Saak teen oudsportafrigter gaan voort

hof-hamer

Argieffoto

Die saak teen ʼn voormalige afrigter van die Bryanston High School rakende bewerings van seksuele teistering gaan voort nadat sy aansoek vir die hersiening van die besluit om hom te vervolg onsuksesvol was.

Dit het Dinsdag in die landdroshof in Alexandra, Johannesburg, aan die lig gekom dat die direkteur van openbare vervolging die 33-jarige man se aansoek van die hand gewys het. Dit is nie duidelik op watter gronde die beskuldigde die besluit om hom te vervolg wou laat hersien nie.

ʼn Sewentienjarige leerder het die beweerde seksuele teistering vroeër vanjaar aangemeld. Sedertdien het nóg drie klaers na vore gekom.

Maroela Media het vroeër berig die afrigter is in Maart vanjaar afgedank, nadat die departement van onderwys hom aanvanklik geskors het. Hy is ná ʼn tugverhoor skuldig bevind aan finansiële wanbestuur en seksuele teistering.

Hy is op 17 Januarie verlede jaar in hegtenis geneem in verband met die dade wat hy glo van 2017 tot verlede jaar met leerders gepleeg het. Die beweerde voorvalle het glo by sportwedstryde en tydens skooluitstappies plaasgevind.

Hy moet weer op 4 Februarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.