Sakeliga hof toe oor afsonderingsregulasies vir sakeondernemings

Argieffoto (Pixabay)

Die organisasie Sakeliga het aangekondig hy gaan Vrydag stukke in die hof liasseer om te vra vir die verslapping van afsonderingregulasies. Dié regsaksie is daarop gemik om sakeondernemings sonder winsoogmerk se reg op handel sonder staatsuitgereikte permitte te beskerm, ongeag die afsonderingsvlak.

Sakeliga gaan die hof vra om alle permitvereistes, soos voorgeskryf deur die nasionale regering, tersyde te stel en wetstoepassers te verbied om ondernemings daaroor te belemmer.

Dit sal ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk in staat stel om voortaan op enige vlak van afsondering baie makliker sake te doen. Hulle sal geen CIPC-sertifikate, munisipale permitte, of enige ander permitte behalwe hul selfuitgereikte permitte hoef te vertoon nie. Sakelui en werknemers in klein en mediumgrootte ondernemings en organisasies sonder winsoogmerk sal veral belangrike beskerming teen onwettige inhegtenisnemings geniet.

Dit sal ook keer dat klein en mediumgrootte ondernemings benadeel word net omdat hulle nie CIPC-sertifikate kon bekom nie. Indien dié aksie slaag, sal geen organisasie met of sonder winsoogmerk meer aan bykomende munisipale, provinsiale of departementele Covid-19-verwante permitte onderworpe wees nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die regsaksie kom te midde van onregmatige inhegtenisnemings, belemmering en permitvereistes, selfs wanneer ondernemings na eie oordeel en op regsadvies maniere vind om binne die regulasies besigheid te doen.

“Plaaslike en provinsiale owerhede se reg om nie aan onregmatige permitvoorskrifte vanaf die nasionale regering gebonde te wees nie, sal eweneens ook versterk wees,” sê Le Roux.

Hy sê die regsaksie bevorder die behoorlike skeiding van magte wat tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede behoort te bestaan in ’n tyd wat die nasionale regering eensydige magsuitoefening probeer toepas.

Sakeliga verwelkom ook die golf van litigasie wat tans deur politieke partye, burgerlike organisasies, nywerhede en ander organisasies onderneem word. “Die regering tree eensydig, onregmatig, arbitrêr en skadelik op en die spektrum van litigasie sal dit kan versag,” sê Le Roux.

“Dit blyk dat die regering ongelukkig nie in konsultasie belangstel nie en eers reageer wanneer dit litigasie en ander vorme van openbare druk in die gesig staar,” sê Le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fedup ·

Call me stupid. For the life of me i cannot understand why we need any permit for anything in the first place. Get rid of all these permits. Its unnecessary. We are treated like prisoners in this country. Monday morning we will need a permit to breath.

Kokerboom ·

Handel moet vry en regverdig geskied onderhewig aan sekere basiese vereistes. Markkragte moet bevorder word. Geen staats of owerheidsinmenging. Versterk beleggersvertroue. Skep aansporings om nuwe en jong ondernemers in te trek. Ontwikkel ‘n sterk vervaardigingssektor en verminder Chinese markoorspoeling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.