Saak teen ‘plaasaanvallers’ laat vaar

Argieffoto

Die saak teen vier verdagtes wat aanvanklik met twee plaasaanvalle in Franklin in KwaZulu-Natal verbind is, is laat vaar weens ʼn gebrek aan bewyse.

Die verdagtes is verlede Dinsdag saam met twee ander in hegtenis geneem ná ʼn aanval op die plaas Newlands. Volgens Jacques Naude, eienaar van Prestige Security, is die vier in ʼn Range Rover in die omgewing van Kokstad aangekeer en later as drie lede van die polisie en die eienaar van ʼn sekerheidsmaatskappy geïdentifiseer.

Hulle is met ʼn polisieweerkaatserbaadjie, 58 patrone en vier ongelisensieerde vuurwapens, waaronder twee jaggewere en twee pistole, betrap.

Prestige Security het op die plaasaanval reageer.

Volgens Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die klagte teen die vier verdagtes in die Range Rover kort daarna laat vaar weens ʼn gebrek aan bewyse.

Maroela Media het vroeër berig Newlands is vir ʼn tweede keer binne ʼn week deur dieselfde rowers geteiken. Die rowers het hulle met albei voorvalle as polisiebeamptes voorgedoen, wat ʼn saak van geldwassery ondersoek.

Goeie samewerking tussen sekerheidsmaatskappye, boere en polisie het daartoe gelei dat ses verdagtes Dinsdagaand ná die tweede aanval vasgetrek is.

Een wag van Prestige Security is tydens ʼn skietery tussen die veiligheidswagte en verdagtes gewond. Die polisie se inligting dat niemand tydens die skietery beseer is nie, was nie korrek nie.

Hy is die naweek uit die hospitaal ontslaan.

Naude sê sekerheidskameras op die distrikspad het ná die eerste aanval voorverlede Woensdag die verdagte motors se nommerplate geïdentifiseer, soos die motors by die plaas uitgery het. Dit het die sekerheidsmaatskappy in staat gestel om die motors se nommerplate met die tweede voorval Dinsdag vroegtydig te identifiseer.

“Die boere van omliggende plase is voorverlede week oor die aanval en die verdagte voertuie in kennis gestel. Toe dieselfde boer Dinsdag weer oor die plaaswagradio om hulp roep, is ons en ander sekerheidsmaatskappye na die plaas gestuur,” vertel Naude.

Volgens Naude het die verdagtes baie oortuigend as polisiebeamptes voorgekom omdat hulle polisieweerkaatserbaadjies aangehad en baie selfversekerd opgetree het. Hulle het selfs ʼn deursoekingslasbrief gehad.

Teen die tyd dat boere en beamptes van sekerheidsmaatskappye op die toneel opgedaag het, het van die verdagtes reeds in twee voertuie gevlug. Die oorblywende twee voertuie is op die erf vasgekeer en die res van die verdagtes het begin loop in ʼn poging om te vlug.

“Een van my wagte het die verdagtes wat te voet probeer vlug het, in sy motor agternagesit. Die verdagtes het hom uit die motor geruk om die motor te probeer kaap. Die wag het teenstand gebied en hulle het hom in die maag met ʼn pistool geskiet. Van die ander wagte wat ook te voet agternagekom het, het gesien wat gebeur, waarna ʼn skietery uitgebreek het. Die verdagtes het sowat 40 skote op my manne – met R5-aanvalsgewere – afgevuur en toe gevlug.”

Volgens Naude is die gewonde wag op die toneel gestabiliseer en die wond was nie lewensgevaarlik nie.

“Die koeël het deur sy koeëlvastebaadjie en in die regterkant van sy maag ingegaan, skuins opgegaan en onder sy arm vasgesit.”

ʼn Helikopter het die gewonde wag na ʼn private hospitaal in Kokstad gehaas sodat die koeël uitgehaal kan word. “Die dokters was bang die koeël skuif en hulle wou dit so gou moontlik uithaal.”

Die wag is na ʼn private hospitaal in Margate oorgeplaas voordat hy Saterdag ontslaan is.

“Hy is nou buite gevaar en herstel goed. Ons is dankbaar dit het nie erger uitgedraai nie.”

Die polisie het op die toneel beslag gelê op die twee voertuie, wat albei valse polisienommerplate gehad het.

“Nóg ʼn motor, ʼn Hilux, is later in Kokstad opgespoor en twee insittendes is in hegtenis geneem.”

Die vierde motor, die Range Rover, is ook in die omgewing van Kokstad voorgekeer en die vier insittendes in hegtenis geneem.

Die twee verdagtes – wat wel klagte van poging tot moord en roof met verswarende omstandighede teen hulle het – sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Kokstad verskyn. Hulle bly tot dan in aanhouding.

Volgens Naude werk die sekerheidsmaatskappy nou saam met die polisie om nog moontlike verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

As ek dit reg verstaan is dit 3 lede van die polisie wat betrap is met, onder andere, ongelisensieerde vuurwapens.
Dit op sy eie is genoeg om my en jou in die tjoekie te laat beland – so hoe word hulle vrygelaat a.g.v. gebrek aan bewyse?

AH ·

Wil ek ook weet….. Aan die ander kant maak dit tog sin aangesien die polisie be trokke is…..

Frederik C ·

Die NVG is net nog ‘n ANC tentakel. Die berig laat my terugdink aan die Brendin Horn moord. Polisielede betrokke ??

Jannie van Niekerk ·

Gebrek aan bewyse?! Ek het my bedenkinge oor daardie landros…

ES ·

Jannie, die staatsaanklaer besluit gewoonlik of daar genoegsame bewys is om met die hofsaak te begin voordat dit aan ‘n landdros voorgele word… ek dink baie keer die bedrog begin op daardie vlak.

ES ·

Hoe word die saak laat vaar as hulle betrap is met ongelisensieerde vuurwapens??? HOE??

Ten minste word hulle in aanhouding gehou en word beskuldig vanf roof en poging tot moord. Skokkend.

Pieter ·

Die ongelesiensieerde vuurwapens is n baie ernstigge oortreding van die wet, en vir dit moet hulle aangekla word. Of hulle nou betrokke was by die aanval of nie, hulle moet aangekl word

Manie ·

Volgens Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die klagte teen die vier verdagtes in die Range Rover kort daarna laat vaar weens ʼn gebrek aan bewyse.

Wat dan van die ongelisensieërde vuurwapens????????

Frank ·

Wanneer kan daar wetgewing kom wat landroste aan die kaak stel oor hierdie tipe van besluite????

Jakes ·

N sirkus verhaal met verskeie narre is maar tiperend van die norm in SA.

Chris ·

Die voorval kan probleme/uitdagings skep. Die reg neem sy eie gang ten koste van wie. Daar word erger teen kleiner misdade as plaasaanvalle opgetree. Dit kan enige wending neem maar ek glo nie of altans ek hoop nie so nie. Die burgery en wetsgehoorsame mense word marginaliseer. Die punt kan/gaan bereik word waar wet in eie hande geneem word. In sekere groepe word dit reeds gedoen. Ek hoop ek is verkeerd, die dag kom elke dag nader.

Mariana ·

Gebrek aan bewyse…..terwyl hulle met genoeg bewyse betrap is. So kyk hulle mos na mekaar. Die landdros is heel duidelik nie besig om sy werk te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.