Saftu eis verslag oor polisie-optrede

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu) sê strategieë wat deur ʼn paneel kenners aanbeveel is hoe om uitdagings in die SAPD te takel en die polisiediens te transformeer, moet dringend bekendgemaak word.

“Kort ná die Marikana-slagting het die Farlam-kommissie sy verslag afgehandel oor openbareorde-polisiëring met aanbevelings vir die opleiding van polisiebeamptes wanneer hulle betogings hanteer. Die kommissie het ook versoek dat ʼn paneel kenners aangestel moet word om ondersoek in te stel oor die transformasie van uitdagings in die polisie,” het Zwelinzima Vavi, woordvoerder vir Saftu, Woensdag in ʼn verklaring gesê. “Die paneel het hul verslag in 2018 afgehandel en aan die polisieminister oorhandig. Die minister van polisie het egter tot dusver nog nooit die verslag vrygestel nie.”

Vavi sê sedert Marikana het die polisie nog nie sy hantering van betogings verander nie. “Dit lei gewoonlik tot beserings en sterftes. Polisiebeamptes wat lukraak rubberkoeëls en skokgranate afvuur op betogers, bly aan die orde van die dag. Dit is wat gelei het tot Mthokosizi Ntumba en Katlego Monareng se sterftes aan die hand van polisiebeamptes tydens betogings en talle ander gevalle van polisiegeweld en -moord wat nooit aangemeld is nie, maar in elke betoging ervaar en gesien word.”

Sean Tait, direkteur van die African Policing Civilian Oversight Forum (Apcof), sê polisiebeamptes in Limpopo, Gauteng, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap, het ʼn onverskillige roekeloosheid wanneer rubberkoeëls gevuur word. “Betogings word dus geteister deur chaos en beserings aangesien polisiebeamptes enige betoging – gewelddadig of vreedsaam – met mag benader.”

Vavi sê dit lei ongelukkig tot die verlies van lewens, aangesien aktiewe burgers en militante groepe van die werkersklas baklei teen besuiniging en korrupsie in die staatsdiens en uitbuiting en armsalige lone in die privaat sektor.

“Die willekeurige vuur van rubberkoeëls het tot die sterfte van Mthokosizi Ntumba in Braamfontein gelei – wat nie eers deel was van die betoging nie. Dit is ʼn bewys dat die polisie nie behoorlike opleiding het in die bestuur van betogings en openbare geweld nie. Hulle vuur koeëls en gebruik skokgranate selfs wanneer geen lewe of eiendom bedreig word nie. Dit is waarom die strategieë, wat deur die paneel kundiges aanbeveel is, hoe om uitdagings en transformasie in die SAPD aan te spreek, belangrik is.”

Saftu eis:

  • dat die verslag deur die paneel kenners oor transformasie en professionalisasie van die SAPD, wat by die minister van polisie ingedien is, onmiddellik vrygestel sal word; en
  • dat die lede van die polisie se portefeuljekomitee verwyder sal word omdat hulle versuim het om daarop aan te dring dat die verslag vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert ·

Regtig wanneer ‘n handvol polisielede voor ‘n oormag mense staan om hulle verwoesting te keer mag hulle niks doen nie, dan is hulle ook in die moeilikheid. Ek is jammer vir die sterftes maar as jy sien daar is moeilikheid dan gaan jy nie uit in die skares in nie jy wag dat hulle verby gaan. Die polisie weet nie wie en wat deel is van die optog nie so almal word oor dieselfde kam geskeer. Hulle het nie tyd om almal te vra wat is hulle agenda nie

Sarel ·

Tipies van Vavi….betogings en geweld tydens betogings wird voor die Polisie se deur geplaas.
1. Indien betoginngs vreedsasm verloop sal geweld nie nodig wees nie. Die Polisie moet pnder uiterse uittartinng hulle werk doen en eiendom en lewens beskerm masr is sedert Marikana al uitverkopp en dit gebeur steedz
Die Polisie pp grondvlak sit met Koripte en o bevoegde bestuur.
Die betogers is altyd reg en die Polisie verkeerd.
Mdnsd stem vir ‘n Party en dan betiig hulle teeen die Party wasr is die logika.

Charl ·

Maklik om kritiek te lewer en ondersoeke en verslae te eis wanneer jy op die kantlyn staan. Ek stem saam met Gert dat dit jammer is oor die gepaardgaande lewensverlies maar stuur hierdie slimjanne in die voorste linie in tydens geweldadige betogings waar polisielede self geteiken word dan kyk ons hoe lank dit Mnr slimjan vat voor hy homself bevuil. Sulke betogings is om die minste te sê senutergend en traumaties vir enige polisieman.

Elize ·

As hulle net wil ophou om mense volgens kleur aan te stel en te kyk na bevoegdheid sal hierdie land binne ‘n paar maande tot ‘n ommekeer kom.

Casper ·

Hoekom is die man met die hoed wat sy bek rek oor blanke boere nou so stil.Dit was sy opdrag dat polisielede hulself moet verdedig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.