ʼn Saak teen verskeie staatsdepartemente om te probeer verhoed dat vier kinderversorgingsentra gesluit word, is in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgestel.
“Die saak is uitgestel tot ʼn latere datum wat nog bepaal moet word, moontlik in Mei-maand,” het John Smyth, woordvoerder van die Justice Alliance of South Africa (Jasa), gesê. “Dieselfde regter wat beveel het dat die beheerliggame van die ander drie skole as partye bygevoeg moet word, sal die saak aanhoor.”
Jasa daag die hof oor die sluiting van die kindersentra in Ottery, Die Bult, Eureka en Wellington. Die organisasie voer aan die ministers van maatskaplike ontwikkeling en onderwys in die Wes-Kaap het ongrondwetlik en onwettig opgetree, en die Kinderwet oortree.
Die kinders is na ʼn plek geneem wat vir misdadigers ontwerp is. “Dit kan nie in die beste belang van die kinders wees nie,” het Smyth bygevoeg.
Regter Lee Bozalek hanteer die verrigtinge.