Saai nader hof oor regulasies vir jag

(Foto: pixabay)

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) het Woensdag ’n dringende aansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ingedien om die verbod op reis tussen provinsies vir bestaansjagdoeleindes op te hef. Saai is ’n organisasie wat die regte en belange van familieboere – onder wie wildboere – beskerm.

Die aansoek is namens 368 wildplaaseienaars en -bedieners ingedien en het ten doel om voorskrifte 2, 3(a) en 3(b) van die gewysigde riglyne met betrekking tot die biodiversiteitsektor tersyde te stel. Dié regulasies is op 28 Julie 2020 in die Staatskoerant bekend gemaak en bepaal dat jagters net in die provinsie waar hulle woon, mag jag. Eienaars van jagplase mag ook nie verblyf aan jagters verskaf nie.

Vanweë Covid-19 en die daaropvolgende inperking is bestaansjag eers tydens vlak 3 toegelaat met die bekendmaking van die gewysigde biodiversiteitsriglyne op 5 Junie 2020 – meer as ’n maand ná die aanvang van die jagseisoen. Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het op 22 Junie 2020 in ’n brief aan Saai bevestig dat mense oor provinsiale grense mag reis vir bestaansjagdoeleindes. “Ons is bewus van die feit dat wildplaaseienaars ’n dringende behoefte daaraan het om ’n inkomste te genereer wat broodnodig is vir die suksesvolle voortsetting van die sakeondernemings,” lui die brief.

“Suid-Afrikaanse wildboere kon nie vanjaar internasionale jagters ontvang nie, wat ’n verlies van omtrent R2 miljard in inkomste tot gevolg gehad het. Om dié rede was ons verlig toe daar aangekondig is dat bestaansjag toegelaat word,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. “Met die bystand wat Saai aan mense gebied het, is daar vanjaar tussen 5 Junie en 28 Julie meer as 18 000 reispermitte vir jagdoeleindes uitgereik, want ons het besef dit is die enigste inkomste wat wildboere vanjaar sou verdien.”

Rossouw sê die gewysigde riglyne wat op 28 Julie uitgereik is, het dus almal in die bedryf onkant betrap. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het haar besluit op 31 Julie verduidelik deur te sê jagters mag by hul jagbestemmings oornag indien dit in die provinsie is waar hulle woon.

“Ons data toon dat omtrent 88% van jagters buite hul eie provinsies gaan jag. Die verbod op reis tussen provinsies is dus ’n reuseslag vir ’n bedryf wat ongeveer R12 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra,” voeg Rossouw by.

Saai is oortuig dat die jongste regulasies die grondwetlike regte van wildboere skend, uiters vaag is en – wat besluitneming asook prosedure betref – op ’n irrasionele wyse opgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Moet alles met hierdie ANC in die hofe opeindig? Is hulle net te dom om vir hulself te dink, en die hofe moet dit vir hulle doen. Dit is net vir hulle te lekker want hulle gebruik belastinbetalers se geld om ‘n geding te beveg, terwyl ek en jy ons eie geld moet gebruik, en instansies soos Solidaritet en AfriForum moet hulle lede se geld gebruik. Is daar al ooit ietsie gehaat soos die ANC?

Alleen Wolf ·

Die howe se uitsprake laat ook veel teweense oor deesdae, wonder partykeer hoe korrup die regters is.

koos10 ·

‘n Jagter(s), gewoonlik nie meer as 4 per voertuig nie, mag nie provinsiale grense kruis nie. Hulle ry na ‘n plaas en gaan uit in die natuur, gewoonlik net 2 saam (baie keer deel die twee ook ‘n huis).
MAAR taxis mag 70% kapasiteit (dis so 27 tot 51 mense) oor provinsiale grense heen ry sonder probleme. 1000de mense mag op ‘n begrafnis van ‘n kader saam drom en dan vertel die ANC vir ons dat dit nie hulle plig is om aan mense te vertel wat hulle mag doen waar hulle bly nie.

#Stopthismadness

Rudolph ·

Jammer ek is nie jammer vir die bedryf nie. Teikenskiet op weerlose, onskuldige diere is ‘n lafhartige daad dit maak nie saak hoe ons dit probeer spin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.