van Hongkong geword om die kruin te bereik. Dit was haar derde poging.

Die vinnigste vrou voor Tsang om die kruin te bereik was die Nepalees Phunjo Jhangmu Lama. Sy het die klim in 39 uur en 6 minute voltooi.

Volgens die plaaslike departement van toerisme het tot 350 mense reeds hierdie seisoen die kruin van Everest bereik.

Nepal het vanjaar ’n rekord van 408 klimpermitte uitgereik nadat die seisoen verlede jaar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Lyk lekker koud daar….wens ek was nog jonk genoeg om soe iets aan te durf maar ek sal maat gelukkig wees met my Twee Ocean wedloope en my Argus Fiets Toere. Dink nie op my ouderdom sal die bene en die longe op Everest hou nie. Veels geluk Marlette….dit wil gedoen word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.