Saftas 2022: En die wenners is…

‘n Safta-beeldjie. (Foto: Saftas/Facebook)

Die wenners van die 16de jaarlikse Saftas (Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings) is Vrydagaand aangekondig en verskeie Afrikaanse televisieprogramme is op dié aand vereer.

Multichoice se stroomdiens Showmax het 17 toekennings ingepalm insluitend beste dokumentêr vir Devilsdorp. 

kykNET het met 12 toekennings weggestap. Die geliefde Kaapse sepie Suidooster is aangewys as die beste Suid-Afrikaanse sepie. Die komedie G.I.L. en die drama 4 Mure het albei drie toekennings ontvang waarvan 4 Mure bekroon is as die beste TV-drama van die afgelope jaar.

Tydens Vrydagaand se geleentheid waar toekennings vir diegene wat agter die skerms werk toegeken is, het Binnelanders, Broer Toer en Nêrens Noord-Kaap die pryse in hul onderskeie kategorieë ontvang. Die ontslape Shaleen Surtie Richards het die prys vir Beste vroulike byspeler ontvang vir haar rol in die kykNET&kie telenovela Arendsvlei.

Broer Toer is as die beste leefstylprogram aangewys terwyl VIA se misdaadreeks Die Staat Teen ’n Safta ontvang het vir beste feiteprogram. Die musiekprogram Musiek Roulette is aangewys as die beste vermaakprogram.

Binnelanders is vereer vir die beste prestasie in vervaardiging vir ’n televisiesepie (Danie Joubert) terwyl Nêrens, Noord-Kaap ’n beeldjie ontvang het vir beste prestasie in redigering van ’n TV-drama.

(Grafika: kykNET)

Verskeie Engelse rolprente en programme is óók vereer.

Die Suid-Afrikaanse distopiese riller Glasshouse op Showmax was een van die groot wenners. Dié vollengteprent het verskeie toekennings in dié afdeling ingeryg. Dit sluit onder meer die beste prestasie in redigering (Rowan Jackson), kinematografie (Justus de Jager) produksie-ontwerp (Kerry von Lillienveld), kostuumontwerp (Catherine Mcintosh) sowel as grimering en haarstilering (Annie Butler) in.

‘Reyka’ (Foto: MNet)

Die televisiedrama Reyka is nié net vereer vir die beste prestasie in draaiboekskryf (Rohan Dickson) vir ’n televisiedrama nie, maar ook vir beste prestasie in regie (Catharine Cooke en Zwelesizwe Ntuli) en kinematografie (Tom Marais) vir ’n televisiedrama.

Die bekende telenovela Legacy is vereer met die prys vir beste draaiboekskryf vir ʼn telenovela terwyl die eTV-sepie Scandal ’n beeldjie ontvang het vir beste draaiboekskryf  vir ’n televisiesepie.

Die gewilde telenovela The River het ’n beeldjie ontvang vir die beste prestasie in oorspronklike musiek/partituur (Brendan Jury) vir ’n telenovela.

Die Showmax-trefferreeks Troukoors het ’n Safta ontvang vir beste prestasie in kinematografie (Fahema Hendriks) van ’n televisiekomedie.

Besoek die Saftas se Facebook-blad vir ’n volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Sal graag nog ‘n reeks van die “Toer Broers” wil sien, om te sien watter “straf” hulle vir mekaar uitdink, want dit is nogal entertaining praat nie eers van die klein plekkies wat hulle besoek om die kykers te wys mooi dit is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.