Sake teen voormalige vroedvrou steeds ondersoek

Carien Möller en haar dogtertjie, Sophia (Foto: AfriForum)

Sake van strafbare manslag en poging tot moord teen Yolande Maritz, ʼn voormalige vroedvrou wat daarvan beskuldig word dat haar optrede babas dood of gestremd gelaat het, word steeds ondersoek.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid lewer tans bystand aan Carien Möller, Alysia von Kloëg en haar man, Brendon, in hul onderskeie sake teen Maritz, ’n voormalige vroedvrou van Pretoria.

Möller en die Von Kloëg-egpaar het onderskeidelik klagtes van strafbare manslag en poging tot moord by die SAPD teen Maritz ingedien nadat beweerde nalatigheid tydens geboorte glo tot die dood van die Von Kloëgs se babaseuntjie nege dae ná sy geboorte gelei het. Möller se dogtertjie is serebraal gestremd gelaat.

Die eenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie sake op.

Maritz het na bewering die aanbevole dosis Cytotec oorskry deur aan Möller twee tablette op een slag te gee waarna sy erge kontraksies begin ervaar het en haar baba in skok gegaan het tydens geboorte.

Alysia en Brendon von Kloëg (Foto: AfriForum)

Die polisieondersoek na die onnatuurlike dood van die Von Kloëg-egpaar se seuntjie volg ná bewerings dat Maritz nie gehoor gegee het aan die ouerpaar se bekommernisse oor abnormaliteite tydens die sonar wat op 24 weke gedoen is nie. Verder beweer Von Kloëg dat Maritz vir haar tablette gegee het wat skynbaar kalmeerpille was waarna sy etlike minute later kontraksies begin kry het en hul seuntjie sowat ’n uur later gebore is. Von Kloëg sê sy het geweet iets is fout omdat haar seuntjie abnormaal asemgehaal het en nie ’n geluid gemaak het nie.

Maritz is in 2021 deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging skuldig bevind aan nalatige en onprofessionele gedrag en permanent gederegistreer as vroedvrou. Sy het teen die bevinding geappelleer, maar dit is van die hand gewys.

Die privaatvervolgingseenheid het in Januarie vanjaar ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig oor die status van die sake wat teen Maritz geopen is. Die sake is volgens die NVG na ’n gespesialiseerde eenheid vir ondersoeke oorgeplaas.

“Ons is bemoedig oor hierdie verwikkeling en ons glo dat sy op al die kriminele klagtes teen haar moet reageer. Dit is egter kommerwekkend dat dit herhaalde ingryping van die privaatvervolgingseenheid verg om te verseker dat die strafregstelsel funksioneer soos dit moet,” het Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

De Villiers ·

Yolande Maritz was vir baie jong student en jong verpleegster ‘n rol model in Bloemfontein.

So en so dat party van hulle al vroeg besluit het hulle gaan by haar geboorte skenk omdat sy dit op die “mees natuurlike” manier doen.

Yolande Maritz het vir baie mense gejok!

Mallie ·

Mens gaan hospitaal toe en vertrou die klein bonfeltjie liefde wat aan jou toe vetrou is nie aan enige iemand anders se genafe behalwe aan ons Hemelse Vader nie.

blia ·

Dis nou al ‘n paar jaar sedert die vrou se streke aan die lig gekom het. Haar eie dogter het al teen haar getuig (Ek dink dit was op Carte Blanche onderhoud), en nou hoor mens sy is net van die mediese rol geskrap? Ek stem saam, Dis ‘n skande dat na al hierdie tyd die privatevervolgingsgesag moet intree omdat die polisie te treurig is om die vrou krimineel te vervolg. Swak!

ES ·

Privaat vervolging is die enigste uitweg. As sy niks het om weg te steek nie, kan sy maar mos in haar verdediging getuig?

Nettie ·

Hoe bitter hartseer. Sterkte aan al die ouerpare wat hierdeur geraak word. Mag geregtigheid geskied vir elkeen van julle en jul kosbare kindertjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.