SA vullisterreine ʼn gemors

Foto ter illustrasie (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Slegs 17,5% van 161 vullisterreine in Suid-Afrika wat geoudit is slaag die minimumvereistes soos uiteengesit in die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, lui AfriForum se jaarlikse vullisterreinouditverslag.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ʼn gebrek aan bekwame personeel is maar ʼn paar van die probleme wat ons daagliks ondervind,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

Niemand aanspreeklik

Volgens De Klerk is die grootste probleem egter “dat daar amptenare in munisipaliteite is wat nie die wil en/of die kennis het om die terreine te bestuur nie” – ʼn probleem wat nie maklik aandag kry nie omdat munisipale amptenare “nie verantwoordbaar gehou word vir hul nalatigheid nie”.

“Dit wil voorkom asof die nasionale regering die wilskrag het om ʼn verbetering op plaaslike vlak te sien, maar die provinsiale en plaaslike regerings deel nie hierdie sentiment nie en/of beskik nie oor die bevoegdheid om dit te doen nie,” voeg De Klerk by.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake wat verantwoordelik is vir vullisterreine word deur drie verskillende regeringsfere beheer.

In die eerste plek is daar die nasionale departement wat nét die bevoegdheid het om wetgewing, beleid en standaarde op nasionale vlak daar te stel. Die provinsiale departement rapporteer weer aan die provinsiale LUR, eerder as die minister. Munisipaliteite rapporteer dan weer aan die burgemeester as politieke hoof en nie aan die provinsiale of nasionale owerhede nie.

Met te veel mense wat “in beheer” kan wees, neem niemand uiteindelik verantwoordelikheid vir die probleem nie.

(Foto: Verslag)

“Elke regeringsfeer het sy eie politieke agenda en die amptenare moet die politieke leiers op die vlak waar hulle werk, gelukkig hou” wat op die ou end net “wrywing en teenstrydighede” veroorsaak. Die drie regeringsfere sukkel verder om suksesvolle samewerkende regering tussen regeringsvlakke te beoefen soos die Grondwet vereis.

Simptoom van wanfunksionaliteit

De Klerk meen vullisterreine se wanfunksionering is net nog ʼn bewys van hoe groot die probleem met munisipale dienslewering op voetsoolvlak is.

(Foto: Verslag)

Sedert die begin van dié oudit in 2014 het verskeie vullisterreine gesluit met talle ander wat volgens hulle lisensievoorwaardes reeds toegemaak moes gewees het, maar steeds oop is.

Dit skep diensleweringsvakuums in verskeie dorpe wat “waarskynlik tot onwettige storting sal lei”.

“Dit is kommerwekkend omdat dit nou al vir twee agtereenvolgende jare so is. Daar is selfs vir een van die terreine al in 2013 ʼn kennisgewing uitgereik dat dit toegemaak moet word, maar dit is steeds operasioneel.”

Volgens De Klerk is AfriForum ook bewus van die jongste kwessie wat nou op voetsoolvlak begin kop uitsteek en dit is dat heelwat terreine wat nog voldoende lugspasie het, kennisgewings ontvang om te sluit.

“Daar word dan beoog om gesamentlike distriksvullisterreine vir tussen drie tot vier dorpe oop te maak. Dit gaan egter net die probleme verskuif wat tans ervaar word.”

Alternatiewe oplossings nodig

De Klerk is van mening dat munisipaliteite na oplossings moet begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ʼn aanvaarbare standaard te kry.

“AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ʼn skoner Suid-Afrika bydra.”

As deel hiervan vergader AfriForum se omgewingsakespan sedert die einde van 2019 met verskeie deskundiges in die vullisbedryf, waaronder Unisa, die UWK, die WNNR, The Waste Group en ander private maatskappye in ʼn gesamentlike poging om die probleem op te los.

Hulle skakel ook met verskeie munisipaliteit en private rolspelers in ʼn poging om die diensleweringsleemte te help vul en roep munisipaliteit in hofsake tot verantwoording waar nodig en moontlik.

“Sonder om die wiel te herontdek kan ervaring, kundigheid en die gebruik van bewese tegnologie gedeel word, wat kostedoeltreffend vir staatsinstansies sal wees” deur openbare/private vennootskappe aan te moedig wat uiteindelik net tot “beter en kostedoeltreffende dienste” sal lei.

Privaatsuksesverhaal

Die verslag wys die JB Marks-plaaslike munisipaliteit in Potchefstroom uit as navolgenswaardige voorbeeld wat ʼn daadwerklike ommekeer gemaak het en ʼn bekwame private onderneming aangestel het om by die vullisterrein uit te help.

Dit blyk duidelik uit dié terrein se ouditresultate wat sedert 2020 vanaf 16% tot 98% in 2023 gestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Delia ·

Die gemmenskap moet ernstig begin met herwinning. Daar is reeds organisasies in plek, maar te min van die publiek maak gebruik daarvan.

Karoo ·

Hier in die platteland was ‘n herwinings organisasie vir 4 jaar. Die gemeenskap het baie goed saam geweek. Toe stoot die staat die minumum loon op en die besigheid kon dit nie bekostig nie. Dit loop toe dood… maar daardie “dood” skep toe lewe vir sak-krappers wat hulle vangs na die skroot werf mense vat…. so veel floreer die besigheid dat daar ‘n TOPS is reg langs aan. Dis’ n skande voorwaar.

Miss J ·

Nie net is ons vullis terreine ‘n gemors nie. ALLES waaraan die ANC raak is ‘n gemors

Marius ·

Is dit al in die land wat n gemors is ????
Ek reken alles waaraan die anc klomp vat is n gemors.

Nicholaas ·

Die vullis terreine is boonop besig om in misdaad hole te verander.

Karoo ·

Ek voel eerder dat vervaardigers verantwoordelik gehou moet word vir hulle verpaking wat nie omgewings vriendelik en herwindaar is nie. Eerste wat belas moet word is plastiek baba doeke…. want dit breek glad nie af nie en is ons nuwe nasionale blom hier in die platteland. Dan ook polistriene verpaking vir weg neem eetes, nog ‘n euwel waarmee weg gedoen kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.